‘Om jou te laat inent is liefdesdaad aan jou naaste’ – NG Kerk

Die NG Kerk sou nie by ’n punt wou kom om enigiemand in die kerk te verplig om hulle te laat inent nie, maar sou eerder ’n beroep op sy lidmate doen rondom verantwoordelikheid.

Só sê dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, in reaksie op Kerkbode se navraag oor waar die NG Kerk staan ten opsigte van die etiese kwessies rondom inenting. Dit volg op die onlangse bekendstelling van aanlyn-aflaaibare Covid-inentingspaspoorte.

LEES OOK: Inenting: Jou siening het implikasies vir ander en jou spiritualiteit

Daar is reeds kerke in Amerika wat ’n ingeënte status as voorwaarde stel om eredienste te kan bywoon, maar die NG Kerk sou nie só ’n roete met haar le­raars, werknemers of lidmate wou volg nie. Claassen verduidelik dat dit altyd die voorkeurposisie van die kerk sal wees om mense die voorreg te gee om self te kan kies, maar om dit bewustelik van die gevolge vir ander mense, ook die naaste aan jou te doen. “Lidmate word aangemoedig om hulle keuses noukeurig te oorweeg en ingeënt te word – om so jouself te beskerm, diegene wat jy liefhet te beskerm, om ons brose samelewing te beskerm en om ons ekonomie te help herbou,” sê Claassen.

Die NG Kerk wil verdeeldheid oor die saak van inenting met groot sensitiwiteit benader. “Dit bly ’n moeilike saak en soms verdeel dit selfs huweliksmaats en gesinne. Dit is egter nie ’n saak wat vermy moet word nie,” sê Claassen.

Hy stel voor dat veilige ruimtes vir gesonde debat geskep word. Daar is immers heelwat op die tafel in ’n gesprek oor inenting. Een hiervan is die gesprek rondom die outonomie van die individu, individuele vryheid versus die belange van die breë gemeenskap, want die Covid-pandemie dwing ons as gelowiges om krities na te dink oor ons verhouding met ander mense.

Deur ’n posisie teen inenting in te neem het implikasies vir ander en skep die risiko onder meer dat kerke gedurig sal moet sluit as die infeksietelling verhoog, jong mense in die steek gelaat word as skole moet sluit, gesondheid­stelsels oorbelas word terwyl noodsaaklike mediese dienste aan byvoorbeeld dié wat kanker het versaak word … en wat van leraars se besoeke by ouer mense of ander wat nie ingeënt is nie of andersom? vra hy.

LEES OOK: ‘Jongmense wat ernstig siek word van Delta-variant en mense wat entstof weier ’n bekommernis,’ vertel dokter van Mosselbaai

“Deur alles in my vermoë te doen, en dit beteken onder andere om my te laat inent, bewys ek liefde aan myself, my gemeente, my gesin, my gemeenskap en elkeen wat my pad kruis om hulle nie in gevaar te stel deur die virus te versprei nie. Om jou te laat inent is ’n liefdesdaad aan jou en jou naaste.”

Volgens Claassen gee die Bybel nie ’n duidelike antwoord of inenting reg is of nie, maar hy meen die Bybel gee ons wel duidelike beginsels, naamlik dat liefde vir God en ons naaste die samevatting van die wet is. Verder dat die liefde nie sy eie belang soek nie.

By monde van Claassen en ander kerkleiers, het die NG Kerk al herhaaldelik vanuit ’n pro-lewe-standpunt lidmate aangemoedig om hulle te laat inent omdat mediese navorsing daarop dui dat, hoewel inenting mense nie noodwendig vrywaar daarvan om die virus op te doen nie, dit die mees effektiewe beskerming bied teen ernstige siekte, hospitalisering en dood.

Word 'n vriend van Kerkbode

2 thoughts on “‘Om jou te laat inent is liefdesdaad aan jou naaste’ – NG Kerk

  1. Giel Davel says:

    Laat die teen-inenters liewer toe om hulle eie byeenkomste te hou. Die Algemene sg. Christelike kerke is al lankal besi g om leeg te loop en hulle predikante sonder beroep en salaris te los.
    Lig en duisternis is twee pole waarheen die Nuwe Wereld op afstuur wat waargeneem word deur Anti-wereld burgers.

  2. Gerhard Viljoen says:

    En net so verloor die NG kerk my as n lidmaat. Die kerk het duidelik presies in die lokval geval Bill Gates en kie op Event 201 (nog voor Covid) bespreek het om kerke te kry om mense te oortuig om hul beplande inentings te neem. Deur SLEGS op die amptelike bronne te fokus (soos wat Solidariteit gedoen het), word 1000e wetenskaplikes se opinies oor die inenting bloot geiignoreer. Dit sluit in Dr Geert vanden Bosche wie een van die grootste Inentings firmas in die wereld bestuur asook die ontwerper van die nuwe inenting, Dr Robert Malone en vele meer.

Comments are closed.