Gay mense word nog steeds gebrandmerk

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Naar vriendschap zulk een mateloos verlangen.

“So ’n eindelose begeerte (of ontsaglike verlange) na vriendskap.”

Hierdie woorde verskyn op ’n driehoekige marmerblad wat netjies tussen die uitgetrapte rooibaksteenplaveisel langs die Westerkerk in Amsterdam lê. As ’n mens nie weet dit is ’n monument nie, sal jy maklik verbyloop. As jy egter stop, sal jy sien dat daar eintlik drie driehoeke is – simbolies vir die verlede, hede en toekoms – wat saam een groot driehoek vorm. Daar is ook ’n wit bordjie wat sê:

“HOMOMONUMENT.

Herdenkt alle vrouwen en mannen die ooit vanwege hun homoseksualiteit zijn onderdrukt en vervolgd.

Steunt de internationale Lesbiesche en Homobewegingen in de strijd tegen verachting, discriminatie en onderdrukking.

Laat zien dat je niet alleen bent.

Roept op tot blijvende waakzaamheid.”

(Basies, ’n monument opgerig vir alle gay mense vir wie onderdrukking, vervolging, minagting en diskriminasie ’n werklikheid is/was, en om hulle te herinner dat hulle nie alleen is nie.)

Die Homomonument is ’n klipgooi van die Anne Frank-huis. Tydens die Tweede Wêreldoorlog, vertel ons toergids, is gay mense beskou as ’n subspesie – ’n bedreiging vir die suiwer, Ariese ras. Gay mense, ongeag hulle herkoms, geloof, ras of kultuur, is net soos die Jode eers van alle regte en menswaardigheid gestroop, en daarna is hulle vervolg. Die geskiedenis van vervolging begin met die dra van ’n pienk lapdriehoek, word gevolg deur gay mense wat moes vlug of wegkruip, en eindig in konsentrasie- en arbeidskampe waar gay mense saam met die Jode sterf. Dit begin by verontmensliking – want verontmensliking maak dit makliker om te diskrimineer – en dit eindig met dood. In die toergids se woorde: “All gay people were affected. Even those who were Christians, or were blonde with blue eyes. If you were queer, it was a death sentence. It starts with dehumanisation, and ends with death.” (“Queer” is die sambreelterm vir enige persoon wat aan die LGBTI+ gemeenskap behoort.)

LEES OOK: Wye reaksie op Pous se woorde oor gay-regte

Ek dink toe hardop: “Dit is tagtig jaar later, en gaywees is nog steeds ’n doodsvonnis vir baie mense!” In sommige lande word jy doodgemaak as jy gay is. Net vanoggend lees ek in die nuus van nóg twee gay mense wat in Suid-Afrika vermoor is, en dat geweld teenoor queer mense skrikwekkend toeneem in ons land. Tydens my besoek aan Zambië in 2019, is twee gay mans wat in ’n konsensuele liefdesverhouding is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis, nadat hulle “uitgevang” is. Regoor die wêreld word gay mense deur hulle (gelowige) families onterf en deur vriende verwerp. As ’n mens na die selfdoodsyfers onder jongmense kyk, is die oorweldigende meerderheid queer kinders wat net nie kans sien (of gesien het) vir ’n lewe vol diskriminasie nie.

Daar is dalk nie meer konsentrasiekampe nie, maar daar is definitief ’n oorlog, en net soos in die verlede begin dit met verontmensliking. Gay mense word nog steeds gebrandmerk. Hulle dra dalk nie pienk lapdriehoeke nie, maar hulle is die punchline van neerhalende grappe; hulle word uitgebeeld as swak, vreemd, onseker, vuil, onrein en/of siek; en die oomblik wat ’n persoon dit waag om uit die metaforiese kas te klim, word hulle verdoem, verwerp, verlaat, vergeet, vertrap of verontreg. Dieselfde emosiebelaaide verontmenslikende taal wat 80 jaar gelede gelei het tot arbeidskampe en brandoonde, word herroep om hierdie diskriminasie en onverdraagsaamheid te regverdig.

Een Sondagmiddag stap ek na die driehoekmonument langs die kanaal. Daar is reënboogvlaggies, foto’s van slagoffers van homohaat, kersies, kaartjies, blomme, wierook en rosaries – oorblyfsels van liturgiese rituele, en tasbare bewyse van mense se smart en leed. Ek gaan sit toe ’n rukkie en probeer stilraak, maar my binneste rumoer van hartseer en woede. Ek sien die gesigte van die talle gay mense wat my al vir pastoraat kom sien het. Ek onthou nog hulle stories – stories vol selfverwyt, skaamte, skuldgevoelens, trauma, selfdoodpogings, depressie, angs en vrees. Stories van dominees wat vir hulle gesê het dat hulle direk hel toe gaan. Stories van gemeentelede wat gestuur is vir hormoonbehandelings of na bekeringskampe, maar teruggekom het met diep letsels en onherroeplike sielkundige skade. Ek dink aan die begrafnisse waar daar geen familie was nie, die paartjies wat wou trou maar weggewys is, en die selfdoodpogings wat (gelukkig) onsuksesvol was. Ek dink aan die debatte by sinodes en die aggressiewe argumente van my kollegas. Ek dink aan opmerkings soos “Hoekom begin hulle nie net hulle eie kerk nie?”, wat basies vertaal kan word na “hulle is nie ons gelykes nie,” “hulle is nie soos ons nie,” “hulle verdien nie genade nie,” en “hulle behoort nie aan die liggaam van Christus nie.” (Ironies genoeg is dit dieselfde taal wat gebruik is tydens die Tweede Wêreldoorlog, en tydens Apartheid.)

LEES OOK: Voort met die gay-kwessie?

Wat ’n ontsaglike verlange na vriendskap! Wat ’n eindelose begeerte na aanvaarding en behoort in ’n wêreld (en kerk) waar uitgediende teologieë en partydige eksegese besluit waar jy hoort en waarheen jy gaan wanneer jy sterf. Hoe magteloos moet jy nie voel nie as dieselfde evangelie wat praat van onvoorwaardelike liefde, genade en vergifnis, ook gebruik word om onverdraagsaamheid en verontmensliking te regverdig?!

Die rumoer binne my raak erger. Ek besef dat ek ook al baie foute gemaak het. Ek het al gay mense veroordeel, was nie altyd ’n goeie vriend nie, en het selfs ’n paar gay mense te na gekom met die mag wat gepaard gaan met my posisie as predikant. Met toe oë mompel ek: “Kyrie, eleison!” Heer, wees my genadig.

Dit is dalk waarom gay mense so “heilig” is op iets soos Pridemaand. Na jare en jare se onderdrukking, diskriminasie, hartseer en woede, en in ’n wrede wêreld waar jy uiters weerloos is, is “homomonumente” nodig om jou te herinner dat hulle “niet alleen bent”. Vir ons gee dit die geleentheid om te stop, te kyk en te luister na die verhale van gay mense se verontmensliking – hulle “mateloos verlangen naar vriendschap” – eerder as om verby te loop en dit minagtend te ignoreer.

As liturgiese handeling gaan koop ek vir my ’n reënboogvlag-lapspeld, en steek dit as teken van solidariteit aan my hemp vas. Dit gaan nie noodwendig menselewens verander nie, maar dit help my om ’n beter naaste te wees. “Ubi caritas, et amor, Deus ibi est.” Heer, mag ek in gay mense se ontsaglike verlange na vriendskap genoeg deernis en liefde hê om hulle te herinner dat U waarlik en veral daar is vir hulle.

Ek kyk vir oulaas na die reënboogvlag – die oerverbondsteken van die God van die verlede, hede en toekoms se eindelose verbondenheid aan en liefde vir al sy kinders – en die rumoer raak stil.

  • Ds Mias van Jaarsveld is ’n tentmakerleraar by NG Gemeente Heuwelsig in Bloemfontein, en doen tans navorsing by die Vrije Universiteit Amsterdam, in Nederland.
Word 'n vriend van Kerkbode