Inenting: Jou siening het implikasies vir ander en jou spiritualiteit

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Kobus Smit skryf:

Ek loop nou die dag ons buurvrou op straat raak. Sy het Covid gehad en was vreeslik siek, so ook haar man. Hulle is baie ernstige Christene en getroue lidmate van ’n charismatiese kerk. Ek verneem toe na haar welstand en bewoë vertel sy my van die dieptes van ellende waardeur sy gegaan het en hoe dankbaar sy is dat die Here haar genees het. Toe ons oor inenting praat, steek sy vas: “Ek laat my nie inent nie. Dit is teen my godsdiens”. Sy laat val toe dat hulle vir haar dogter in Noorweë wil gaan kuier, maar besef ook bewys van inenting sal ’n vereiste wees. Toe voeg sy by “liewe Jesus sal ook vir my ’n deur oopmaak om te kan gaan”.

LEES OOK: ‘Jongmense wat ernstig siek word van Delta-variant en mense wat entstof weier ’n bekommernis,’ vertel dokter van Mosselbaai

Daar is natuurlik baie redes waarom mense hulle nie wil laat inent nie. Ook te verstane. Die sosiale media het hulle met soveel mites en leuens verwar, selfs medici, dat hulle nie weet wat om te glo en wat nie. Daarmee het ek baie simpatie en deernis, ook met hulle vrese en kommer. Die virus ontsien niemand nie en maai oud en jonk in hulle duisende af.

Maar dit is nie so eenvoudig om net te besluit ek laat my nie inent vanweë godsdienstige of ander redes nie, want ons is sosiale wesens wat nie in kokonne en geïsoleerd leef nie. Ons is deel van ’n familie, ’n geloofsgemeenskap, samelewing en selfs ’n internasionale gemeenskap.

Christene kan ook nie redeneer hulle inenting is ’n saak tussen hulle en God en dat dit niks met ander mense te doen het nie, want hulle verhouding met God het alles te make met hulle naaste en die skepping (kosmos). Dít raak die tweede gebod baie direk: die liefde tot die naaste en hulle geluk, gesondheid en welsyn. As my buurvou, wat haar nie wil laat inent nie, gaan inkopies doen of ’n sosiale funksie bywoon, stel sy ander mense in gevaar. Die rektor van die Universiteit Stellenbosch het dit mooi vir sy studente gestel: “No jab, no jol”.

LEES OOK: #Covidverhale: Maak ’n verskil, al is dit net vir een

Die keuse tussen inent al dan nie raak al die sfere van die samelewing: die ekonomie, sport, gesondheid, opvoeding. Die effek van Covid op ons ekonomie is reeds kolossaal en vernietigend. Ons kan dit nie bekostig dat die ekonomie verder deur Covid vernietig word nie.

’n Keuse om nie ingeënt te word nie is natuurlik ook ’n keuse teen kudde-immuniteit, wat absoluut noodsaaklik is om die greep van die virus te breek. So ’n keuse dra ook by tot spanning en verdeeldheid in huwelike, gesinne, families, gemeenskappe en samelewings.

Christene wat daarvan uitgaan dat hulle nie die inenting nodig het nie, want “die Here sal hulle teen die virus beskerm”, maak hulle nie net los van die verhouding met hulle medemens en die kosmos nie, maar sluit ook God se sorg en voorsienigheid deur die mediese wetenskap en veral viroloë uit. Hierdie groep gelowiges verstaan nie dat God op natuurlike wyses vir die mensdom deur die mediese wetenskap en tegnologie sorg nie. Hulle verwag dat God op bo-natuurlike wyse vir hulle moet sorg. Só ’n siening en keuse het nie alleen ernstige implikasies vir hulle spiritualiteit nie, maar ook vir die familie en samelewing waarvan hulle deel is.

Word 'n vriend van Kerkbode

3 thoughts on “Inenting: Jou siening het implikasies vir ander en jou spiritualiteit

  1. Koos Marais says:

    Kobus se betoog berus op die aanname dat ingeëntes minder aansteeklik is as nie-ingeëntes. Die wetenskaplikes sê egter dat eersgenoemdes wel die siekte oordra. My vraag is of daar enige wetenskaplike bewyse is dat nie-ingeëntes méér aansteeklik is as ingeëntes. Verskeie skrywers en sleutelbordsoldate maak dieselfde bewering en as dit wel so is dan is dit inderdaad ‘n etiese probleem om te kies om jouself nie te laat inent nie. Ek soek bewyse, nie opinies nie. Is daar dubbelblinde, lukrake en gekontroleerde longitudinale studies wat Kobus se aanname staaf?

  2. Lenois Stander says:

    Ek dink nie Kobus se betoog berus alleen op die aanname dat ingeëntes minder aansteeklik is nie. Veronderstel die antwoord is dat ingeëntes net so aansteeklik is wanneer hulle geïnfekteer word. Ek sê veronderstel dit vir die doeleindes van die argument, wetende dat dit moontlik nie die geval is nie. Dan bly die volgende steeds waar: 1) Mense wat ingeënt is, is minder waarskynlik om in die eerste plek aangesteek te word (sien CDC se webtuiste en hul verwysings na studies). Dit is ‘n belangrike onderskeid. Hoe maklik jy aangesteek word vs hoe maklik jy ander aansteek. Self al steek jy ander net so maklik aan ná inenting, doen jy jou medemens ‘n guns deur ingeënt te word aangesien jy minder waarskynlik is om Covid in die eerste plek te kry. As jy nie Covid kry nie (a.g.v. die inenting), kan ander dit nie by jou aansteek nie. 2) Afgesien van die vraagstuk oor hoe inenting aansteeklikheid beïnvloed, is dit ‘n onkontroversiële feit dat veel meer mediese hulpbronne spandeer moet word om mense wat nie ingeënt is nie, te behandel as mense wat wel ingeënt is. Dit is nie kosteloos vir die samelewing nie. Die mediese kostes word deur mediese skemas betaal, wat dit op die ou einde via premies moet verhaal. Alle lede van die skema deel daardie kostes. In die geval van publieke gesondheidsorg word die koste ook deur die samelewing gedeel. Daar is dus verskeie meganismes waarvolgens “jou sienings implikasies vir ander het”.

  3. Koos Marais says:

    As Lenois se argument geldig is dan moet ons begin vrae vra oor mense se totale leefstyl. Rook, eet, drink, onaktiwiteit, gevaarlike sport, soos fietsry (!), rugby, ens. Dan het wat mense doen ‘n impak op elke ander mens en dus die gesondheidsbesteding. En so kan ons die punt van die absurde bereik waar persoonlike vryheid nie meer bestaansreg het nie. Of is ons reeds daar? Covid is nie die enigste siekte of toestand wat die dood veroorsaak nie. Jou hartaanval kos my mediese fonds ook geld.

Comments are closed.