Oor rasseskeiding: ‘Ek soek ’n kerk wat jeuk’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dit besoek jou in verskillende gedaantes, van kurkdroog en skubberig tot rooi en geswolle. Indien jy nie vinnig daaraan vat nie, hard en verkieslik met jou vingernaels, gaan jy waansinnig word. Wanneer vingernael en vel ontmoet en jy begin krap, is dit een van die grootste verligtings wat ’n mens kan beleef. Die besoeker se naam is jeuk.

LEES OOK: En die dood is mooi

Jeuk as selfstandige naamwoord is ’n onaangename gevoel op die vel. Jeuk as werkwoord kan onder meer beteken om ’n drang te hê om iets te doen. Ek soek ’n salf teen jeuk; my voete jeuk. Ek glo ons kort ’n kerk waar selfstandige naamwoord en werkwoord ontmoet en byvoeglike naamwoord word. Geen salf moet vir ons jeuk help nie, sodat ons jeuk vir aksie, totdat daar gesê kan word dat ons jeukerig is. Met ons bedoel ek die NG Kerk.

Daar is op die oomblik in dele van ons kerk ’n post-jeuk-tyd en die belewenis van ’n soort verligting. Die woorde “kerkhereniging” of “Belhar” of “swakheid van sommige”, laat gemoedere val. Asseblief tog, ons het dan nou net mooi ’n tyd van post-jeuk-verligting betree nadat hereniging net te veel energie getap het. Baie mense het met groot inspanning gekrap, nou slaak ons ’n bietjie jeukverligting, so moet nou asseblief nie kom krap waar dit nie meer jeuk nie. En by the way, kyk net hoe inklusief en tolerant is ons deesdae, ook missionaal. Die inklusiewe missionale teologie, wat wonderlik is, moet net nie soos ’n lawende roompie oor die sonde van kerkskeuring gesmeer word sodat ons ophou jeuk nie.

Die NG Kerk en die VG Kerk is nie een kerk nie. Waarom nie, op welke gronde? Dit is ’n rasseskeiding. Nog al die pad. Ja, steeds as gevolg van die swakheid. Die artikels, boeke en grade wat oor die onderwerp geskryf is, vul etlike rakke in ons teologiese biblioteke in hierdie land. Die Bybelwetenskaplikes het lankal gewys dat ons die pad van teksuitleg byster geraak het toe ons apartheid vanuit die Skrif begrond het; sistematiese teoloë het vir ons die ekklesiologie verken; die kerkhistorici die geskiedenis van voor en na 1857 en die gewaande besluit rondom die Nagmaal; die praktiese teoloë worstel met nuwe praktykteorieë oor kerkhereniging op gemeentevlak; sinodes het ure der ure se werk aan verslae en besluite spandeer, ook aan kerkordes en pensioenfondse en geboue en plek-plek het ringe en gemeentes begin verenig.

LEES OOK: Daardie paar bladsye wat min mense lees

Erkenning en groot waardering moet gegee word aan soveel mense wat so baie energie al ingesit het in die kerkherenigingsproses en dit steeds doen. Dat mooi dinge wel op sinodale en voetsoolvlak in gemeentes gebeur, kan geensins misken word nie. Die mooi verhale word gereeld in beriggewing gevier, dit is goed. En tog, dit is net ’n mening, maar tog wil dit voorkom asof die saak deesdae so min jeuk dat dit nie eens nodig is om te krap nie. Toegegee, daar is uitdagings, maar is ons nou alreeds so mooi missionaal dat ons sodoende ’n gewetensaflaat vir die sonde van kerkskeuring verwerf het? Dit is tyd dat ons weer begin jeuk, jeuk omdat daar ’n pestilensie in ons midde is en jeuk omdat ons iets daaraan wil doen.

Hoe kan die wat ophou jeuk het weer begin jeuk? Dalk kan ons sommer in die erediens begin. Nagmaalsformuliere wat ons herinner dat ons versigtig moet sluk aan tekens waarmee ons ’n oordeel oor onsself kan eet solank as ons aan die tafel van verdeeldheid sit. Preke wat soos spinnekoppe by ons krae inhardloop en ons agterna met ’n ongemak laat, soos ’n Franse film met ’n oop einde, ’n einde wat deur die hoorders voltooi moet word. Om dan die diens af te sluit met die bekende woorde van St Franciskus van Belhar: “Mag die Here ons seën dat ons aanhou jeuk solank as wat gelowiges met dieselfde belydenis, God in aparte kerke dien.”

  • Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Word 'n vriend van Kerkbode