‘KZN-gebeure bied kairos-oomblik om ereskuld te betaal’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die afgelope gebeure in KZN en Gauteng het die land tot stilstand geruk. Saam met Covid-19 het dit talle kwessies onder die vergrootglas geplaas: die verdeeldheid binne die ANC, die gevaar as met die vuur van etnisiteit gespeel word, die werklikheid van armoede, hooploosheid en ongelykheid en les bes, die gebrek aan sosiale kohesie.

LEES OOK: Só kan jy KwaZulu-Natal help

Die vraag word dikwels gevra wat die kerk se bydrae tot Suid-Afrika moet wees in ’n komplekse tyd soos hierdie. Suid-Afrikaners het meesters daarvan geword om op die rand van die afgrond te beweeg, sonder om na benede te stort. Dié dans mag nie langer voortduur nie.

My diepe oortuiging is dat daar ’n reuse-geskenk is wat die NG Kerk juis nou aan Suid-Afrika kan gee. Dít is ’n ondubbelsinnige poging tot ’n groter sigbare uitdrukking van eenheid tussen die NG Kerk en die VGK. Daar is steeds ’n ereskuld wat die NG Kerk aan die land verskuldig is. Die VGK sal die NG Kerk natuurlik moet help om hierdie skuld te betaal. Ons kan nie van die politieke partye verwag om te doen wat die kerk nie self wil doen nie. Ons het al bely, maar nog nie genoegsaam gedoen nie.

Op geen manier moet ons naïef oor die pad vorentoe wees nie. By die Sentrum vir Publieke Getuienis is ons in die laaste jare blootgestel aan tientalle gesprekke tussen diverse gemeenskappe regoor die land. Dit is so dat die seer, bitterheid en verdeeldheid onder gemeenskappe steeds vlak onder die oppervlak lê en in baie gevalle, regoor die spektrum, eintlik verdiep het. Maar dit mag ons nie moedeloos laat en laat tou opgooi nie. Juis nie nou nie. Terselfdertyd is dit nodig dat ons eerlik en reguit sal praat. Ons mag nie toelaat dat die wense van mense sterker weeg as ons belydenisse en die Woord nie.

Ons sit tans met ’n uitstekende dokument: die Tussenorde. Help my reg as ek verkeerd is, maar hiermee kon ons nog net enkele uit die 1 000 NG gemeentes met die VGK verenig. Dit lyk dus of ons die ou modelle van eenheid sal moet herbedink. Een van die belangrike vrae is hoe ons taal- en kulturele werklikhede ernstig kan opneem, sonder om dit as verskoning te gebruik om terug te val in ou “apartheids”-modelle.

’n Groot deel van die problematiek lê daarin dat beide kante tans ’n gevoel van miskenning ervaar. Die VGK ervaar steeds soms ’n meerderwaardigheid by die NG Kerk. Die NG Kerk beleef weer dat dit nie vir die VGK polities korrek is om nou met die NG Kerk geassosieer te word nie.

So waar laat dit ons? Mag ek die volgende waag:

LEES OOK: Oor rasseskeiding: ‘Ek soek ’n kerk wat jeuk’

Die leierskap van beide kerke sal veel duideliker, konkreet en waagmoedig hulle standpunte oor eenheid moet stel. Gewone gemeentes en leraars sal leierskap hieroor verantwoordbaar moet hou. Leraars en gemeentes sal ook meer ernstig en dringend na mekaar moet uitreik. Op talle dorpe het ons agtergekom dat daar dikwels ou spanninge tussen kollegas van die NG Kerk en VGK is. Mediasie is dan ’n goeie opsie. Ons mag nie dat ons persoonlike kwessies en seer toelaat dat lidmate, wat anders voel, daaronder ly nie.

Terwyl soveel van ons dorpe tans kreun onder swak dienslewering, kan ’n gesamentlike besoek aan die plaaslike regering dalk die spreekwoordelike spelbreker word. Onthou, dit begin alles met ’n eenvoudige gebed in jou binnekamer en die optel van ’n telefoon!

Maar kom ons word nog meer konkreet.

Tans is die diversiteit wat finansiële bevoorregting betref (ook binne die NG Kerk), enorm. Daar is VG en NG leraars wat kreun onder Covid-19 se finansiële druk. Om net te hoop dat alles sal verbygaan as die virus eers gewyk het, is ’n gevaarlike dobbelspel. Ons sal moet dieper delf en dieper dink oor die kerk na Covid-19. Hierdie lang, uitgerekte winter skep egter vir ons nou die geleentheid om dinge te doen wat ons dalk nie voorheen sou kon doen nie. Ook ten opsigte van ons ontwykende eenheid.

Die leierskap van ons kerke sal ons verder moet help. Dit sou onmoontlik vir die regering gewees het om oor ’n Grondwet te onderhandel as daar nie eers ’n 2 Februarie-toespraak was nie. Die Rubicon moet oorgesteek word. Die NG Kerk het al baie dinge gesê, maar die Rubicon is nog nie oorgesteek nie. Dit sluit die volgende in:

LEES OOK: Pastorale brief van NGK en VGKSA oor kerkhereniging

Dit sal helder en duidelik gesê moet word dat die naam “Nederduitse” Gereformeerde nie in ’n nuwe kerk sal deug nie. Nie in Afrika nie. Die naam “Verenigde” Gereformeerde Kerk, of iets so naby as moontlik daaraan, kan werk.

Ons sal eerlik moet sê watter strukture in die slag kan bly en waar nuwes eerder geskep moet word. Met vertroue in sinodale strukture wat oor ’n breë spektrum in onguns verval het, het ons nou ’n gulde geleentheid. Mag ek egter kwalifiseer. Mense wat te vinnig die kind met die badwater wil uitgooi, weet nie waarvan hulle praat nie. Institusies is nie op sigself sleg nie. Ons het dit broodnodig vir ’n ordelike samelewing. Sommige het egter net van tyd tot tyd radikale vernuwing nodig.

Ons sal eerlik met onsself moet wees oor wat ons bereid is om te deel. Dit is dalk die heel moeilikste uitdaging. Dit kan ek nooit vir iemand voorskryf nie. Dit is iets wat jy soos ’n Saggeus van ouds, in die teenwoordigheid van Jesus Christus, self moet uitklaar.

Nou die aand sit ek op Piketberg en luister na die gebede van lidmate na ’n gesprek tussen die VGK en die NG Kerk. Dit voel soos heilige, gewyde oomblikke wat die seer vir ’n kort rukkie versag en ons ’n proeseltjie gee van watter hemelse moontlikhede wag. Mag ons nie nou vir hierdie geleentheid terugdeins nie.

  • Dr Braam Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis in die Wes-Kaapse sinode.
Word 'n vriend van Kerkbode