Van erediens na erediens op ’n doodnormale Sondag

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Iewers in die plakkerskamp buite die dorp sing mense ’n trekkerige kerklied. Ek stap al hoe dieper tussen die sinkhutte in. Dis ’n Sondagoggend, net ná nege.

Die vorige dag nog het die inwoners betoog teen die plaaslike munisipaliteit se swak dienslewering en klippe na die polisie gegooi. Die polisie het terugge­skiet met rubberkoeëls. ’n Jong man is dood. Nou is hulle in die kerk.

LEES OOK: Jaco Strydom gesels met André Bartlett

Ek is op pad die binneland in en het vroegoggend die plaaslike koerant by die kafee gekoop. Ses en twintig kerke adverteer hulle dienste in die koerantjie. Ek wil by soveel as moontlik van daardie kerke vanoggend ’n draai maak, het ek besluit. Miskien moet ek die dorp se naam eerder verswyg, want dit is die storie van byna alle dorpe en voorstede.

Die singende stemme kom uit ’n sinkgeboutjie in ’n oopte tussen die plak­kershutte. “Come to me, Jesus,” sing hulle. “Come to me, Jeee-e-suss.” Die geboutjie is nie veel groter as ’n voorstedelike motorhuis nie. By die deur staan die prediker, uitgevat in ’n pak klere en ’n paar langpuntskoene.

Hulle is die Holy Revival Movement, sê hy, en vandag word nie geprotesteer en baklei nie. “Today we pray.”

Ek gesels nog ’n bietjie met hom en stap terug na my bakkie toe. Die Ver­enigende Gereformeerde Kerk (VGK) is nie baie ver hiervandaan nie, in ’n ouer gedeelte van die township waar steenhuise is. Dit is omdat die VGK jare gelede tot stand gekom het vir die NG Kerk se bruin lidmate, wat gedwing is om hier apart te leef van die mense in die grootdorp. Meer as honderd jaar al bestaan dit as twee afsonderlike kerke.

Die VGK se kerkgebou lyk baie soos die NG kerke waarmee ek grootgeword het. Jy sien die toring van ver af. Reguit sementpaadjie van die hekkie tot by die voordeur. Die diens is al aan die gang. Ek vertoef ’n paar oomblikke in die kerk se portaal. “Loof Hom met die tromme,” sing die gemeente. “Loof Hom met die klinkende simbale …”

Twee strate van die VG kerk af, stap ’n man in ’n rooi hemp en ’n das. Sy swart skoene blink. Hy is in die AGS, sê hy. Hulle kerkgebou is net hier om die draai.

En doer oorkant in ’n klaskamer by die skool hou die Ou Apostolies kerk. Minder as ’n kilometer verder hou die Nuwe Apostolies kerk in ’n groot, leë vertrek wat eers ’n winkel kon gewees het. By beide klap die gemeente terwyl hulle sing.

LEES OOK: Nuwe pelgrimsroete: Geloof, hoop en roosterkoek

Die Anglikaanse Kerk is hier, só lyk dit, ’n Afrikaanse kerk. Op die kennisgewingbord voor die gebou staan in Afri­kaans: “Eredienstye.” Die banke sit reeds vol mense.

Buite staan een van die kerkraads­lede. “Hier is vier en vyftig kerke op die dorp,” sê hy sonder ’n sweempie twyfel, “dan is daar nog ’n klomp kleintjies ook. Huiskerke.”

Die Pentecostal Revival Ministries. Die Ware Christen Pinksterkerk. Die Holy Revival Church.

In die Pinkster Protestante Kerk op die rand van die dorp doop die pastoor twee ouerige mans. Met oorgawe sak hulle af op hulle knieë wanneer die pastoor sy hand in die doopbak druk en druppend na hulle voorkop toe bring terwyl iemand in een van die agterste banke roep: “Halleluja!”

Die NG Kerk is in die middedorp naby die kafee waar ek vroegoggend die plaaslike koerant gekoop het. Ek parkeer voor die kafee en stap na die kerk toe. Die horlosie in die toring is op tyd: Dis byna kwart voor tien. Die diens is besig om ’n crescendo te bereik. ’n Stewige trop Hilux- en Ford Rustler-bakkies staan onder die bome. Langs die roosbedding is ’n verweerde man wat ’n ogie hou oor als buite die kerk. ’n Mens weet nooit. Selfs kerke word deesdae beroof en besteel. Ek waai in sy rigting, hy waai terug, en ek stap suutjies by die kerkgebou se trappies op, tot in die portaal. Jy kan die preekstoel hiervandaan sien. “So spreek die Here,” staan op die wynrooi kanselkleed. In die moeders­kamer huil ’n baba gedemp agter dik glas.

LEES OOK: Brief uit Amersfoort: Soveelste plaasaanval ruk klein gemeenskap

Die predikant se stem is bedaard. “Ons moet leer om soos Jesus te word,” sê hy in ’n stem baie sagter en sonder die melodramatiese verbuigings van die ou geslag dominees. “Ons moet Jesus se woord hier op ons dorp uitdra. Ons moet die dorp vir Jesus wen. As ons dit nie doen nie, gaan hier oor tien jaar niks wees nie.”

Ek stap terug na die kafee waar my bakkie geparkeer staan, met die predikant se woorde wat my agtervolg. Ek be­stel ’n koffie en gaan sit by een van die tafeltjies. Jy kan van hier af mooi sien wat in die middedorp gebeur. Oral is mense. Baie van hulle is plaaswerkers wat kerk toe gekom het. Hulle gesels en lag en klim terug op die vragmotors en sleepwaens wat hulle van die plaas af gebring het om na die kerk te gaan waar elkeen van hulle tuis voel. Almal is swart of bruin.

By die NG Kerk se terrein ry ’n string karre uit. Omtrent almal in die karre is wit.

Dit is op die oog af ’n doodnormale Sondag op hierdie dorp. Straatop lê gebrande buitebande langs die pad.

Eers môre sal alles weer anders hier wees.

Word 'n vriend van Kerkbode