In pas met die Gees

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Partykeer kry ek die indruk dat ons nie mooi weet wat om met die Heilige Gees te maak nie. Die vreemdhede rondom die Gees in sommige kerke maak baie van ons só lugtig dat ons lewe sonder dat die Heilige Gees regtig ’n faktor in ons lewe is. Nie doel­bewus nie, maar net omdat die Heilige Gees nie prominent op ons geloofsradar is nie.

Ons missionale teologie wil dit reg­stel. Ons weet dit is onmoontlik om in pas te wees met die lewende God, maar jy ignoreer die Heilige Gees. Die kerk leef in die krag van die Gees. Jesus stuur ons uit met die belofte dat Hy by ons is en die Gees sit sy teenwoordigheid in ons voort.

LEES OOK: Minder vergaderings, meer fokus

’n Sleutelwoord vir ’n lewe in pas met die Drie-eenheid is geloofsonderskeiding. Dit beteken dat jy voortdurend attent daarop is dat God lewend en wer­kend in die wêreld en in jouself is. In die praktyk beteken dit dat jy anders begin kyk na die wêreld. Jy verwag om God te ontmoet in jou gewone ontmoetings en raak te sien in jou normale kom en gaan.

Hoe gebeur dit?

Eerstens deur die Bybel. Dit is die Gees wat maak dat die ou woorde in die Bybel vandag mense se lewe aanraak. Maar dan moet jy die Bybel luisterend lees. Ons NG tradisie is nogal sterk gerig op die intellek en dikwels lees ons die Bybel hoofsaaklik om nuwe goed te leer. Soms word Bybelstudie niks meer nie as intellektuele vermaak.

LEES OOK: Die teenoorgestelde van praat

Die skuif wat nodig is, is van informatiewe na formatiewe lees. Dit beteken dat ’n mens minder gerig is op informasie en meer daarop dat die Woord jou vorm. In die praktyk hou dit in dat jy minder sal lees, langer sal stilstaan by een teks en sal wag dat die Gees jou lewe aanraak. In ons kantoor lees ons elke oggend vir ’n week lank dieselfde teks. En so met die tyd vind ons dat die Gees ons hart en denke vorm.

Die Gees leer ons dan verder om die werklikheid op ’n geestelike manier te beoordeel. Wanneer die Gees jou den­ke en gewete vorm, kyk jy eenvoudig nie meer op dieselfde manier na dinge soos armoede en welvaart, reg en onreg, ras en geslag, wat en hoe­veel jy verbruik en hoe jy mense beoordeel nie. Jy kyk al meer met Jesus se oë na die wêreld.

Die Heilige Gees word nie sonder rede die “Gees van Christus” genoem nie. Die Gees maak dít wat Jesus lank gelede hier op aarde gedoen het, vandag ’n werklikheid in gelowiges se lewe.

  • Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.
Word 'n vriend van Kerkbode