Alle kerkbyeenkomste, uitgesluit begrafnisse met ’n beperking van 50 mense, is vir die volgende twee weke verbode ingevolge die aangepaste Vlak 4-beperkings wat van 28 Junie af geld.
Verteenwoordigers van die godsdienssektor is Sondagmiddag op ’n aanlynvergadering ingelig oor die strenger maatreëls en die impak wat dit op geloofsgemeenskappe mag hê. Al die leiers het die strenger inperking verwelkom, sê dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk.
Die strenger regulasies het veral ’n invloed op kerklike byeenkomste wat nie meer mag plaasvind nie. Claassen sê daar is gemeentes wat reeds net aanlyn eredienste aanbied sedert die aangepaste Vlak 3-beperkings twee weke gelede aangekondig is.
LEES OOK: Vredendal: Verslaenheid ná Covid dorp tref
Hy het bygevoeg dit lyk nie of huwelike kan plaasvind nie, maar hieroor sal uitklaring verkry word. Ook of ’n sogenaamde konsistorie-troue nog ’n opsie is.
Begrafnisse mag plaasvind met nie meer as 50 persone teenwoordig nie en geen byeenkomste na en voor die tyd nie.
Geen hospitaalbesoeke of besoeke aan ouetehuise word toegelaat nie.
Dié aankondiging op Sondagaand 27 Junie deur president Cyril Ramaphosa kom te midde van ’n skerp styging in Covid-19-infeksies wat hospitale, veral in Gauteng, reeds onder geweldige druk plaas.
“Daar is min mense in ons land wat nog nie ’n familielid, ’n vriend of ’n geliefde moes begrawe wat hulle lewe weens die siekte verloor het nie. Ons is in die greep van ’n verwoestende golf wat volgens alle aanduidings erger gaan wees as die vorige twee. Die piek van die derde vlaag lyk of dit hoër as die vorige twee sal wees,” het Ramaphosa gesê.
Hy het verduidelik die infasering van die strenger regulasies het ten doel om die vinnige verspreiding van die meer gevaarlike Delta Covid-19-variant te bekamp. Navorsing wys die Delta-variant is 60% meer aansteeklik as die Beta-variant wat tydens die tweede vlaag in Desember vir baie infeksies verantwoordelik was.
Die Delta-variant is ook meer virulent, wat beteken ’n groter waarskynlikheid bestaan dat mense meer ernstig siek kan word na infeksie. Kinders kan ook siek word.
Op Vrydagaand 25 Junie het die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) berig daar is 18 762 nuwe Covid-19-gevalle in Suid-Afrika geïdentifiseer waarvan 11 777 in Gauteng was (sowat 63% van alle nuwe gevalle).
Hospitale in Gauteng verkeer onder geweldige druk weens die skerp toename in opnames. Die grootste privaathospitale in die land, Mediclinic, Netcare, en Life Healthcare het reeds ’n pleidooi gerig tot groter waaksaamheid en selfregulering in gemeenskappe.
Die strenger regulasies sal vir twee weke geld waarna daar weer ’n afkondiging sal wees.
‘Hou op vals boodskappe oor inentingstowwe versprei’
Ramaphosa het met Sondag se ‘familievergadering’ weer ’n beroep gedoen op mense om nie ‘vals inligting’ oor die inentingstowwe op sosiale mediaplatforms te versprei nie, naamlik dat dit gevaarlik mag wees en ’n mens siek maak.
LEES OOK: Covid-19: Tyd vir meeloop is verby
“Ek het dit al voorheen gesê, en ek sê dit weer: Dink asseblief lank en mooi voor jy iets deel of aanstuur. Dink mooi oor die skade wat jy kan veroorsaak. Jy versprei paniek, vrees en verwarring op ’n tyd wat ons dit kwalik kan bekostig,” sê Ramaphosa.
Hoewel ’n inenting jou nie 100% vrywaar om siek te word van die Covid-19-virus nie, dui wetenskaplike uitslae daarop dat dit wel tans die mees effektiewe beskerming bied. Ramaphosa het weer mense, wat reeds kwalifiseer vir inenting, aangemoedig om te registreer op die regering se webwerf.
Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), ingesluit die NG Kerk, ondersteun die inentingsveldtogte.
Tans kwalifiseer persone in die mediese beroep, onderwysers asook persone ouer as 60 jaar. Vanaf 1 Julie kan persone 50 jaar en ouer ook registreer vir inenting.
Persone in die polisiediens en sekuriteitspersoneel kan vanaf 5 Julie inenting ontvang. Volgende sal gekyk word na inenting vir sleutel ekonomiese sektore soos die mynwese, vervaardiging en die taxi-bedryf.
Die verteenwoordigers van die godsdienssektor het weer ’n versoek gerig dat predikante, priesters, pastore en ander godsdienswerkers ook voorkeur mag geniet ten opsigte van inenting, het Claassen gesê. Terugvoer hierop word ingewag.
