Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Local is lekker, maar nie in ’n kokon nie

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In die oggend as ek werk toe ry, hoor ek hoe die leiers van politieke partye in munisipaliteite van oor die land, kans kry om hulle sê te sê. Die meeste is klein partye waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Die storie wat oor en oor herhaal word, is hierdie een: “Die groot politieke partye, die provinsiale en nasionale regering, het ons mense in die steek gelaat. Gee ons ’n kans om ons eie sake te bestuur.”

’n Mens voel ’n bietjie om vir hierdie leiers te sê: “Wel, sterkte”. Die belang­rike ding wat ons egter moet raaksien, is dat die sentrale regering al minder in staat is om die lewe van mense te verbeter en dat die oë nou op plaaslike inisiatiewe gerig word.

LEES OOK: Oud-leraar se aanlyn groep bring Oos-Randse skilders byeen

Wat in Suid-Afrika gebeur, is nie uniek nie. Ons is deel van ’n wêreldwye verskynsel wat die governance gap genoem word. Dit gaan oor die gaping wat bestaan tussen dit wat sentrale regerings kan doen en wat mense op grondvlak nodig het. Die staat word oral groter, maar is al minder bekwaam of in staat om die nodige dienste te lewer.

Daarmee saam loop dan die verskynsel dat plaaslike organisasies ’n al groter rol begin speel. Die burgerlike samele­wing word al hoe belangriker om na die mense se belange om te sien. Die sleutel lê in wat op die vlak van dorpe en stede gebeur.

Vir die kerk is dit belangrik. Ons het nog altyd geglo dat die Here ons roep om ’n impak te maak op die plek waar ons is. Soms kry witmense die boodskap dat hulle onwelkom is in Suid-Afri­ka. Baie oorweeg emigrasie of trek hulle terug in private ruimtes. Hierdie laaste verskynsel het selfs ’n naam: cocooning. Dit beteken dat mense net gaan na plekke waar die gesigte bekend en die gesprekke maklik is.

LEES OOK: Dana skryf oor skinder, swyg en stilte

Toe Israel in ballingskap in Babilonië was, het hulle alle rede gehad om hulle te onttrek aan die openbare lewe. Die Here gee egter vir hulle ’n woord:

  • Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan
  • trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie
  • Bevorder die be­lange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange (Jeremia 43:5-7).

Die onvermoë van die nasionale of provinsiale regering om die lewe vir mense beter te maak, skep ’n geleentheid vir die kerk om sy rol in die samelewing in te neem. Dit sal egter beteken dat ons ’n paar dinge moet doen.

Hou op kla oor die swak regering. Swak regering is nie reg nie, maar dit is deel van ’n groot internasionale tendens. Dit gaan nie beter word nie en kla gaan dit nie beter maak nie. Bid eerder vir die stad of dorp waar jy woon.

Besluit dat ons (jyself en die gemeente) deel gaan wees van die oplos­sing hier waar die Here ons geroep het. Die tendens is dat die burgerlike samelewing ’n al groter rol speel in die welsyn van gemeenskappe en die kerk is die bes georganiseerde deel van die burgerlike samelewing.

Kom los uit die kokon van NG, wit en Afrikaans en begin bande smee met ander rolspelers. Dit gaan immers nie net oor die straatlig en slaggat voor jou huis nie, dit gaan oor die welsyn van die dorp en sy mense.

  • Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top