Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Advent: Jesus is deur talle verwerp omdat Hy nie aan hulle Adventverwagtinge voldoen het nie. Wat het hulle dan verwag?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Met die aanbreek van Advent dink die kerk sowel terug aan die eerste koms van Jesus, as vooruit na sy wederkoms. Met die terugblik na Jesus se eerste koms is dit opvallend dat baie van Jesus se tydgenote Hom nie herken het as die verwagte Messias nie. Jesus het oënskynlik nie aan hulle Adventverwagtinge voldoen nie.

 

Dit is daarom nodig om die Joodse Adventverwagtinge van nader te beskou soos verwoord in hulle tekste uit dié tyd wat nie deel van ons Bybel vorm nie. Wat duidelik uitstaan in tekste soos 1 en 2 Makkabeërs is dat die Jode ’n intense verlange gehad het dat God hulle sou bevry van die heersers wat oor hulle die septer geswaai het sedert die Babiloniese ballingskap. Een of ander koms, of te wel Advent, van God in die geskiedenis is verwag.

LEES OOK: Die Bybel as getuienis van die transformerende krag van die evangelie

Die verwagting het op drie oortuigings berus: dat Jahwe die soewereine Koning oor die skepping is; dat die wêreld en Israel nie in ooreenstemming met God se wil leef nie; en dat God sou ingryp om sowel die skepping as hulle samelewing te belyn met sy wil. In die aanloop tot die Nuwe-Testamentiese tydvak het hierdie verwagting verskillende vorme aangeneem. Sommige het gefokus op Israel se herstel as ’n politieke entiteit met ’n koning uit die huis van Dawid (Psalms van Salomo 17). Ander het ’n meer apokaliptiese perspektief gehad (Oorlogsrol van Qumran), wat die stryd teen Israel se vyande as deel van ’n kosmiese konflik tussen God en die magte van die bose gesien het. Ook die verwagtinge oor die identiteit van die komende verlosser was uiteenlopend. Sommige tekste soos die Testament van Moses het net op God self as verlosser gefokus, terwyl ander verskeie agente as tussengangers verwag het: ’n Messias wat vyande militêr sou verslaan (Psalms van Salomo 17:21-44), hemelse wesens soos engele of ’n transendente “seun van die mens” (Daniël 7; 1 Henog se Gelykenisse), ’n priesterlike Messias (Gemeenskapsreël van Qumran).

Hierdie veelvoud van verwagtinge het bepaal hoe Jesus se eerste Advent deur sy Joodse tydgenote beoordeel is. So is Jesus dan ook deur talle verwerp omdat Hy nie aan hulle Adventverwagtinge voldoen het nie. Die huldiging van korrekte Adventverwagtinge deur gelowiges is daarom noodsaaklik om God se heilshandelinge te herken. Advent is in die lig hiervan ’n belangrike seisoen in die kerkjaar waartydens die kerk erns maak om haar verwagtinge oor God se heilshandelinge met Jesus se tweede Advent opnuut te kalibreer aan die hand van sy eerste.


Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is assessor van die Wes-Kaapse Sinode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top