Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Handelinge 20:35 bevat een van die min agrapha in die Nuwe Testament. Dié Griekse selfstandige naamwoord agraphon verwys na uitsprake van Jesus wat nie in een van die vier Evangelies opgeteken is nie.
’n Agraphon is dus ’n uitspraak van Jesus wat slegs mondelings oorgelewer is deur sy eerste volgelinge. Volgens Lukas het Paulus met sy afskeidsboodskap aan die ouderlinge van Efese hulle daaraan herinner dat Jesus gesê het: “Dit is meer geseënd om te gee as om te ontvang.” Die strekking van die uitspraak, dat dit beter is om te gee as om te ontvang, was algemeen bekend in die antieke wêreld. Meer as een Persiese, Griekse of Romeinse filosoof verwoord dit.
Jesus gee egter ’n unieke formulering daarvan. Dit is naamlik nie vir Jesus “beter” om te gee as om te ontvang nie. Dit is vir Hom “meer geseënd” om dit te doen. Soos met die bekende saligsprekings in Matteus 5:3-12 dui dit op ’n leefwyse wat goed is omdat dit God se guns geniet, en nie omdat dit insigself aangenaam of voordelig is nie. So is diegene wat treur net geseënd omdat God hulle sal troos, en nie omdat om te treur opsigself aangenaam is nie (Matt 5:4).
Paulus gebruik die agraphon in Handelinge 20 om sy eie ervaring te verwoord as iemand wat vir drie jaar in Efese in sy eie behoeftes voorsien het sodat hy die swakkes kon versorg (Hand 20:31-34). Dit was nie vir hom beter deurdat ander sy opoffering gesien het en hom materieel beloon het nie. Hy het ook nie silwer of goud of klere van die gemeente in Efese begeer nie (Hand 20:33). Hy het egter meer as ’n loon ontvang. Hy het die wete gehad dat hy alles binne sy vermoë gedoen het om die gemeente in Efese met die evangelie te bedien. Die ouderlinge het dit ook geweet. So vertel Lukas dat hulle baie gehuil het omdat hulle hom nooit weer sou sien nie en dat Paulus hom moes wegskeur van hulle (Hand 20:37; 21:1).
Daar is niks wat kan vergelyk met die ervaring van om in gehoorsaamheid aan die Here ’n verskil te maak in die lewe van ander nie. Dit is om waarlik geseënd te wees. Om dié rede moet ons uitnodigings tot diens deur die Here, geleenthede waarin ons onsself moet gee, ontvang as genadegawes uit die hand van die Here.
Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is assessor van die Wes-Kaapse Sinode.