Daar het ’n groep van 14 predikante, drie emeritusleraars, vyf ouderlinge en drie NG lidmate op Vrydag 13 Augustus ’n byeenkoms in Namibië bygewoon om oor dolering en die pad vorentoe te praat.
Sola Scriptura (Latyn vir ‘Skrif alleen’), ’n gespreksplatform van predikante en NG lidmate in Namibië, het die byeenkoms gereël. Die platform is deur 19 predikante begin wat nie met die 2019-sinodebesluit oor selfdegeslagverhoudings saamstem nie, want hulle beskou dit as “in stryd met God se Woord en dus as ’n minagting van die gesag van God se Woord”.
LEES OOK: ‘Ons wankel nie in belydenis’ – Nelis
“Ons wil graag sien dat soveel as moontlik gemeentes doleer en so hulle standpunt inneem teen dwaalleer in die NG Kerk. Daarna hoop ons die Namibiese Sinode maak haarself volgende jaar los van die Algemene Sinode in terme van Artikel 37 … sonder bekering by die Algemene Sinode en suiwering van die teologiese opleiding sien ons geensins ons weg oop om saam met hierdie instellings vorentoe te beweeg nie,” sê ds Erik van Zyl, voorsitter van Sola Scriptura. Hy is ook sendingkoördineerder van Kunene vir Christus en medepredikant by Pionierspark-gemeente in Windhoek.
Die ‘dwaalleer’ verwys na die Algemene Sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings in 2019. Luidens dié besluit kan gemeentes self besluit watter standpunt hulle wil inneem oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.
By navraag van Kerkbode het Van Zyl breedvoerig uiteengesit hoekom hulle sê dat hulle nie langer in een kerkverband kan staan met die Algemene Sinode oor die 2019-besluit nie. Hy sê, in kort, Sola Scriptura hou by die NG Kerk se voormalige beskouing dat selfdegeslagverhoudings sonde is en reken dit is onder druk vanuit “sekulêre postmodernisme” wat die kerk oor jare binnegesypel het dat laasgenoemde nou erken word as reg. Hulle beskou dit as liefdeloos om dit nie sonde te noem nie.
Volgens Van Zyl het 39 Namibiese leraars nou al aangedui dat hulle Sola Scriptura se verklaring teen die 2019-sinodebesluit steun wat glo net meer as die helfte van dienende leraars in die land sou wees.
Die NG Kerk se leierskap het by navraag aan Kerkbode genoem uitlatings soos dié van Sola Scriptura doen skade aan kerkeenheid en die beeld van die kerk na buite.
“Dit sal altyd die NG Kerk se strewe wees om die eenheid van die kerk voorop te stel. Ons getuienis hang immers in ’n groot mate daarvan af,” sê dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die Algemene Sinode van die NG Kerk.
“Myns insiens word daar in gesprekke op sosiale media en elders onverantwoordelik omgegaan met die eenheid van die kerk. Woorde en taal wat na kerkskeuring verwys is onnadenkend. Die kerk, ook die kerk waaraan die dolerendes behoort, word ongelooflik skade aangedoen. Die kommentaar van buitekerklikes en hoe hulle hierdie gevegte binne die kerk beoordeel, is ’n pynlike bewys daarvan,” voeg hy by.
Om te doleer is ’n ou gereformeerde tradisie waarvolgens ’n gemeente aandui dat hulle ‘treur’ oor ’n besluit of optrede van die kerkleierskap en dan gewoonlik hulle finansiële ondersteuning terughou. Dolerende gemeentes behou egter hulle NG Kerk-status.
“Dit is ongelukkig so dat sommige van die dolerende groep nie net ‘treur’ nie maar met verdagmakery besig is, onder andere dat andersdenkendes se getrouheid aan fundamentele belydenissake bevraagteken word. Beskuldigings word dan gemaak soos van swak geestelike toestand, ensovoorts. Dit slaag nie die toets van die liefde nie,” sê Claassen.
Vir die moderamen* van die Sinode van Namibië is beskerming van kerkeenheid ook voorop en daarom wil hulle die optrede van Sola Scriptura intern hanteer. “Dit bly vir ons ’n binnenshuise gesprek,” sê hulle moderator ds Johannes Maritz. “Al die (publisiteit) wat die saak kry, maak dat eksterne faktore interne spanning skep en dat onnodige etiketering en agterdog plaasvind. Ons wil dit ten alle koste verhoed,” voeg hy by.
Die moderamen* van die Sinode van Namibië het hulle onlangs in ’n verklaring gedistansieer van NG gemeente Die Strand se doleringsbesluit. Claassen sê dit is belangrik om hiervan kennis te neem omdat Sola Scriptura die “sentimente van Die Strand-gemeente” ondersteun.
LEES OOK: Dolering: ‘Ons bid vir ware herlewing en reformasie binne die NG Kerk’
Daar is tans twee dolerende gemeentes in Namibië en sowat 75 in Suid-Afrika, volgens die lys wat deur die Kairos Netwerk op hulle webwerf bygehou word. Van Zyl se eie gemeente is nie een van die dolerendes nie en hy weet nie of hulle gaan doleer nie.
Anton Knoetze, voorsitter van Kairos Netwerk, het gesê hulle het kennis geneem van die byeenkoms gereël deur Sola Scriptura en bygevoeg daar is ook ander gemeentes wat hom skriftelik gekontak het dat hulle Kairos Netwerk ondersteun. Die Kairos Netwerk verteenwoordig ’n groep NG gemeentes wat ook van die 2019-sinodebesluit verskil en onlangs aangedui het hulle wil vir ’n afsonderlike sinode in die NG kerkverband vra.
Claassen sê die hoop van die NG Kerk se leierskap is egter dat kerkeenheid behou kan word. “Die uitnodiging is altyd daar vir gesprek. Kom ons probeer ’n weg vind uit die vasgelopenheid. Kom ons wees ’n getuienis,” sluit hy af.
*Regstelling: Kerkbode het oorspronklik berig die Sinode van Namibië het hulle in ‘n verklaring van Die Strand-gemeente se doleringsbesluit gedistansieer. Dit is nie korrek nie. Dit was die moderamen van die Sinode van Namibië wat so ‘n verklaring gepubliseer het in die sinode se weeklikse nuusbrief van 6 Augustus 2021. Kerkbode vra verskoning vir die fout. – Red.

Baie dankie aan ds. Erik van Zyl wat so beginselvas leiding gee aan Sola Scriptura hier in Namibië. Hou maar die nuus dop…
Baie dankie, ds Erik. Julle en KN stel die voorbeeld van hoe die ware eenheid van Christus se kerk moet lyk.
Die opmerkings van die Redakteur van die Kerkbode op 19 Augustus 2021 in haar berig met opskrif “Wegbreek-praatjies benadeel kerk se beeld”, is nie ‘n getroue weergawe van die gesprek en inligtingstuk wat sy van ds Erik van Zyl, voorsitter van Sola Scriptura, ontvang het nie en verdien regstellende aandag:
1. Daar is geen sprake van dat Sola Scriptura gemeentes wil inspireer om van die N G Kerk “weg te breek” nie. Die berig kan verkeerdelik so ‘n indruk laat. Sola Scriptura moedig wel die Sinode van NGKN aan om band los te maak met die Algemene Sinode, maar nie om weg te breek uit die NG Kerk nie. Na ons mening het die AS in huidige formaat geen toekoms meer nie en behoort NG Kerke terug te keer na die Federale stelsel soos voorheen gegeld het tot met 1962. Gemeentes word juis aangemoedig om binne die NG kerk te bly.
2. Die Sinode van Namibië het hom voorts nêrens gedistansieer van die verklaring van Strandgemeente, soos in bg artikel in Kerkbode beweer word nie. Daar bestaan geen sodanige Sinodebesluit nie. Die Sinode van Namibië het in 2016 twee amptelike verklarings uitgereik in reaksie op die onskriftuurlike besluite van die AS in 2015, waarvan een handel oor Skrifgesag en die ander oor Selfdegeslagverhoudinge. In hierdie twee verklaringe bevestig die Sinode van Namibië die ononderhandelbaarheid van die hele Bybel as Godgeinspireerde, onfeilbare Woord van God aan mense. Enige lidmaat/ampsdraer wat hiervan sou afwyk, stel homself dus bloot aan kerklike tug. In die tweede verklaring lewer die Sinode getuienis daarvan dat die Bybel duidelik is oor die huwelik as ‘n monogame verbintenis slegs tussen een man en een vrou. Selfdegeslagverbintenisse-en-huwelike is na oordeel van die Sinode nie Bybels verantwoordbaar nie en word daarom deur die Sinode van Namibië as onskriftuurlik afgewys.
Die NG Kerk Namibië staan dus in ‘n helder leerverskil met die Algemene Sinode en nie met NG Gemeente Strand nie.
3. Die Algemene Sekretaris, ds Gustav Claassen, huldig in bg berig ‘n standpunt oor Kerkeenheid wat vreemd is aan die Skrif, maar nie vreemd is aan die Algemene Sinode nie. Nêrens in die Skrif word die eenheid van die Kerk van Jesus Christus gebou op enigiets anders as slegs maar eenheid in belydenis van die Waarheid nie. Blote strukturele en organisatoriese saamwees onder een sambreel, sonder eenheid in Waarheid, is geen Bybelse eenheid nie. Trouens, waar almal in die Kerk van Christus nie met hart en siel bely dat Jesus waarlik God is, waarlik mens geword het deur ‘n Heilige Gees-bewerkte swangerskap in die maagd Maria, wonderwerke gedoen het, die mensdom se sonde op Hom geneem en gedra het op Golgota, liggaamlik gesterf, liggaamlik opgestaan en liggaamlik opgevaar het hemel toe om aan die Regterhand van God as ons pand te gaan sit, weer sal terugkeer met die wederkoms om te kom oordeel, sommige tot die hemel en ander tot die hel nie, is daar geen Bybelse eenheid nie.
Wie hierdie belydenis nie in sy hart koester en glo nie, maar steeds binne die Kerk van Jesus Christus bly, hy is die kerkskeurder en verdeeldheidsbewerker. Kerkskeuring word veroorsaak deur hulle wat dwalinge en afwykinge van ons 500 jaar oue Gereformeerde belydenis in die Kerk indra, nie deur diegene wat dit uitwys nie.
Ds Claassen is dus net amper reg as hy sê: “Dit sal altyd die NG kerk se strewe wees om die eenheid van die kerk voorop te stel”. Hy sou wel Bybels korrek gewees het indien hy sou sê: “Dit sal altyd die NG kerk se strewe wees om die eenheid van die kerk in Waarheid voorop te stel”. Eenheid in diversiteit kan nooit eenheid wees nie. Dit opsigself is dwaling. Soos hy sê: “Ons getuienis hang immers in groot mate daarvan af.”
Düring Cornelius
Kalkrand
Namibië
Veel seën en sterkte toegebid ds Erik en ander lede van Sola Scriptura vir die pad vorentoe. Mag julle van krag tot krag gaan.
Dankie vir jou kommentaar, Düring.
Wat punt 2 hierbo betref kan lesers gerus gaan kyk na die NG Kerk in Namibië se nuusbrief van 6 Augustus. Daarin lees ’n mens onder die hofie REAKSIE: STRAND GEMEENTE die volgende kommentaar deur die moderatuur: “Tydens Dinsdag se vergadering was die berig wat bewerings bevat oor die NGK se hantering van kern belydenis sake wat wyd versprei word op sosiale media bespreek.
Die konsensus was dat die ingrypende verklaring deur die kerkraad van die Strand gemeente talle wanvoorstellings en onwaarhede bevat.
Die moderamen het verder herbevestig dat die NGKN staan by haar Getuienisse oor Selfdegeslagverhoudinge sowel as Skrifbeskouing.”
* Hier is ’n skakel na dié nuusbrief: http://namibie.ngkerk.net/?wysija-page=1&controller=email&action=view&email_id=218&wysijap=subscriptions&user_id=175
Daar is slegs eenheid binne die waarheid.
Dankie Kerkbode vir jul vriendelike kommentaar op my skrywe. Jul verwys hierin na ‘n konsensusverklaring deur die moderatuur van NGKN op die Strandgemeente se skrywe. Die berig van 19 Augustus meld egter dat die Sinode van Namibië verklaar het dat hul hul distansieer van die Strandgemeenteverklaring. Dit is nie korrek nie. Die Sinode (vergadering van gemeentes) van NGKN is eers dv Maart 2022 in sitting. Die moderatuur se herbevestiging van hul verbintenis aan die NGKN se genoemde Getuienisse, is per implikasie ‘n getuienis dat die NGKN nie in leerverskil met Strandgemeente staan nie, maar met die AS.
Help ons asseblief! Hoe reageer ‘n moderatuur van ‘n sinode op ‘n berig oor wat ‘n kerkraad na bewering sou gesê het? Beriggewing in die pers het ‘n morele laagtepunt bereik en feitlik alles wat berig word, ook in Kerkbode, moet deesdae met ‘n knippie sout geneem word. Daar is telkens ‘n ander agenda agter dit wat geskryf word. Hoe kan ‘n ander sinode se dagbestuur, wat geen bevoegdheid daartoe het, hom uitspreek oor wat berig word oor ‘n standpunt wat ‘n kerkraad na berig ingeneem het? Of is die moderatuur van die Sinode van Namibië nou self die Algemene Sinode én die gemeente Strand se ring en sinode?