Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Verwysings na die “Heilige Gees” kom dikwels in die Nuwe Testament, maar slegs drie maal in die Ou Testament voor. Laasgenoemde drie plekke is Jesaja 63:10, 11 en Psalm 51:13.
Al drie is tekste wat post-eksilies, met ander woorde laat gedateer word. Die woord “gees” en verwysings na die “Gees van God”, of “Gees van die Here” kom egter meermale in die Ou Testament voor.
Hierdie bydrae handel spesifiek oor die woord “Heilige Gees” in die Ou Testament. Die woord “gees” of verwysings na die “Gees van God”, of “Gees van die Here” is nie nou ter sprake nie. Uit die aard van die saak laat ruimte ons ook nie toe om in detail op al drie verse waar “Heilige Gees” in die Ou Testament voorkom te fokus nie. Ons let hier slegs op Jesaja 63:10 en 11.
Jesaja 63:7 – 64:11[12] word deur die meeste navorsers as ’n geloofsgemeenskap se smeekgebed of klaaglied getipeer. Dit word dan tipies in drie verdeel met vers 7 as himniese inleiding, Jesaja 63:8-14 as ’n historiese oorsig, met ten slotte Jesaja 63:15 – 64:11[12]).
Opvallend is dat die naam vir Israel se God, te wete JHWH, drie keer in die lofprysing (Jesaja 63:8-14) voorkom. Dit beklemtoon dat die rede vir die profeet se lofprysing nie in die voortreflikheid van die geloofsgemeenskap geleë is nie, maar in die lojale goedheid van die Here. In die Hebreeuse teks is die woord wat hier met “lojale goedheid” vertaal word, immers die eerste en heel laaste woord van vers 7. Die Here se lojale goedheid omarm dus die vers. Dit word verder beklemtoon deur nog twee uitdrukkings in dieselfde betekenisveld, te wete “sy oorvloedige goedheid” en sy “sagte medelye”.
In verse 8 en 9 het ons ’n samevattende, historiese blik. Deur hulle aan te spreek as “my volk” word die verhouding wat God met sy volk het bevestig. Hier word gesuggereer dat God hulle Vader is. In hierdie verhouding met sy volk, is JHWH getrou. Die Hebreeuse teks gebruik verskillende woorde binne dieselfde semantiese veld om dié punt te beklemtoon. Ons lees dat God vir hulle “’n losser is” (twee maal), hy het hulle “bevry/verlos” en “hy het hulle opgetel en gedra”. Die redding, verlossing, oplig en dra wat hier ter sprake is, is die redding by die Rietsee, die wildernistog en die inname van die beloofde land.
Die verwagte reaksie sou wees dat die volk sal hou by God se onderwysing en Hom sou volg en dien. Vers 10 beduie dat Israel egter wederstrewig opgetree het, in opstand gekom het en God se “Heilige Gees bedroef het”. Wanneer die geloofsgemeenskap teen die verwagting in, nie leef vanuit die Here se oorvloedige lojale goedheid nie, beleef hulle dat Hy vir hulle ’n vyand word. Al het die Here vir sy volk in ’n vyand verander, hou hulle as gemeenskap vas aan dié God wat in die verlede vir hulle die Verlosser was. Die blik op die verlede word deur die herhaling van “waar is Hy?” beklemtoon. Wat hulle in die verlede sien, is wie God is en wat Hy doen. “Sy Heilige Gees” dui op JHWH se onvoorwaardelike teenwoordigheid wat veral in die volk se verlossing uit Egipte sigbaar geword het.
In die lig van Jesaja 63:10 en 11 is dit sonder meer duidelik dat “sy Heilige Gees” ’n uitdrukking is wat God se konkrete teenwoordigheid in die geloofsgemeenskap beklemtoon. Kragtens die hele perikoop kan ons sê dat “Heilige Gees” dui op die manifestasie van JHWH se lojale goedheid, sagte medelye, verlossing en leiding. Dit alles is in die besonder waarneembaar in die Here se geskiedenis met mense. In die lig van wat hier bo gesê is, is dit duidelik dat wanneer die Ou Testament oor “Heilige Gees” praat, dit nie in ontologiese of synskategorieë nie, maar in relasionele terme geskied.
- Dr Fanie Cronjé is medeleraar van NG Kerk Lynnwood, Pretoria.