#Lentekonferensie – Dag 1: Tyd dat NG Kerk nuwe grense trek?

Wat jy glo eerder as waar jy bly, moet bepaal by watter streeksinode van die NG Kerk jy inval, meen ’n prominente kerkhistorikus.

Daar is soms groot teologiese afstand tussen naburige gemeentes en dit veroorsaak frustrasie “wat niemand help nie”, aldus prof Johan van der Merwe.

LEES OOK: #Lentekonferensie – Dag 1: ‘Draers van God se hoop in ’n wanhopige wêreld’

“Ek soek na maniere om die eenheid van die NG Kerk bymekaar te hou,” het Van der Merwe Dinsdagmiddag (14 September) gesê aan die einde van ’n voorlegging met die titel: “Terug na die toekoms – Die NG Kerk en kerkverband.” Hy was een van ’n groot klomp sprekers wat ’n wye verskeidenheid van onderwerpe verken het op die eerste dag van vanjaar se virtuele Lentekonferensie.

LEES OOK: ‘Wegbreek-praatjies benadeel kerk se beeld’

Van der Merwe, wat kerkgeskiedenis en kerkreg aan die Universiteit van Pretoria doseer, wou die “skoppelmaai van geskiedenis” so ver moontlik terugstoot voor hy na die toekoms kyk. Sy opsomming? Die gom van Afrikanernasionalisme, wat bygedra het tot die stigting van die NG Kerk se Algemene Sinode in 1962, het deeglik losgekom onder lidmate. En die grense waarlangs die NG Kerk haar tien streeksinodes indeel, het histories grootliks met geopolitiese en administratiewe oorwegings te doen. Die voorstel? “Laat dié saamkom wat saam wil wees,” lui sy opsomming van ’n meer “spontane” as aardrykskundige benadering tot eenheid binne kerkverband.

“Tegnologie het afstand laat krimp. Eenheid in die kerk sal nie verder met grense en afstand afgedwing kan word nie,” meen prof Johan van der Merwe, kerkhistorikus en een van die sprekers op Dag 1 van vanjaar se Lentekonferensie.

Die NG Kerk het reeds ’n eerste stap in so ’n rigting gegee, het Van der Merwe met verwysing na die sogenaamde “stippellyngrense” gesê, wat reeds sedert 1994 geld en waarvolgens lidmate self kan kies om by ander NG gemeentes in te skakel as bloot kaartgebonde voorskrifte. “Daar is g’n sin dat lidmate by enige gemeente kan inskakel maar ringe mag nie by ander sinodes inskakel nie,” meen Van der Merwe, wat ook ’n gereelde Kerkbode-rubriekskrywer is.

Die joernalis Neels Jackson het tydens die vraag-en-antwoord-deel van die voorlegging gesê so ’n soort teologiese hergroepering sal moontlik die konflik in die NG Kerk “institusionaliseer”.

“As ons in 1986 of in 1990 (toe die kerk diep verdeeld was oor Kerk en Samelewing) gemeentes en ringe en sinodes toegelaat het om volgens oortuiging te hergroepeer, waar sou dit die NG Kerk gelaat het? Sou ons nie die teologiese regverdiging van apartheid in party dele van die kerk geïnstitusionaliseer het nie?

LEES OOK: Teologiese opleiding: Gesprek tussen dominee en voorsitter van algemene kuratorium

Kommer is ook uitgespreek teenoor Van der Merwe se aanname dat toenemende digitale vernuf onder lidmate en leraars afstand as ’t ware laat krimp. “So wonderlik as wat die tegnologie is om ons bymekaar te hou so beperkend is dit soms,” het een afgevaardigde laat hoor. “Ons ring wissel van Dullstroom, tot by Marblehall en Middelburg en Pullenshope. Ons het virtueel ringsitting gehou en sekere gemeentes kon nie bywoon nie as gevolg van beperkings op data en selfs kragprobleme. So die opsie om fisies bymekaar te wees, is soms belangrik. Ons leraars op die platteland mis die fisiese saamwees met kollegas.”

  • Hou Kerkbode dop vir nog beriggewing oor vanjaar se Lentekonferensie.
  • Lees Johan van der Merwe se DINKSTOF-rubrieke hier.
Word 'n vriend van Kerkbode

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Ons kommentaarbeleid

Lesersbydraes word goedgekeur voor dit verskyn en wel op grond van ons algemene gespreksriglyne wat kortweg as volg opgesom kan word: Meer lig as hitte. Verwag 'n vertraging tussen die instuur van jou kommentaar en die verskyning daarvan.