Wenke wat werk vir kerkwees in Covid-tyd

Kerkwees lyk heeltemal anders deesdae. Inrydienste en deurry-basaars, uitsaaidienste op YouTube of klankgrepe op WhatsApp … Covid-inperkings leer kerke nuut dink en doen. ’n Paar leraars vertel vir Heléne Meissenheimer wat hulle ervaar wat hulle bemoedig.

Ds Jaco van Niekerk is predikant in Mpumalanga by die NG Moedergemeente Ermelo, ’n groterige middedorp-gemeente met ongeveer 900 lidmate. Hy vertel hulle grootste uitdaging sedert grendeltyd is om mense weer úit hulle huis en in die kerk/by die braai te kry (dit is natuurlik in tye wat sosiale byeenkomste tot ’n beperkte mate toelaatbaar is).

LEES OOK: Dominee quasimodo se kerkklok-avonture

“Die pandemie het ons almal se vrymoedigheid seergemaak.”

Op ’n gewone Sondag in die middel van die wintervakansie is daar nooit minder as 100 mense in die kerk nie, dus ’n kerkdiens vir net 50 sou nie werk nie. Daarom het hulle ’n inrykerk begin. Die dominee staan op die trappies voor die kerk en saai die diens op ’n bepaalde FM-frekwensie uit. Die lidmate sit op die parkeerterrein in hulle motor met hulle koffiefles en kniekombersie en luister op hulle motorradio (sien foto onder).

Ds Luné Dorfling staan buite agterop ’n bakkie en bring die boodskap met ’n inrydiens vir die NG Moedergemeente op Ermelo. Foto: Jaco van Niekerk

Die diens kan ook gevolg word op ’n lewendige facebook-uitsending. Later dieselfde dag word ’n klankgreep ook op die gemeente se WhatsApp-groepe uitgestuur.

Ook op Richardsbaai word eredienste op ’n FM-frekwensie beperk tot die kerkgronde uitgesaai. Mense sit in hulle kar of met maskers aan buite op kampstoele wanneer die beperkingsregulasies minder streng is, vertel ds Marlize Malherbe.

Ds Jan Fourie staan elke Sondag op ’n buitekansel gebou op ’n ou sementdammetjie buite die NG Kerk Outeniqualand se kerkgebou so 18 km buite George en preek op ’n beperkte FM-frekwensie terwyl die gemeente in hulle kar sit en luister. Op ’n goeie Sondag is daar tot 90 karre, vertel hy.

“Ons bedien die doop, ons bedien nagmaal en ons het bevestiging van nuwe lidmate al gedoen,” vertel Fourie oor hierdie nuwe formaat van buitelugdienste. Hy sê die gemeente is so bly om mekaar op hierdie manier darem te kan sien op Sondae.

LEES OOK: NG Kathu vier 45 jaar met deurryparty

Ander gemeentes soos die NG Kerk Bloubergstrand verkies om hulle dienste vooraf op ’n Donderdag reeds op te neem in ’n video-opname. Dit word dan deur ’n professionele persoon geredigeer voor dit Saterdagaand op hulle YouTube-kanaal en sosiale media gelaai word.

“Aan die een kant maak dit die werk meer omdat ’n mens al op ’n Donderdag moet kan preek, maar dit het ons groter beheer oor die kwaliteit van die video’s gegee,” sê ds Elmarie Dercksen.

Sosiale media-platforms soos WhatsApp-groepe, facebook en instagram het goeie kanale vir kommunikasie geword, maar dit kom saam met ’n leerproses hoe om hierdie media gereeld en doelgerig te gebruik, sê Dercksen.

“Wat my die afgelope jaar baie bemoedig het, is dié dat gesinne wat oor die jare stelselmatig op die agtergrond geskuif het, nou elke week twee of drie keer van die kerk hoor, en weer betrokke geraak het – nie net in persoon nie, maar ook wat hulle bydraes betref,” sê Van Niekerk oor hulle ervaring om weekliks Bybelstudies en nuusbriewe uit te stuur op sosiale media.

Die NG gemeente Alberton-Wes het weer hulle eie toep (app) waarop lidmate alles kan vind van die weeklikse erediens, Bybelstudies, gemeentebriewe en nuusblaaie tot die Kerkbode. Die toep kan afgelaai word in ‘Google Playstore’.

Vir die wintervakansie het die NG gemeentes van Alberton hande gevat om ’n boks vol vakansiepret vir kinders tussen 5 en 12 bymekaar te sit. Die boks bevat stories, aktiwiteite, idees vir handwerk en geloofsgewoontes – genoeg vir sewe dae se pret terwyl die kinders ook van die Bybel leer.

Kerke moes ook nuwe maniere vind om fondse te in as deurkollektes en basaars. Die Ermelo-gemeente leer om eredienskollektes te doen met Snapchat. Alberton-Wes het weer groot sukses met ’n deurry-basaar gehad, vertel Louw. Bestellings is vooraf op bestelvorms ingevul en op die dag van die basaar by die kerk afgehaal.

Alberton-Wes se bobaas-bakkers vlytig besig met die pannekoekbestellings vir hulle deurry-basaar. Foto: Verskaf

Talle kerke ondersteun behoeftige gesinne. By Alberton-Wes kan lidmate wat hulle werk verloor het of werkloos is hulle CV’s by die kerkkantoor indien. Die kerkkantoor stuur dan inligting oor werksgeleenthede aan. Die gemeente het ook ’n aanlyn-omgeeblad waarop lidmate hulle produkte en dienste kan adverteer.

Baie kerke doen ook geweldig baie om hulpbehoewendes in hulle gemeenskap te help. So het die NG Bloubergstrand-gemeente verlede jaar meer as 37 000 sop-etes uitgedeel en was die gemeente ook betrokke by die Ysterplaat-kospakkieprojek. Tans gebeur noodverligting deur die gemeente se betrokkenheid by twee hulpverleningsorganisasies, Bloubergstrand Maatskaplike Dienste en Isibindi Initiatives.

Malherbe vertel in hulle gemeente op Richardsbaai is ’n tannie wat in haar huis bly en truitjies brei vir kinders. ’n Ander vrou maak weer jaffels vir skoolkinders.

Ook die verpleegpersoneel en medici wat in hierdie pandemie so hard werk is nie vergeet nie. Alberton-Wes het beskuit by die Unie- en Clinton-hospitaal gaan afgee met ’n dankie-kaartjie (foto onder).

Wat doen julle gemeente wat anders en nuut is? Vertel ons gerus daarvan in die kommentaarafdeling.

Word 'n vriend van Kerkbode