#Covidverhale: Maak ’n verskil, al is dit net vir een

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Covid-verhale is waar lesers vertel van hulle persoonlike geloofsreis tydens die pandemie. Stuur vir ons jou storie by helene@bmedia.co.za


Willem de Swyger (skuilnaam*) is ’n prokureur wat woon en werk op Stellenbosch, maar ook dig en skryf. Onlangs het sy eerste CD die lig gesien. Ná hy, sy vrou en hulle dogtertjie Covid opgedoen het, het hy die volgende geskryf.

Seesterre

Op ’n dag het ’n ou man strandlangs geloop. Hy het opgelet dat ’n storm duisende seesterre op die strand uitgespoel het. Hy het op ’n seun afgekom wat die seesterre een vir een opgetel en teruggegooi het in die see. Die ou man is getref deur die oënskynlike nutteloosheid van die taak. Daar was hopeloos te veel seesterre en baie van hulle sou sekerlik in ieder geval vergaan. Die ou man sê toe vir die seun: “Jy moet seker van lotjie getik wees. Daar is duisende der duisende seesterre op hierdie strand. Jy kan onmoontlik ’n verskil maak.” Die seun, wat aandagtig geluister het, buk toe weer af en tel onverstoord nog ’n seester op en gooi hom ook terug in die branders. Hy draai toe terug na die ou man en sê: “Ek het aan daardie een ’n verskil gemaak!”

Ek sal later terugkeer na die verhaal van die seesterre. Onlangs het ek, my vrou en ons dogtertjie al drie positief getoets vir Covid. My vrou het haar reuk- en smaaksintuie gelyktydig verloor. Behalwe vir moegheid en ’n sinusagtigheid was haar simptome redelik lig. My dogtertjie was bykans sonder simptome.

LEES OOK: Kerk moet nou vredemaker wees’

Ek was sieker. Ek het ’n doodse moegheid gehad wat ek net nie kon afskud nie, met lyfseer en knaende, kloppende hoofpyne. Genadiglik het ek nooit asemnood ervaar nie en kon ook ’n besoek aan die hospitaal vermy. My knap huisarts het my konstant daaraan herinner dat, solank as wat ek vryelik en sonder bystand kon asemhaal, ek eintlik niks het om oor te kla nie.

Ons lewe in onseker tye. Dit is ’n feit wat soos ’n paal bo water staan. Hierdie ongenooide virus, wat nou al meer as 15 maande in ons midde is, plaas ons in onbekende vaarwater en neem ons onwillig op reis na ’n onbekende bestemming, sonder die sekerheid van ’n kaart.

Met die derde vlaag nou in volle swang, voel dit vir my die sirkel word algaande nouer om ons getrek. Almal ken iemand wat siek is/was of is/was self ook siek. Baie mense het reeds geliefdes aan die dood afgestaan.

Vir my was die onsekerheid die ergste. Dit is die wesenlike basis van die vrees – die vrees vir die onbekende. Jy weet gewoon nie hoe jy op die virus gaan reageer totdat hy jou tref nie. Sommige mense het bykans geen simptome nie, ander sterf. En jy weet nie waar jy op die spektrum gaan land voordat jy pens en pootjies in die situasie is nie. Dit is vreesaanjaend.

Covid raak ons almal. My een vriend het beide sy ouers verloor. My kollega se seun moes noodgedwonge dae lank suurstof tuis ontvang omdat ’n groot Kaapse privaathospitaal gewoon nie ’n bed vir hom beskikbaar gehad het nie. ’n Ander kollega se ma was so siek hulle het vir die ergste gevrees – genadiglik is sy intussen besig om mooi aan te sterk.

My susterskind, wat ’n verpleegster is, plaas dag na dag haar lewe op die spel deur na haar siek pasiënte om te sien. Dan is daar hulle wat weer op allerlei ander maniere ly. Ek sien op ’n Facebook-groepie van my grootworddorp ’n 52-jarige man skryf hy en sy vrou het albei hulle werk verloor as gevolg van Covid. Hy ‘smeek op sy knieë’ vir ‘enige werk’. Hy vra nie eens vir vergoeding nie – net vir ’n dak oor hulle kop en ’n bord kos vir elkeen elke dag. Ek was skoon aangedaan.

En so, sonder dat ek dit beplan het, is ek aangespreek en besef ek duidelik hoe geneig ek is om steen en been te kerm en te kla. Hoe ek kla met die spreekwoordelike twee witbrode styf onder elke arm terwyl daar soveel ander mense is wat baie erger daaraan toe is as ek. Hoe ondankbaar ek is vir alles wat ek het.

Om van Stef Bos te leen: “Te veel ontevreden met alles; Te weinig tevreden met niets.”

LEES OOK: Van erediens na erediens op ’n doodnormale Sondag

Ek is nie ’n dominee, ’n pastoor, ’n priester, geestelike, dogmatikus of enige ander vorm van teoloog nie. Ek is net ’n gewone ou wat nie die antwoorde het nie. Wat worstel met my eie vrae en vertwyfeling. Wat probeer sin maak, soos wat ek nog altyd gedoen het, deur daaroor te skryf.

As wat volg vir jou soos ’n preek klink, weet dan net dat ek, in die eerste plek, myself aanspreek. Dat ek diep bewus is van die balk in my oë en dat ek weet dat my nommer 12-voete ook maar van klei gemaak is.

As ek oor die pandemie nadink, meld daar weer en weer ’n paar gedagtes by my aan. Die eerste is Jesus se belofte in Johannes 10 dat niemand ons uit sy hand sal ruk nie. Dit is ’n bemoedigende woord in ’n amper hopelose tyd. Kort daarna hoor ek Dawid praat van die Herder se stok en staf wat vertroos al moet ons ook deur ’n dal van doodskaduwee gaan.

Dan sluit Paulus by die gesprek aan en herinner my dat niks ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. Niks nie. Nie die vrees of onsekerheid vir Covid nie, nie hoë koors, doodse moegheid, erge lyfseer, kloppende hoofpyn, asemnood of hospitalisasie nie. Nie ’n ventilator nie en selfs nie eens die dood self nie. Niks nie. Hierdie liefde, waarmee ons volkome en volmaak liefgehê word, is absoluut onlosmaaklik vas aan ons, net soos wat ons absoluut onlosmaaklik vas is aan die Gewer daarvan. Hierdie liefde bly getrou selfs al is ons ontrou, dit bly voortdurend bemoeienis met ons maak en soek ons beswil (selfs al moet ons ook leed, pyn, lyding of onsekerheid verduur). Ons sal dalk eers volkome die implikasies hiervan verstaan wanneer ons ken soos wat die Here ons geken het.

Die tweede gedagte is CS Lewis s’n. Ek het ’n sagte plek vir hom, want hy verwoord wat hy glo so klokhelder duidelik dat hy dit telkens vir my ook oopsluit. Daarmee saam is hy eerlik oor wat hy nie weet of verstaan nie. Hy het op ’n kol geskryf dat God pyn en lyding gebruik as ’n megafoon. God gebruik pyn en lyding as ’t ware om ons aandag te kry op ’n wyse wat dalk andersins nie moontlik sou wees nie.

As dit waar is, en ek glo uit eie ervaring dat dit wel die geval is, is die vraag wat ons onsself moet afvra dit: “Watter lesse is daar dan wat hierdie Covid-pandemie ons, afsonderlik en gesamentlik, moet leer?” Let op dat hierdie vraag steeds relevant bly selfs as jy nie in God glo nie of sy bestaan betwyfel.

Die derde gedagte is dat krisissituasies die vermoë het om die heel beste en die heel slegste in die mensdom na vore te bring. Dit is amper asof die krisis sekere karaktereienskappe, wat nog altyd latent in ons gelê het, na die oppervlak roep.

Die skrywer, Rebecca Solnit, maak die volgende stelling in haar boek getiteld A paradise built in hell: The extraordinary communities that arise in disaster: “Horrible in itself, disaster is sometimes a door back into paradise, that paradise at least in which we are who we hope to be, do the work we desire, and are each our sister’s and brother’s keeper.”

Kan ek net hier bely dat mense wat Covid as nét negatief of nét positief beskou, my so effens irriteer omdat so ’n siening bykans altyd op ’n oorvereenvoudiging gebaseer is. Die lewe is gelukkig of ongelukkig meer genuanseerd as die absoluutheid van swart-of-wit denke.

So ook die samesweringsteoretici. Ek het iewers gelees dat om jouself te bekommer soos ’n wiegstoel is – dit gee jou iets om te doen maar dit kry jou nêrens nie. Só is dit ook met samesweringsteorieë. Dit is gewoonlik ’n verskoning vir baie praat en min doen. Dit is soos om ’n kortpad te probeer vat deur ’n komplekse probleem. Of om beheer te probeer terugneem in ’n situasie waar ’n mens lank reeds beheerverlies akuut ervaar.

Ek wil dit ook duidelik stel dat ek innige simpatie met die regering het. Hulle het ’n onbaatsugtige en onbenydenswaardige taak. Hulle is nou behoorlik tussen die duiwel en die diepblou see. Enersyds kritiseer die medici hulle as die inperkingsmaatreëls beskou word as te laat of onvoldoende. Andersyds kritiseer die sakelui hulle as die inperkingmaatreëls beskou word as voortydig of oormatig. Van hulle word verwag om ’n uiters delikate balanseertoertjie uit te voer in belang van die meerderheid mense in omstandighede wat voortdurend aan die verander is. Miskien moet ons hulle minder kritiseer en meer vir hulle bid.

Die pandemie konfronteer ons en vra van ons om ons lewe in heroënskou te neem. Om ons keuses te heroorweeg en plek-plek te herbesin oor wat vir ons werklik van belang en van waarde is. Met verloop van tyd sal hierdie pandemie verbygaan en ons sal leer om met die nagevolge en dralende simptome saam te leef.

LEES OOK: Wenke wat werk vir kerkwees in Covid-tyd

Die aard van die wêreld is vlietend en immer veranderlik. Wat gaan oorbly om ons en, meer belangrik, ín ons ná die pandemie? Sir James Barry, die skepper van Peter Pan, het lank gelede al gevra: “Shall we make a new rule of life from tonight: always be a little kinder than is necessary?”

Ek laat jou met ’n paar vrae van my eie. Jy kan dalk, in die stilligheid van jou binnekamer, hierdie vrae oorweeg, oordink en so eerlik as moontlik probeer beantwoord. Skyn jy, in hierdie donker tyd, die lig wat net joune is? Bemoedig jou woorde en dade jou medemens of doof dit die vlam van hulle hoop uit? Waag jy dit om jou medemens se kruis van leed en lyding te help dra? Kyk jy, so goed as wat jy kan, na die mense wat aan jou sorg toevertrou is? Gee jy werklik om of staan jy afsydig teenoor die nood van ander? Raak jy betrokke of bly jy gemaklik van die kantlyn af kritiek skree? Gaan hierdie krisis vir jou oor meer as jouself en jou eie belang?

John Wesley se woorde kom onwillekeurig by my op: “Do all the good you can, by all the means you can, in all the ways you can, in all the places you can, at all the times you can, to all the people you can, as long as ever you can.”

As hierdie krisis jou uit jou gemaksone ruk – as dit jou noodsaak om jou fokus te verskuif na buite die beperktheid van jou eie klein wêreldjie en die nouheid van jou eie belang – werk God se megafoon dalk verbasend goed.

My pa was ’n wyse man. Hy het altyd gesê dat mense soos die negatiewe van foto’s is. Dat hulle kleur slegs te voorskyn kan kom wanneer die rooi lig van iemand anders se liefde op hulle skyn. Laat die rooi lig van jou omgee-liefde, veral in hierdie donker tyd, vrylik op jou medemens skyn sodat hulle kleure kan ontwikkel.

Wees jy, soos Ghandi gesê het, die verandering wat jy graag in die wêreld wil sien.

Wees die verskil selfs al lyk die taak oorweldigend, verlammend groot of oënskynlik nutteloos. Selfs al lyk dit of daar heeltemal te veel is om te doen en te min tyd om dit te doen. Al lyk dit onmoontlik en asof jy nie enigsins ’n verskil kan maak nie. Onthou dan ’n seuntjie wat sy vyf broodjies en twee vissies gebring het, selfs al het dit na hopeloos te min gelyk. Maar dat sy min, in die hande van die Meester, vermeerder het, voldoende geword het om ’n groot skare te voed. Onthou dan, juis dan, ook ’n ander seun. Die een op die strand. Onthou die verhaal van die seesterre. Bepaal jou fokus net by die volgende seester. Een seester op ’n slag. Een tree op ’n slag. Een dag op ’n slag. Tel hom geduldig op en gooi hom getrou, liefdevol en vasberade terug in die branders. Hou net aan en moenie moed verloor nie. Vir ’n dapper hart is niks onmoontlik nie. En weet dat vir dáárdie seester, daardie één spesifieke seester, het jy ál die verskil gemaak.

*Skuilnaam: Die identiteit van die skrywer is aan Kerkbode bekend en word op versoek weerhou. – Red.

Word 'n vriend van Kerkbode