Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Afgetrede predikant dr Dirkie de Wet sit tussen van sy landskapskilderye in sy huis in Boksburg waar hy ’n aanlyn groep vir plaaslike kunstenaars begin het. Foto: Verskaf

Oud-leraar se aanlyn groep bring Oos-Randse skilders byeen

Aan die Oos-Rand het ’n nuwe aanlyn kunsgroep hulle ontstaan te danke aan ’n afgetrede predikant van Boksburg wat plaaslike kuns­tenaars wou help om mekaar te leer ken en ondersteun.

Ná 26 jaar in die bediening spandeer Dirkie de Wet sy tyd aan twee groot liefdes, die visuele kunste en ook om mense bymekaar te bring in aanlyn groepe op Facebook.

Hierdie afstammeling van die Ne­derlandse koninklike portretskilder Jacob Willemszoon de Wet het self nie formele kunsopleiding nie, maar sê sy belangstelling in skilder, selfs ook digkuns en die skryf van toneelstukke, kom al van skooldae aan. Hy skilder graag landskaptonele en sy droom is om eendag ’n uitstalling met sy skilderye van Tafelberg in die Kaap te hou.

LEES OOK: Predikant-kunstenaar sterf aan Covid-19

Ná 21 jaar as predikant by Boksburg-Suid het hy in die Oos-Randse dorp aangebly. Voorheen was hy ook predikant op Simondium in die Boland. Dit het hom opgeval dat die afsterwe van Boksburg se bekende kunstenaar Barry de Villiers in Maart 2020 gepaardgaande met die inperkings meegebring deur die pandemie die plaaslike kuns­gemeenskap in ’n bietjie van ’n lugleegte gelaat het. De Villiers het ook vir twee dekades kunsklasse by die plaaslike kunssentrum aangebied.

“Ek het opgelet dat plaaslike kuns­tenaars nie meer soveel blootstelling kry nie …” vertel De Wet in ’n onderhoud hierdie jaar in April met die plaaslike koerant Boksburg Advertiser waarin hy plaaslike kunstenaars genooi het om hom te kontak as hulle sou belangstel om saam met hom ’n kunsgroep te vorm.

Vyf dae later was daar 10 lede in die Facebook-groep East Rand Visual Arts Combine. Ses maande later is die groep 39 lede sterk wat foto’s van hulle kuns­werke op die groep se blad uitstal. Die sowat 350 skilderye sluit in landskap- en seetonele, impressionistiese werk, portrette, blomme, diere en plaastonele.

LEES OOK: Skilderye vertel van die grootheid van Christus

Onder die lede, wat wissel in ouderdom tussen 20 en 70 jaar, tel ook die eienaar van ’n kunsskool en ’n ervare kunstenaar wat al landwyd en in Namibië uitgestal het. “Die groep ondersteun mekaar deur kommentaar op mekaar se werke te lewer en met mekaar telefonies kontak te maak,” vertel die oud-leraar wat saam met die groep beplan om voor die einde van Oktober bymekaar te kom.

Hy het ook ’n Facebookgroep genaamd Skipskop laat herleef vir mense wat destyds die Overbergse kusdorpie moes verlaat toe dit vir militêre gebruik ontruim is. Dit was sy gesin se vakansieplek toe hy jonk was en is bekend gemaak deur David Kramer se liedjie ‘So long, Skipskop’. Op die groep deel mense foto’s van die vervalle huisies en De Wet sy eie foto’s, gediggies en skilderye. Ander groepe van hom sluit ook in Versgewys waar hy van sy digkuns deel en Gesinsbediening waar hy praktiese inligting deel uit sy PhD-stu­dies in Praktiese Teologie omdat hy nie wil hê dat dit net lê en stof vergaar ie­wers op ’n rak nie.

  • Belangstellendes kan dr Dirkie de Wet kontak by 072 844 8073 of 011 913 4143.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top