Dominee Quasimodo se kerkklok-avonture

My grendelstaat-avonture in Blancogemeente, George se kerkgronde en kerktoring. Deur FRANCOIS MULDER.


En daar word goeie gereformeerde dominees oornag YouTube- en TV-predikers met getroue “followers” en “subscribers” wat geleer het van klik, stream, like en Joetjoep.

Jou 20-jarige seun, in plaas van by Universiteit Stellenbosch se Huis Visser, is vasgekeer by sy pa, ma en matrieksuster. Hy word jou amptelike videograaf en Youtube-konsultant. “Action!” weer­klink dit deur die leë kerkgebou. Na 15 minute van jou preek opneem, beduie hy na sy horlosie. Jy maak of jy hom nie sien nie en preek lustig voort vir nóg 15 minute. Dié keer sê hy nie soos na julle eerste preekopname twee weke gelede, “Well done, Dad!” nie. Millennials en hulle aandagspan!

“Hierna volg ‘Kyalami-pylvak’ se 50 treë verby die kerkgebou se voordeuringang,” skryf Francois Mulder oor die Blanco-gemeente in George se kerkgrond wat sy nuwe drafroete geword het.

Ewe skielik is ek en my kollegas – Cornie en Ferdi – bedrewe Zoomers wat ons weeklikse beplanning- en saam­bidsessies aanlyn hou soos wafferse besigheidsmanne. Hier in Blan­co is ons egter nog fibre-loos en soms stotter die gesprekke.

Kyalami

Francois se grendelstaat-Strava-roete.

My vyf-dae-per-week oefenroetine word ’n pastorie-en-kerkgronde-avontuur: Ses rondtes met die 7de soos rond­om Jerigo se mure met musiek (natuurlik “Chariots of fire”) en ’n gesnak na asem. Na die 10de dag se oefen, doop ek elke kurwe en draai van die roete met ’n naam à la Kyalami:
Eers gooi ek esse by “Pastoriesirkel”, waarna ek verby die “Gedenkmuur” draf. Die “Konsistorietrappe” word drie maal op en af gedoen, gevolg deur ’n omdraai by die “Kerkkantoor T-aansluiting”. Die “Kuierarea Cul-de-sac” en “Jeuglokalehoek” word ge­volg deur “Eevee-Draai”, vernoem na ons Maltese poedeltjie se deur-die-kerk-pallisade-weghardloop vroeër die week. Die “Kleuterkerk-Klimraam-Uitda­ging” volg nadat jy by die “Nuwe Byenes” verby is. Die verste hoek van die roete noem ons “Boom-van-die-Lewe-halfwegstasie”, want onder dié boom gaan ons nog piekniek hou. Hier­na volg “Kyalami-pylvak” se 50 treë ver­by die kerkgebou se voordeuringang en dan op en af by “Kruis­hoogte”.

“Lover’s Lane” is waar ek en my vrou stop om mekaar élke rondte ’n drukkie te gee. Van hier af is dit terug na die kuipe by “Pastoriesirkel” – rondte 1.

A wedding and three funerals

’n Troue, geskeduleer vir die Saterdag ná die lockdown begin, word inderhaas vervroeg na die Woensdag, met die gastelys wat skielik vanaf 72 na 16 verminder. Ons kom bymekaar in ’n bos bokant Heatherlands in George langs ’n boom wat my laat dink aan die fliek Avatar. Daar’s alkohol-handreiniger en ’n paar gaste dra maskers. Die bruids­paar gaan saam lockdown, dus met die “you may kiss the bride” laat die bruidegom geen sosiale afstand tussen hom en sy bruid kom nie. ’n Ander troue wat op Paasnaweek se stil Saterdag sou plaasvind, word noodgedwonge uitgestel.

Tydens die eerste 21 dae van inper­king moet ek drie dankdienste hou vir gemeentelede wat sterf (nié agv die virus nie.) Met familie en vriende versprei regoor die land, is daar baie twyfel oor wat die beste vir almal sal wees. Twee van die drie dienste vind virtueel plaas: Ek neem ’n 15 minute dankdiens op wat via WhatsApp wêreldwyd versprei word aan familie en vriende om op ’n spesifieke dag en tyd saam te luister. Die ander dankdiens vind plaas by George se begraafplaas waar ons saam met emeritusdominee Stoffel Buys sy vrou Ralie groet na ’n huwelik van 61 jaar. Ons almal skryf ons name en ander besonderhede op AVBOB se vorm, ter wille van die SAPD. Wanneer oom Stoffel ná die preek gehelp word om blomme op haar kis te sit, salueer hy haar. Ek behou my afstand deurentyd, totdat oom Stoffel my nader wink en sy hand uitsteek om my te bedank. Hy het ’n blou plas­tiekhandskoen aan. Ek vat sy hand en herhaal in my gedagtes die woorde “moenie aan jou gesig vat nie, moenie!” Een van die kleinseuns, wat vroeër deur sy selfoon gekoppel aan ’n 30 cm speaker “Die oorwinningslied” gespeel het terwyl die kis gesak het, is besig om my en oom Stoffel af te neem op video. Skielik trek oom Stoffel my nader vir ’n omhelsing. Die kleinseun se video behoort dit duidelik te wys: Iemand vasgekeer in ’n onmoontlike situasie. Die president sê moenie, jou pastor-hart sê JA! En jy kan jouself nie keer nie en gee voluit ’n troos-druk aan een van die Here se spesiale seuns.

Terug in jou made-in-China voertuig vat jy twee spuite van die alkohol-hand­reiniger.

Kerkklok

Dan besluit die Ring van George (vyf George-gemeentes: Moedergemeente, Blanco, George-Suid, Tuinedal en Outeniqualand plus Uniondale en Herold) om op Opstandingsondag om 10:00 die kerkklokke vir drie minute in oorwinning te laat beier. Maar die grendelstaat-wetgewing is baie duidelik: Slegs inwonende werkers en leraars mag die kerkgronde en geboue betree. Montagustraat 31 in Blanco is reeds vir 13 jaar my en my gesin se pastorietuis­te. Ons deel een groot erf met die kerkgebou. Dus, regstegnies bly ons op die kerkgronde. Maar, onthou ek skielik, ons kerkklok is die laaste jaar doodstil. Se­dert die kerkklok tydens die vorige beurtkragsiklus ’n volle meter geval het uit haar skarniere tot op die toring se boonste verdieping, gee sy moeilikheid. Sy dra ’n geboortemerk wat lees “AD 1973” en is van Europese afkoms. Oom Martin Weideman, tannie Annatjie, een van ons lidmate se oorlede man, het die kerk en toring gebou en die klok geïnstalleer. Sy is gemonteer as deel van die 1 ton boonste deel van die kerktoring, in 1975. Oom Martin het dit opgesit met nét steierwerk en toue. Ek sien die kerkgebou se hoek­steen is op 12 Oktober 1974 gelê deur ds JR Müller.

Francois moes Paasfeesoggend verskeie lere bestyg om bo by die kerkklok uit te kom. Dis nadat die Ring van George besluit het om op Opstandingsondag om 10:00 al die gemeentes se klokke vir drie minute moet laat beier.

Maar terug by die klok se moeilikheid: ’n Paar jaar gelede het die kontrakteur gespog dat die herstelproses blitsvinnig sou wees. Maar toe die koster die eerste Sondag weer wegtrek met sy toutrekkery, gee die klok net een kwaai ghong-geluid en weier volstrek, voete in die lug, om verder saam te speel. Deesdae gee sy wel haar teësinnige samewer­king, maar sy klink nie meer soos in haar astrante, uitbundige jeug nie. En toe breek die tou – ’n elle­lange kabel vanaf die klok na die toring se grondvlak. Intussen word sy omring deur selfoonmaatskappy-kontrêpsies wat haar claustrophobia gee. Sy word doodstil, tot 12 April 2020.

Paasfeesoggend is ek slaggereed om die toring via verskeie lere te bestyg. Ek wil eers die klim en luiery livestream op Facebook, maar onthou weer Blanco se agterspeen-suigery as dit kom by wifi. Ek besluit om die op-tog via iPhone te verewig vir die nageslag. Alles loop seepglad totdat ek my kop deur die opening by die 3de verdieping van die toring steek. ’n Woeste gefladder laat my byna afval na benede, maar ek hou my balans en sien vreemde vlerke op en af flap. Dit is ’n verskrikte nonnetjiesuil wat broei op haar ses eiers. Sy sien uiteindelik in my oë dat ek ’n vredeliewende Quasimodo is en laat my toe om versigtig by haar verby te klim na bowe. Na die 50 ste leertrap is ek bo, maar dis tricky om myself finaal met my arms op te tel tot bo.

Wát ’n uitsig! Die Outeniquaberge in Oudtshoorn se rigting, Heroldsbaai en Glentana se see in Mosselbaai se rigting. Tienuur slaan en ek laat die klok voluit die goeie nuus van Jesus se opstanding uitbeier. Drie minute lank, linkerwys­vinger in my linkeroor omdat ek oorproppe vergeet het, lui ek die Paasfees­klok met my regterhand.

45 jaar ná haar eerste inwydings-ghonggeluid roep sy te midde van ’n wêreldwye krisis uit: Die dood is oorwin, die graf is léég, Jesus lééf!

Skielik is alles weer stil, maar my gemoed voel skoon, al tuit my regteroor met ’n dowwe ghong-geluid en voel ek ’n skeelhoofpyn aankom bo my linkeroog …

Op ons Ring-van-George Whats­App-groep skerts die Quasimodo-do­mi­nees ná hulle klokluiery:
“My skouer het na 2 minute gelock!”
“My hande het blase op … ons koster se fooi sal na dese verhoog word!”
“My dogter vra of die Ring kan goedkeur dat die klokke nét 1 minuut lui op Sondae om 10:00.”
“Julle is almal te lank in lockdown!”

Maar my 23-jarige pasgetroude seun het die beste opmerking van almal:
“Laat die uiltjie die klok in die vervolg lui. Sy is klaar ‘opgelui’ vir die pos aangesien sy ’n non is!”

Ds Francois Mulder is een van drie le­raars by die NG gemeente Blanco op George.

One thought on “Dominee Quasimodo se kerkklok-avonture

  1. Hybie says:

    Dankie Francois! Die skrywe baie geniet en gedeel !
    Blanco familie groete

Comments are closed.