LEES & LUISTER: Jaco Strydom gesels met André Bartlett

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

’n Besige man met sterk opinies

Dr André Bartlett is ’n besige man. Hy is onder andere voorsitter van die Hoëveld sinode, ’n skrywer wat besig is met sy derde boek, hy is verantwoordelik vir voortgesette bedieningsontwikkeling by die Universiteit van Pretoria en ’n predikant by Johannesburg gemeente. Maar as ’n mens sy naam vandag hoor, dink jy veral aan sy betrokkenheid by die gay-debat in die NG Kerk.

Waar het alles begin?

“Ek was nog altyd lief vir die kerk en het in 1974 in my graad 11-jaar met die Jeug-tot-Jeugaksie tot die oortuiging gekom dat die Here my roep om predikant te word,” vertel André. Hy het in die Moot in Waverley grootgeword en skoolgegaan by Laerskool Voorpos en Hoërskool CR Swart. Sy oupa was ’n predikant en André het van kleins af baie nou met hom geïdentifiseer. Na skool studeer hy Teologie by Tuks.

’n Persoon wat tydens sy studentejare ’n groot invloed op hom gehad het, is prof Carel Boshoff. “Hy was vir my ’n vaderfiguur en mentor,” sê André, “en het my aan die Belydenis van Belhar bekendgestel.”

Ons gesels oor die gay-gesprek in die kerk. Waarom is dit vir hom so ’n groot passie?

LEES OOK: Gay mense word nog steeds gebrandmerk

André vertel dat daar deur die jare verskeie interaksies met gay mense was wat hom diep geraak het. Toe hy byvoorbeeld destyds as kapelaan op die grens was, het hy ’n koffiekroeg op die been gebring waar hy geestelike ge­sprek­ke met van die troepe kon hê. Een aand het ’n homoseksuele man met hom kom praat. Hy het vir die jongman gevra: “Hoe dink jy voel God oor jou?” André sê hy het gedink die ou sou sê hy weet dat God lief is vir hom, maar toe sê die man: “Ek dink God dink ek is ’n hond.”

Hierdie woorde het André diep ge­raak en hy het gevoel daar is iets groots fout met die kerk as dit is hoe ons gay mense laat voel.

Later het hy betrokke geraak by ’n sinodale studiekommissie oor die pastorale versorging van gay mense in die samelewing en by ander kerklike en akademiese gesprekke oor die saak.

André word vandag deur ’n klomp mense bewonder vir die durf en oortuiging waarmee hy opstaan vir gay mense in die kerk, maar ’n klomp kerkmense is ook kwaad vir hom. Daar is onlangs vyf klagte teen hom ingedien en die uitslag van die tugverhoor is pas aangehoor by die hoofkantoor van die Hoëveld sinode. Sy reaksie hierop is op Kerkbode se webwerf gepubliseer en die Kerkbode-redaksie het oor die gebeure berig.

André moes al dikwels kritiek ver­duur wanneer hy sterk gevoel het oor ’n saak. “Die mense was destyds net so kwaad vir my oor my sienings oor die Belhar-belydenis,” sê hy. “Maar ek het agtergekom die mense wat my goed ken is oor die algemeen minder negatief oor my, al stem hulle nie met my saam nie.” Hy sukkel om stil te bly wanneer daar ongeregtigheid is en veral wanneer hy voel dat mense se waardigheid aangetas word.

André sê dit is nooit lekker om gekritiseer te word nie, maar hy beleef dat, ten spyte van weerstand, daar ook deesdae groeiende openheid in die gay-gesprek te bespeur is.

“Ek dink daar is ’n toenemende aanvaarding van gays in die samelewing en in die kerk. In meer tradisionele gemeenskappe is daar nog weerstand, maar dit is minder heftig as voorheen. Gays het ook groter vrymoedigheid om openlik hulle seksuele oriëntasie te ver­klaar en dit maak dat baie vooroordele en stereotipes van die verlede afgebreek word,” sê hy.

Ek vra hom oor die nuwe Pepuda-wetgewing. Wat is sy opinie? Is mense verniet bekommerd? Moet ons die voor­gestelde wetgewing teëstaan of moet ons dit steun?

André sê hy is nog nie goed genoeg bekend met die volle inhoud van die wetgewing en wat dit alles sou beteken nie en sal eers graag meer wil uitvind, voor hy te veel daaroor sê. Hy waarsku egter dat ons in ons poging om gods­diensvryheid voor te staan en te be­skerm, versigtig moet wees dat dit nie lyk of ons diskriminasie wil goed praat of regverdig nie.

LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Naudé Kritzinger

“Ons behoort die beginsel wat in die Pepuda-wetgewing ter sprake is te ­steun, en saam met ander kerke en bur­gerlike organisasies ’n bydrae te lewer om die knelpunte en leemtes in die wet uit te skakel,” sê hy.

Wat is die groot uitdaging vir die NG Kerk in Suid-Afrika vandag?

“Die grootste uitdaging vir die NG Kerk is om op plaaslike, streeks- en landwye vlak saam met ander kerke op ’n daadwerklike wyse ’n verskil te maak aan die gemeenskappe en samelewing waarvan ons deel is. Dit sluit geestelike en materiële versorging en verhou­dingsbou in. Die liefde van God en die vrede van Christus moet al meer in ons sigbaar word,” sê André.

André is wyd betrokke by groot en diep dinge in die kerk maar hy glo ook in die “work hard and play hard” beginsel. Hy is lief vir tuinmaak, kook, lees, musiek en fliek – veral met ’n glas rooiwyn. Hy sê sy geestelike batterye laai wanneer hy met familie en vriende ­kuier.

Sy gunsteling Bybelvers in hierdie tye is Jesus se woorde in Johannes 20:21: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

  • Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG gemeente Villieria in Pretoria en die Echo-jeuggemeenskappe.
Word 'n vriend van Kerkbode

One thought on “LEES & LUISTER: Jaco Strydom gesels met André Bartlett

  1. Kruger du Preez says:

    Wonder hoeveel mense wat nou wydsprakig is oor selfdegeslag huwelike en die gay debat in die NG Kerk, die boek van Andre Bartlett: ‘Weerlose weerstand – Die Gaydebat in die NG Kerk’, gelees het? Baie goeie navorsing en ‘n basis vir gesprek. Hy sluit die boek soos volg af en ek sou graag wou beaam:

    “Miskien ontdek ons nog eendag ons gedeelde menswees (gay en nie gay), hoe eners ons is, ontdek ons ons eie weerloosheid; miskien ontdek ons in onsself die weerstand wat opstaan vir die Godgegewe waardigheid van alle mense.”

    “Weerstand wat nie meer geduld het met een stel reëls vir ‘straight’ mense en ‘n ander stel reëls vir gays nie; weerstand teen die misbruik van ‘n paar Bybeltekste teen hulle waarskynlike bedoeling in, om mense af te ransel net omdat hulle anders as die meeste ander is; weerstand wat nie langer geneë daarmee neem dat sekere mense tot ‘n lewe van eensaamheid en alleenheid verdoem word, terwyl ander die volheid van hulle menswees vir hulleself toeeien nie; weerstand wat sê: ‘Al wat van belang is, is geloof wat deur liefde tot dade oorgaan’ (Gal 5:6).”

    “Miskien is dit wensdenkery aan my kant. Maar wie weet, dalk tog ook nie. En daarom hou ek en ander aan om weerstand te bied. Weerlose weerstand. Maar ook niks minder as weerstand nie.”

    Goed gesê Andre! Ons respekteer jou brawe weerlose weerstand…

Comments are closed.