Nuwe eenheidsmodel op die tafel om skeuring binne NG Kerk te vermy

Die NG Kerk soek ’n “eenheidsmodel waar diversiteit in die kerk gevier word en nie waar verdeeldheid bestuur moet word nie,” meen dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk.

Daardie soektog het vandeesweek verder lyf gekry toe die groep dolerende gemeentes binne die kerkverband die skep van ’n sinode van behoudende gemeentes in die vooruitsig gestel het. “(Ons bepleit) nie kerkskeuring nie, maar ware kerkreformasie (terug na die Woord en belydenisskrifte),” lui ’n verklaring wat gevolg het op ’n beplanningsvergadering wat die Sentrale Werkgroep van Kairos Netwerk (KN) op Maandag 20 September in Pretoria gehou het.

Claassen het op 23 September aan Kerkbode bevestig dat “moontlikhede vir ’n hergroepering van ringe en sinodes” iets is waarna óók die NG Kerk se leierskap tans kyk.

LEES OOK: Selfdegeslagbesluit: Nuwe gids wil sinodes en lidmate help

Die Algemene Taakspan Regte (ATR) het opdrag gekry om moontlikhede in dié verband te ondersoek en is tans hieroor in gesprek met die leierskap van die Goudland Sinode,” aldus Claassen. “Metafore in die Bybel vir geloofsgemeenskappe wys telkens op die positiewe van diversiteit en dat dit tot die welwese van ’n geloofsgemeenskap is,” sê Claassen.

Die uitdaging vir die kerk is kennelik die feit dat KN en die sowat 80 dolerende gemeentes die einste strukture soos die Algemene Sinode (AS) bevraagteken. “Plaaslike gemeentes het geen direkte inspraak in die huidige AS van die NG Kerk nie. KN stel in die vooruitsig meerdere kerkvergaderings waar alle gemeentes direk verteenwoordiging sal geniet,” lui die KN-verklaring.

Die NG Kerk het sowat 1 094 gemeentes en 10 streeksinodes, wat Namibië insluit en geografies saamgestel is. Vanuit akademiese hoek was daar al stemme wat gesê het wat ’n mens glo – eerder as waar ’n mens woon – moet bepaal by watter streeksinode van die NG Kerk jy inval. Daar is soms groot teologiese afstand tussen naburige gemeentes en dit veroorsaak frustrasie “wat niemand help nie”, het prof Johan van der Merwe tydens ’n lesing by die onlangse Lentekonferensie gesê.

LEES OOK: Treur oor mense, eerder as standpunte

Die NG Kerk het trouens lank reeds ’n eerste stap in so ’n rigting gegee, het Van der Merwe met verwysing na die sogenaamde “stippellyngrense” gesê, wat sedert 1994 geld en waarvolgens lidmate self kan kies om by ander NG gemeentes in te skakel as bloot kaartgebonde voorskrifte. “Daar is g’n sin dat lidmate by enige gemeente kan inskakel maar ringe mag nie by ander sinodes inskakel nie,” meen Van der Merwe, wat kerkgeskiedenis en kerkreg aan die Universiteit van Pretoria doseer.

Die gevaar van ’n soort 11de sinode vir behoudendes is dadelik uitgewys. Die joernalis Neels Jackson het tydens die vraag-en-antwoord-deel van die Lentekonferensie-voorlegging gesê so ’n hergroepering sal moontlik die konflik in die NG Kerk “institusionaliseer”.

“As ons in 1986 of in 1990 (toe die kerk diep verdeeld was oor Kerk en samelewing) gemeentes en ringe en sinodes toegelaat het om volgens oortuiging te hergroepeer, waar sou dit die NG Kerk gelaat het? Sou ons nie die teologiese regverdiging van apartheid in party dele van die kerk geïnstitusionaliseer het nie?” wou Jackson weet.

Die spanning wat tans binne die kerk heers, draai veral om die AS se 2019-sinodebesluit oor selfdegeslagverbintenisse. Volgens die besluit erken die Algemene Sinode dat daar kerkrade en predikante is wat nie hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie, asook kerkrade en predikante wat wel hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig. “Die sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word, om volgens hulle oortuiging op te tree, bevestig.”

KN verskil dus van die ruimte wat binne die NG Kerk bestaan. “Die AS se on-Bybelse besluite kan nie aan kerkrade oorgelaat word terwyl hul alreeds ’n taakspan vir implementering van bv. ’n nuwe formulier vir selfdegeslagverhoudings opgestel het nie,” lui die jongste KN-persverklaring

Word 'n vriend van Kerkbode