Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Lourens Bosman skryf: Groen lote in ’n barre landskap

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Ek luister onlangs na die joernalis, Tim du Plessis. Hy praat oor die sosio-politieke situasie in die land. Op baie terreine gaan dit regtig maar beroerd. Hy noem egter ook ’n handvol positiewe sake, groen lote wat al sterker groei in ’n barre landskap. Twee daarvan is veral belangrik vir die kerk.

Die eerste is dat die burgerlike samelewing in SA groei en ’n al meer prominente rol speel in die land en in plaaslike gemeenskappe. Sommige hiervan gebeur omdat die owerhede nie veiligheid, dienste en onderwys verskaf of die demokrasie beskerm nie. Burgerlike organisasies tree dan in en soos die tyd aanloop word hulle al meer effektief.

Dit is belangrik vir die kerk. Ek het op teologiese skool by prof Johan Heyns geleer dat God se koninkryk nie net deur die werk van die kerk of gelowiges kom nie. Die koninkryk is groter as die kerk.

LEES OOK: Só kan gemeentes dienspligveterane help om afsluiting te vind

Toe ek ’n student was, het dit vir my mooi en belangrik geklink, maar het ek nie mooi verstaan wat dit beteken nie. Vandag sien ons egter baie duidelik hoedat mense en organisasies wat nie aan kerke gekoppel is nie, God se werk doen.

As ons ’n kerk is wat God na die wêreld volg, vind ons dat ons ook ’n al belangriker rol het om te speel in ons lande en gemeenskappe. Ons vind verder dat ons nie alleen is nie. Daar is talle ander kerke en organisasies wat op allerhande maniere saamwerk dat God se koninkryk kom. Dit gebeur waar die wêreld begin lyk soos God dit wil hê: kinders kry goeie onderrig, armes en siekes word versorg, hongeriges kry ’n maaltyd, mense leef in vrede met mekaar, die regte van mense op die rand van die samelewing word beskerm.

Ek is oortuig dat God wil hê gemeentes moet ten volle deel wees van hierdie groeiende beweging. Die kerk is op grondvlak die bes georganiseerde segment van die burgerlike samelewing – ons is orals en ons het maniere om direk met mense te praat. Boonop dra die kerk iets by wat sekulêre organisasies nie kan nie: Ons bring die liefde van God na mense en die goeie nuus dat God red en hoop gee. Gemeentes kan helend en positief in elke gemeenskap sigbaar wees.

LEES OOK: Susan Rakoczy: Die verband tussen ons Gods-taal en klimaatsverandering

Die tweede positiewe ding wat Du Plessis noem, is dat wit en swart in SA mekaar nie haat nie. Hy neem eerder waar dat verskillende rasse nader aan mekaar kom en dat goeie wil en vriendelikheid toeneem. Dit ten spyte van bepaalde politici wat handel dryf in haat en verdeeldheid.

Ek glo die feit dat die oorwig mense in hierdie land Christene is, dra hiertoe by. As daar nou een ding is wat gelowiges verstaan, is dit dat Jesus mense by mekaar uitbring. Die Gees leer ons om vriendelik, verdraagsaam en geduldig te wees en om te vergewe. Die Gees lei ons om oor die rasseskeiding te tree en in vrede met mekaar saam te leef. Laat ons die eerstes wees om dit te doen, groen lote wat tekens is van lewe wat God gee.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Lourens Bosman skryf: Groen lote in ’n barre landskap”

  1. Ek het die ervaring op Uniondale dat die Lions, baie meer as die gemeente, ongelooflike barmhartigheidswerk doen en niemand word uitgesluit nie. Meeste v d Lions is lidmate v d NG Kerk. Ek ervaar dit nie as bedreigend nie, maar prys die Here daarvoor en wil eersdaags amptelik erkenning ook aan hulle gee. Die vraag is hoe en dat die kerk geloofsonderskeidend aansluit en meewerk.

Comments are closed.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top