Verlos ons van die Bose

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Daar is tye wanneer bekende woorde in die Bybel skielik weer betekenis en relevansie kry. Ons is nou in so ’n tyd. Die woorde waarvan ek praat is die laaste bede van die Onse Vader: “… verlos ons van die Bose.”

Daar is ’n rede waarom Jesus sy volgelinge leer om só te bid. Die bose wat hulle bedreig het, het moontlik net om die draai gewoon in die vorm van ’n Romeinse soldaat. Of in Rome in die persoon van keiser Nero. Die bose was nie net metafisies of geestelik nie, dit was ’n fisiese werklikheid. Dit manifesteer in teenstand teen God se koninkryk.

In hierdie dae sien ons weer die realiteit van die bose in die Russiese inval in Oekraïne. Ons sien dit in die vorm van vuurpyllanseerders en ’n 60 km-lange konvooi militêre voertuie op pad na Kiëf. Ons sien dit in die lyke van ’n ma en haar twee kinders langs ’n sypaadjie in die dorpie Irpin. Ons sien die effek van die bose in meer as twee miljoen vlugtelinge en in woonstelblokke wat vol gate geskiet is. Ons sien dit wanneer ’n sesjarige meisie in Mariupol van ontwatering sterf.

Nader aan ons eie lyf sien ons die bose in die dikke volumes van die Zondo-verslag wat vertel hoe korrupte politici en sakemanne die geld steel wat bedoel was om die land op te bou. Ons sien die effek van die bose in die werkloosheidsyfer van 35%. Ons sien dit in die oë van moedelose bedelaars op die hoeke van die strate.

Teenoor werklike boosheid staan goeie mense dikwels magteloos. Ons sien hoe die leiers van die wêreld tevergeefs probeer om die geweld in die Oekraïne te stop sonder om die oorlog na die res van die wêreld te laat eskaleer. Ons sien hoe vredemakers werk en werk maar dat mense steeds doodgemaak word. Ons sien met afgryse hoe die bose voortwoeker en dit vul ons met magtelose woede.

In so ’n tyd verstaan ons weer waarom Jesus ons leer bid: “… verlos ons van die Bose.” Die goeie staan dikwels weerloos teen die bose. Ons het nodig dat God ons verlos.

Mag die Here die Oekraïners help. Mag die Here ons hier in Suid-Afrika help. “Ons Vader wat in die hemel is, verlos ons van die Bose.”

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Word 'n vriend van Kerkbode