Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In die afloop van die onluste in KZN en Gauteng het ek ’n paar keer gehoor dat lidmate sê: “Waarom is die NG Kerk afwesig? Ons sien Gift of the Givers op televisie, maar die kerk is nêrens.”
Hierdie persepsie is gelukkig nie die waarheid nie. Die kerk was nie nêrens nie, die kerk was van die begin af betrokke by die nood en Kerkbode het ook hieroor berig. Vir die media is dit egter nie eintlik nuus as die kerk betrokke raak by nood nie. Dit is net nuus as dit buitengewoon is, en die NG Kerk is in elk geval altyd, direk of by wyse van die maatskaplike dienste, in die gemeenskap betrokke. En bly ook betrokke lank nadat die televisiekameras weg is.
Die kwessie is nie of die NG Kerk hulp verleen nie, ons is uitstekend om in krisisse te help. Die vraag is: Moet ons dit aan die groot klok hang?
LEES OOK: ‘KZN-gebeure bied kairos-oomblik om ereskuld te betaal’
Iemand het ’n klompie jare terug vir my gesê: “Ek weet die Bybel sê jou linkerhand moenie weet wat jou regterhand doen as jy barmhartigheid bewys nie, maar julle vat dit darem te ver.” Hiermee het hy na Jesus se Bergpreek verwys. Ek het intussen baie daaroor gedink.
Jesus sê ook in daardie gedeelte dat as jy goeie dade doen om deur mense geëer te word, is dit jou volle beloning en “is daar vir julle geen beloning by julle Vader in die hemele nie” (Matt 6:1). Nou weet ek nie van jou nie, maar ek wil eerder my beloning van die Here as van mense ontvang. Daar is selfs ’n geestelike dissipline van geheimhouding wat daaroor gaan dat ’n mens goeie dade doen sonder om vir enige iemand daarvan te vertel.
Die saak het egter ook ’n ander kant. Net soos wat slegte dade aansteeklik is, is goeie dade ook. Ek laat my nie vertel dat alle mense wat by plundery betrokke was, kriminele is nie. Waarskynlik het baie net gesien: “O, dit lyk my dit is wat ons nou doen. Ons gaan haal inkopies. Almal doen dit.”
Net so het die beelde van mense wat hulp verleen en opruim weer ander geïnspireer om deel te word daarvan. En Jesus sê ook dat ons lig só voor die mense moet skyn dat hulle ons goeie dade kan sien en ons Vader in die hemel kan verheerlik.
Lyk my daar is tog wel ruimte om goeie dade in die openbaar te doen. Ons motivering is egter anders. Dit is nooit dat mense ons daarvoor sal eer nie, maar dat hulle die lewende God se goedheid sal raaksien en moontlik ook geïnspireer word om self goed te doen.
- Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.