Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr André Bartlett (links) gesels met die joernalis/skrywer Max du Preez by sy huis in Simonstad tydens ’n voorafopname vir die 2021 Lentekonferensie van 14-16 September. Foto: Gys Loubser

Lentekonferensie: Hoe ek as gelowige betekenisvol leef in ’n post-covid wêreld

Wat kan die teoloog prof Elna Mouton, joernalis en skrywer Max du Preez en anti-apartheidsaktivis vader Michael Lapsley in gemeen hê? Om dít uit te vind, sal jy moet inteken by vanjaar se Lentekonferensie van 14-16 September wat wéér volledig aanlyn aangebied word met dié tema ‘Brave new world: Saam met Jesus ’n vreemde toekoms in’.

“Dit is ’n interessante kombinasie, ja. Ons probeer altyd om ons hoofsprekers, eintlik al ons sprekers, ’n bietjie interessant (te kies) … en mense ’n bietjie uit te daag,” vertel dr André Bartlett, hoof van Excelsus, ’n bedieningsentrum verbonde aan die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Teologie.

Dit is die sestiende Lentekonferensie wat Excelsus aanbied. Vanjaar se sessies sluit in besprekings uit die Ou en Nuwe Testament asook oor onderwerpe soos spiritualiteit, leierskap, bio-tegnologie, doleansie, kerkverband en hoe ons gaan glo oor 10 tot 30 jaar.

Voorafopnames van die hoofsprekers se sessies word hierdie week gedoen. Die opnames met prof Elna Mouton, tans kapelmeester by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit, asook met Max du Preez, skrywer van 14 boeke en mede-redakteur van die aanlynpublikasie Vryeweekblad, is reeds gedoen. Later hierdie week volg die onderhoud met vader Michael Lapsley, ’n Anglikaanse priester en wenner van die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir sy boek Redeeming the past: My journey from freedom fighter to healer (2012).

Elke oggend begin met ’n bespreking deur een van die hoofsprekers waarna deelnemers ’n keuse van wegbreeksessies het om by te woon. Al die sessies bou voort op die breë tema hoe om ’n volgeling van Jesus te wees in die ‘brave new world’ – ’n wêreld waarin hoe ons werk, sosialiseer, selfs hoe ons kerkwees beleef weens die pandemie baie anders lyk. “Ons ervaar mense is onseker oor die implikasies hiervan … Spesifiek as gelowiges, hoe maak ons ’n betekenisvolle bydrae in ’n wêreld wat ons nie altyd weet presies wat dit van ons vra nie,” verduidelik Bartlett verder.

“Mense het uiteraard tipies ’n weerstand teen verandering. Jy wil as ’t ware mense uitdaag om te sê maak die beste van die tyd waarin ons leef. Leef kreatief, leef verbeeldingryk,” sê hy.

Op Vrydag 10 September sluit aanlynbesprekings. Die sessies sal later aanlyn beskikbaar gemaak word slegs vir diegene wat ingeteken het vir die konferensie.

Die doel met kursusse soos hierdie jaarlikse byeenkoms is om vaardigheid, vreugde en bevoegdheid in die bediening te bevorder in die NG Kerk.

  • Belangstellendes kan die aanlyn inskrywingsvorm op Excelsus se webwerf aflaai en Kerkbode dophou vir stories oor die konferensie.
  • Die inskrywingsfooi beloop R320 per persoon.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top