Oor skinder, swyg en stilte

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Oom Faan en tannie Annatjie was die middag, ’n gewone weekmiddag, lank by Pa in die pastorie se studeerkamer, met die deur toe, onthou ek.

En toe hulle weg is, toe hoor ek Pa vir Ma sê: “Dit ís toe só, my vrou.” En Ma wat antwoord: “Dit is vreeslik, my man. Die arme-arme Annatjie. Sy’s klaar ’n senuweewrak.”

Ek het Pa en Ma nie daaroor uitgevra nie. Dit gaan oor grootmensdinge, het ek besef. Ek was twaalf jaar oud.

Maar op ’n dorp soos ons s’n was min geheime, selfs vir ’n kind. ’n Dag of wat later breek een van die seuns by die skool die nuus: “Het julle gehoor? Beaulah is preggies.”

Beaulah, oom Faan en tannie Annatjie se laatlam-dogter, wat in matriek is. Mooi Beaulah met die poniesterte en die lang bene. Preggies. Verwagtend. Swanger.

“Beaulah stoot boep,” het van die ander kinders gesê.

Nou, byna ’n leeftyd later, weet ek steeds nie die volle waarheid oor Beau­lah se swangerskap nie. In daardie jare het so iets met groot geheimhouding gepaard gegaan. Niemand moes weet nie. Die skande. Die skande.

LEES OOK: ‘Om jou te laat inent is liefdesdaad aan jou naaste’ – NG Kerk

En omdat niemand moes weet nie, het almal bespiegel en hardop gewonder. Ek onthou net brokstukke daarvan. Hoe ek by die poskantoor instap om seëls vir Ma te koop en ’n gesprek hoor tussen tannie Daphne en tannie Blom, wat agter die toonbank werk:

“Is dit nie verskriklik nie, ou Blom? Kan jy nou meer? Die outjie wat haar swanger gemaak het, werk glo al.”

“Ek’t weer gehoor dis ’n soldaat. Wonder waar het dit gebeur.”

“Glo op Margate toe Faan-hulle nou in die Julie-vakansie daar was. Die klein merrie het hom glo skelm in die nag op die strand ontmoet.”

“Jy’s nie ernstig nie.”

“Is omdat Faan te kwaai is met daai kind. Ek sê dit lankal.”

“Ek kry net vir Annatjie jammer.”

“Foeitog, ja. Die arme vrou is net vel en been.”

“Het jy al gesien hoe rook sy? Een sigaret na die ander.”

“Foeitog.”

Hoe Ma vir iemand oor die foon sê: “Die tweetjies het oor die tou getrap.”

Hoe ek by oom Bennie se werkwinkel verbystap en hoor hoe oom Bennie vir iemand sê: “Jy’t seker gehoor ou Faan se dogter is op die paal. As dit met my dogter gebeur, vat ek my geweer en skiet daai laaitie vrek.”

LEES OOK: Ds Liezel de Jager (38) ‘weggeruk in fleur van haar lewe’

Hoe tannie Truia vir Louwtjie in die dorpsbiblioteek sê: “Ek’s glad nie verbaas nie. Dis hierdie popmusiek wat die kinders so luister. Alles is net free love, free love.” Louwtjie wat antwoord: “Ek wonder wat gaan hulle met die kleintjie doen.” En tannie Truia wat sê: “Hulle gaan hom seker maar opgee vir aanneming. Faan weier glo dat die twee trou.”

Almal op die dorp, ons kant van die dorp, het daarvan geweet en daaroor bespiegel, saggies, onder mekaar, maar in die openbaar, by die skool en in die kerk, is niks daarvan gesê nie. Dit was asof dit nie gebeur het nie.

Beaulah was op ’n dag net nie meer by die skool nie, en toe kom nóg stories by: Beaulah het seepsoda gedrink en is in die hospitaal in Kimberley, oom Faan-hulle het Beaulah Suidwes toe ge­stuur, na haar tannie toe …

Vir ’n paar aande het net oom Faan en tannie Annatjie se buitelig gebrand en toe was oom Faan-hulle weer terug op die dorp, sonder Beulah.

Beaulah is in ’n tehuis vir ongehude moeders in die stad, het Pa en Ma gesê. Dit was die eerste keer dat ek van so ’n plek hoor, maar ek het Pa en Ma nie gevra wat presies ’n tehuis vir ongehude moeders is nie. Dit was grootmensgoed.

Dit is soos ’n tronk, het die kinders by die skool gesê. Daar is tralies voor die tehuis vir ongehude moeders se vensters om te keer dat die meisies nie weg­loop nie. En die meisies word nie toegelaat om alleen toilet toe te gaan nie, want party het glo ’n klomp Disprins saam met Coke gedrink en probeer om die babas só in die toilet af te bring. Stories. Stories.

LEES OOK: Kerklike tug: En die grootste hiervan is die liefde!

Oom Orton, die hoofouderling, het met Pa kom praat, soos altyd wanneer iets op die dorp gebeur het wat volgens hom kerklike teregwysing verdien.

“Broer Orton wil hê ons moet vir Faan en Annatjie onder sensuur plaas omdat hulle hulle ouerlike pligte versaak het.” Ek hoor nog die moegheid in Pa se stem toe hy dít vir Ma sê.

“Julle kan dit mos nie doen nie, my man. Kry die arme mense nie reeds swaar genoeg nie?”

“Jy ken mos ou Orton, my vrou. Hy sal altyd iewers in die Bybel ’n vers kry as verskoning om sy wil te laat geld.”

Ek kan nie onthou of die kerkraad toe vir oom Faan en tannie Annatjie onder sensuur geplaas het nie.

Hulle was steeds elke Sondagoggend in die kerk, maar oom Faan se motor het in die week saans al later voor die hotel gestaan en tannie Annatjie het al bleker geword, dikwels met ’n bewende sigaret tussen haar vingers. Dit was asof almal bang was om te naby aan hulle te kom, bang vir hulle hartseer.

’n Jaar of wat later het Pa ’n beroep na ’n ander gemeente aanvaar en het ons na die volgende dorp getrek.

Wat van Beaulah en haar kind geword het, weet ek glad nie …

Word 'n vriend van Kerkbode