Susan Rakoczy is ’n Katolieke teoloog wat grootgeword het in die omgewing van Detroit, die grootste stad in die deelstaat Michigan in die VSA. Sy spesialiseer in spiritualiteit in haar teologiese studies. In hierdie bydrae in die reeks oor ekoteologie fokus David Botha op die inhoud van die artikel waarvoor sy vanjaar se CLF Elise Tempelhoff-prys ontvang het nadat dit in T&T Clark Handbook of Christian Theology and Climate Change (2020, p 528-539) verskyn het.
In die vroeg 1980’s kom Rakoczy na Ghana in Afrika waar sy vir ses jaar lank retraits en werkswinkels aanbied en as geestelike begeleier optree in diens van die Sentrum vir Spirituele Vernuwing in Kumasi. In 1989 vertrek sy na Suid-Afrika om aan die St Joseph’s Theological Institute in Cedara en aan die Universiteit van KwaZulu-Natal te doseer. Sy bring uiteindelik 35 jaar van haar aktiewe teologiese lewe in Afrika deur en skryf boeke oor kruiskulturele spirituele begeleiding, feministiese teologie, mistiek en sosiale geregtigheid, en ekofeminisme.
Die titel van haar bydrae wat aan haar die 2022 CLF Elise Tempelhoff-prys besorg het is “God as Father: Patriarchy and climate change”. Dit verskyn onder deel 5 van die T&T Clark Handbook wat handel oor Christene se verstaan van God se identiteit en karakter. Rakoczy se bydrae gaan oor ons idee van God as Vader en die verband wat sy sien tussen die patriargale denke oor God en klimaatsverandering. Sy vra onder andere die volgende belangrike vrae: Hoe het ons “Vader”-taal die Christelike tradisie se houding teenoor die skepping beïnvloed? Hoe het patriargie (die sisteem waarin manlikheid domineer) hierdie houdings gevorm? Is daar dalk bronne in die Christelike tradisie wat ons beelde van God kan hervorm – ’n reformasie wat gelowiges ’n “ekologiese bekering” (Pous Franciskus) kan laat beleef? Kan “God as Vader”-taal vrygemaak word van die verkeerde en negatiewe konnotasies wat daaraan kleef?
Vader-taal se oorsprong en gebrekkigheid
Dit is gemeenskappe wat oorheers is deur mans wat aan die Joods-Christelike tradisie manlike beelde van God gegee het – beelde soos koning, krygsman, regter, heerser en vele ander. Vader-taal is deel hiervan. Hierdie taal het daartoe gelei dat Christene feitlik uitsluitlik oor God dink en praat as “Hy” in hulle gebede en preke. Hoewel God hoegenaamd nie deur menslike taal verstaan of beskryf kan word nie, kan mense ook nie anders as om oor God in die beelde van menslike taal te dink of te praat nie. Die uitsluitlike gebruik van manlike beelde vir God het egter oor tyd gelei tot ’n verarming van die godsdienstige verbeelding en ervaring van die Christelike gemeenskap en individuele gelowiges. Augustinus van Hippo, sê Rakoczy, het al gewaarsku: “As jy reken dat jy verstaan wie God is, weet dan verseker dat wat jy verstaan nie God is nie.”
LEES OOK: Klaus Nürnberger: Ekoteoloog se werk gooi wye skadu
Alle beelde het ’n dubbele analogiese funksie; dit onthul én versluier gelyktydig. Die Vader-beeld help ons om vanuit ons eie ervaring van vaders iets van God te verstaan (onthul). Terselfdertyd ontdek ons in die vergelyking van God met aardse vaders dat God se vaderskap ook weer iets totaal anders is as die aardse vaderskap wat ons ken (versluier). En dan maak sy hierdie belangrike opmerking: “Images for God are depth symbols from limited human comprehension which point to the divine reality which is beyond all knowledge and images.” Daarom moet ons baie versigtig wees om eenduidig (univocal) oor God te dink en te praat – soos byvoorbeeld dat God ’n Vader is na die voorbeeld van aardse vaders en dat die vader-beeld die enigste akkurate manier is om oor God te dink en te praat.
‘Vader’-taal/patriargie en ekologie
In aansluiting by verskeie ander feministiese teoloë maak sy ’n saak daarvoor uit dat die eensydig manlike praat oor God onderdrukkend vir vroue en die skepping is en selfs as godsdienstige afgodery beskou kan word. Dit is onderdrukkend, omdat dit beelde en konsepte vir God gebruik wat feitlik uitsluitlik ontleen is aan ’n wêreld waarin mans (oor)heers. En omdat dit strukture en ideologieë versterk waarin mans heers en waarin vroue, kinders en sommige ander mans as gebrekkig gesien word en op die rant van die samelewing uitgeskuif word. Patriargale taal is godsdienstige afgodery, omdat dit ’n enkele stel metafore (manlike) verabsoluteer en sodoende die hoogte en lengte en diepte van die goddelike Misterie verduister.
“Vader”-taal is die taal van mag en dominansie. Dit is taal wat mans as “teenoor en oor” vroue stel. En volgens Rakoczy veroorsaak hierdie taal dat mans ook ’n “teenoor en oor”-houding teenoor die skepping inneem. “As women are subordinate to men by the power of patriarchy, creation in its diversity is also to be under male control. The power of patriarchy has led to the instrumentalization of creation: land, animals, birds, water and sea creatures, resources under the earth – are to be used by humanity with often little care or concern for the ecology of the whole …
“The category of ownership and possession of the natural world has led to the perspective that as humans we can do what we want with the air, water, land, animals, birds, fish and all reality outside of human beings. And so we have wreaked incredible ecological destruction on the earth and all its inhabitants, making it indeed a planet in peril.”
Hierdie oor en teenoor-houding van ’n manlik gedomineerde wêreld is ondersteun deur vertalings van Genesis 1:26 met woorde soos “dominian” (Revised Standard Version), “masters” (New Jerusalem Bible) en “power” (Good News Version). Eienaarskap word dikwels (veral in die Weste) gebruik om die mens se verhouding met die aarde te beskryf. Dit is veral duidelik in die mens se verhouding met grond. Privaat besit kenmerk die westerse verstaan van die verhouding tussen die mens en grond. Daarom kan ons daarmee doen net wat ons wil.
Ander beelde vir God en die skepping
Ons kan nie ontslae raak van manlike taal as ons oor God dink en praat nie, sê Rakoczy. Manlike taal bly egter problematies en daarom moet ons dit aanvul met ander beelde wat groter klem lê op die verbondenheid van God, mens en skepping. Uit haar jarelange blootstelling aan Afrika bied sy dan ’n paar voorbeelde aan van beelde en taal wat eie is aan Afrika en wat uitdrukking gee aan die hegte verhouding wat daar tussen God, mens en natuur is. Dit sluit sterk aan by die klem wat ekofeministe lê op die een web van die lewe. ’n Web waarin alles interafhanklik met mekaar verbind is en wat van die sentrum af resoneer. Al die beelde wat sy bespreek beklemtoon die immanente teenwoordigheid van God in die skepping. Respek vir God impliseer daarom ook respek vir die skepping.
Beelde uit die Bybel
Rakoczy reken ons kan groter klem lê op ander beelde vir God wat meer vroulik is. Sy lê veral klem op Gees en Sofia/Wysheid. Hierdie beelde is vroulik en praat oor God en die skepping meer in terme van verhouding eerder as in terme van dominansie. Die woord “Gees” verwys na ’n magdom aktiwiteite wat lewegewend en lewe-onderhoudend is. Verskeie tekste in die Bybel wat oor God praat, verwys na tipiese vroulike aktiwiteite: soos byvoorbeeld Psalm 139:13 wat praat van God se Gees wat my menslike liggaam “in die moederskoot geweef het”; en Psalm 22:10-11 waar die Gees as vroedvrou by my geboorte betrokke was en my aan my ma se sorg toevertrou het en ook in Jesaja 4:4 en Psalm 51:7 waar God beskryf word as ’n wasvrou wat mense skoon was.
In die boek Spreuke leer ons God as Sofia/Wysheid ken – wat as vrou beskryf word (8:22-31). Hierdie teks vertel van Sofia se betrokkenheid by die skeppingsdaad en ook van haar vreugde wat Sy vind in die skepping en in die mens.
God as Gees-Sofia se teenwoordigheid en handelinge is inklusief: “…all of humanity, all of created reality is within Her loving presence and action.”
Rakoczy sluit haar bydrae af met hierdie woorde: “Because images such as ‘God as Father’ are not going to disappear quickly and easily, we must be careful to deconstruct this image in order to challenge its power over humanity and creation while realizing that it is a symbol of divine relatedness that can be helpful to some persons in their religious searching.”
Susan Rakoczy daag ons almal uit om eerlik en krities te kyk na die eensydigheid en impak van ons God-taal. Sy, saam met al die ander ekofeministe wat sy aanhaal, lê dit my en alle ander mans ten laste dat ons vreugde daarin vind om te domineer en dat hierdie dominering uitgekring het tot ons verhouding met die natuur – met klimaatsverandering as resultaat. My reaksie? Ek weet nog nie mooi nie. Wat ek wel weet, is dat verdediging die verkeerde reaksie sal wees.
Vrede vir die hele kosmos.
Ds David P Botha is ’n leraar van die VGK en voorvatter in die Taakspan vir Ekologie.