Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Covid-19: Tyd vir meeloop is verby

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Suid-Afrika is vir meer as ’n jaar ingeperk. Terwyl daar aan die een kant wyd en syd verkondig is dat die inperking lewens red, het daar aan die ander kant ’n groter ramptoestand van armoede, werkloosheid en emosionele verwaarlosing ontwikkel. Dui­sende mense het hulle werk verloor, be­sighede moes hulle deure sluit, be­jaardes is die voorreg van geestelike versorging ontneem en gemeentes het finansieel onherroeplike skade gely. Die gevolge van die pandemie en die wyse waarop die regering dit hanteer het, gaan in die toekoms nog lank by ons spook.

LEES OOK: 10 Lesse ná ’n jaar van Covid-19

Om lewens te red – en niemand ontken dat die inperking wel gehelp het nie – moes gemeentes gehoorsaam aan staatsgesag soos nog nooit vantevore nie, op allerlei innoverende maniere ’n pad deur die chaos van die pandemie vind. Toe breek die dag aan waarop die owerheid aan wie ons almal ondanks onsinnige en onverstaanbare reëls gehoorsaam was, daad by die woord kon voeg. Met ’n effektiewe inentingsprogram kon ’n verwagte derde vlaag gekeer word en kon daar immers meer doeltreffend lewens gered word – en chaos volg! Teikendatums wat verskuif word, regeringsamptenare wat mekaar weerspreek en burokratiese rompslomp wat die vinnige verkryging van die korrekte entstof verhoed, word die lot van miljoene Suid-Afrikaners. Dit kan gewoon nie langer so voortgaan nie. Die tyd van bloot meeloop en die reëls gehoorsaam is verby! Die NG Kerk sal haar stem by dié van ander kerke moet voeg om te sê genoeg is genoeg!

LEES OOK: Wat Bonhoeffer ons oor kerkwees te midde van Covid-19 kan leer

Dit is egter nie net die huidige chaos wat die NG Kerk uitdaag om haar profetiese roeping in woord en daad te vervul nie. Die geskiedenis help ons om die omvang van die pandemie in die regte perspektief te plaas. ’n Soortgelyke pandemie het Suid-Afrika in September en Oktober van 1918 getref. Tydens die Groot Griep, soos wat dit bekend geword het, het daar in enkele maande meer as 350 000 mense uit ’n totale be­volking van 6 miljoen gesterf – wat 5,8% van die bevolking verteenwoordig het. As dit vergelyk word met die jongste syfers vir Covid-19: 53 000 sterftes uit ’n bevolking van meer as 60 miljoen, wat 0,08% van die bevolking verteenwoordig, vertel dit sy eie verhaal. Die werklike omvang van die pandemie is veel kleiner as dié van die Groot Griep van 1918. Die skade aan mense se lewe is veel groter.

Daarom is die tyd van bloot meeloop verby. Sonder om roekeloos te wees, sal die NG Kerk helder en duidelik teen die huidige chaos moet standpunt inneem. Lidmate wat die afgelope jaar op talle terreine ’n hoë prys betaal het, verwag dit van die kerk.

  • Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top