Wye reaksie op pous se woorde oor gay-regte

’n “Aardbewing”. Dít is die begrip waarmee pous Franciskus se jongste uitspraak oor burgerlike verbintenisse tussen homoseksuele lewensmaats deur die amptelike webwerf van die Katolieke Kerk in Duitsland beskryf word. Dit het wyd uiteenlopende reaksie vanoor die hele wêreld – positief én negatief – ontlok.

Die pous het gepraat in ’n dokumentêre televisieprogram, Francesco. In ’n uitspraak van sowat 20 sekondes sê hy: “Homoseksuele mense het die reg om in ’n gesin te wees. Hulle is kinders van God en het ’n reg op ’n gesin. Niemand mag uitgegooi word of ellendig daaroor gemaak word nie. Wat ons moet hê, is ’n burgerlike verbintenis – op dié manier word hulle regtens gedek. Ek het dit gesteun.”

Dit is nie die eerste keer dat Franciskus begrip vir homoseksuele mense toon nie. Reeds in 2010 het hy as kardinaal Mario Bergoglio van Buenos Aires in dié rigting gepraat.

Die pous se standpunt is nie bepalend vir dié van die sterk verdeelde NG Kerk nie. Maar dit wys wel dat iets in die breë Christelike wêreld aan die verander is.

Dit is belangrik om te bepaal wat die pous se uitspraak nié is nie. Dit is nié ’n amptelike repudiëring van die Katolieke standpunt dat ’n huwelik slégs vir ’n man en ’n vrou bedoel is nie.

Franciskus sê immers nie homoseksuele huwelike is in orde nie. Dit kom neer op ’n kompromis: Hy vind burgerlike verbintenisse (in die praktyk huwelike wat voor die wet gesluit is, maar nie deur die kerk geseën word nie) wel in orde.

Tog is dit ’n duidelike ontwikkeling. So kort gelede nog as 2003 het die Kongregasie vir die Geloofsleer (die afdeling van die kerkbestuur wat die Kerk se leerstellings moet opstel) onomwonde bepaal dat homoseksuele huwelike onbybels is. Politici se steun daarvoor is “ernstig immoreel” genoem.

Uit die konserwatiewe vleuel van die Kerk is die pous se standpunt veroordeel. Een van Franciskus se skerpste kritici, kardinaal Raymond Burke van Amerika, het die pous se opmerkings bestempel as “in teenstelling tot die leer van die Heilige Skrif en Heilige Tradisie. Hulle skep verwarring en foute rakende die Kerk se leer by mense van goeie wil”, en is nie bindend vir Katolieke nie.

Die hoof van die Kongregasie vir die Geloofsleer, kardinaal Gerhard Ludwig Müller, was effens minder fel: “Die bepaalde uitspraak was suiwer persoonlik van aard, iets wat elke Katoliek vrymoedig kan en moet teenspreek.”

Daarteenoor het Human Rights Watch dit verwelkom. Die standpunt sal voordelig wees vir homoseksuele mense se regte in lande soos Pole en die Filippyne, Katolieke lande waar homseksuele weens hulle aard vervolg word, het die organisasie gesê.

Die Nederlandse Protestantse dagblad Trouw het in ’n ontleding geskryf die uitspraak het “veral pastorale betekenis” in die lig van die feit dat homoseksuele regte ook in ander lande – Rusland, Uganda, Kenia, ensovoorts – vertrap word.

En die Duitse koerant Der Tagesspiegel skryf: “Wat word dit: ’n Reformasie? ’n Revolusie? In elk geval tree die Lutherse aard – hy was tog ook ’n Katolieke monnik – in dié pous steeds duideliker na vore … Van agter dié woorde kom sy kerk nie meer te voorskyn nie … die Vatikaan kom in die 21ste eeu aan.”

Die amptelike webwerf van die Duitse Katolieke Kerk skryf eweneens: “Dat nou ook ’n kerkvors dit doen [homoseksuele verbintenisse goedkeur], is teen die agtergrond van wat die Kerk oor sulke verbintenisse in die algemeen en homoseksualiteit in die algemeen leer, ’n sensasie.”

Die webwerf haal die Katolieke teoloog prof Martin Lintner van Brixen in Suid-Tirool aan: “Franciskus beoordeel die mense nie meer slegs op grond van die [kerklike] leer nie. Luidens die pous se boek oor gesinsliefde, Amoris Laetitia,” sê Lintner, “gaan dit daarom om te sien hoe die mens, wat in sy lewenswerklikheid vasgevang is, probeer om volgens eer en gewete sy lewe vorm te gee – en dat dít nie bloot daaruit bestaan om norme na te leef nie. Dit betref álle mense – ook dié met ’n homoseksuele oriëntering.”

En prof Francis Clooney, teoloog aan die Harvard-Universiteit, het daarop gewys dat Franciskus hiermee die retoriek ondermyn het dat “om gay te wees ’n ernstige afwyking is en om ’n gay-verbintenis te hê iets is wat God afkeur”.

Dit staan te besien hoe die pous se standpunt die debat in Protestantse kringe gaan beïnvloed. In die NG Kerk, kan aangeneem word, sal dit min of meer dieselfde pad as elders in die wêreld volg: Goedkeuring by diegene wat die liefdesgebod eerste stel en teologiese suiwerheid by die konserwatiewe vleuel.

  • Dr Leopold Scholtz is ’n vryskut-joernalis wat in Nederland woon.