En die dood is mooi

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dit is pandemietyd en daar is baie begrafnisse, te veel. Bied begrafnisse troos? Indien wel, hoe?

Dit is ’n foto van ’n doopvont. Of is dit ’n doodkis? Dalk ’n doodvont? Dit is teologie in steen, want doop en dood hoort by­mekaar. Romeine 6 sê gedooptes is in Jesus se dood gedoop. Wat beteken dit? Liturgiese praktyke kan help om die diepte en troos van woorde, veral ook vreemde woorde soos hierdie, te peil.

Dit is ’n ou tradisie om ’n begrafnisdiens by die doopvont te begin. Die liturg staan by die vont, vat aan die water, laat dit drup en sê: “NN is gedoop. Sy het dáárdie dag met Christus gesterf, sodat sy vir ewig met Hom kan leef.”

Wanneer dood en doop só aan mekaar gekoppel word, herinner dit aan die bekende versreëls van Van Wyk Louw: “mooi is die lewe/ en die dood is mooi”.

Is dit ’n doodkis of ’n doodvont?

Deur ’n ommekeer van sinstruk­tuur dig Van Wyk Louw nié “mooi is die lewe/ en mooi is die dood” nie. Daar is ’n subtiele inversie in die reël – “en die dood is mooi”. Die dood is dus ’n andersoortige mooi, ’n vreemder mooi as “mooi is die lewe”.
Dit is ook die soort mooi wat beleef word wanneer die dood vanuit die doopvont gevier word. Dan vat dood en doop hande en dié wat daar is beleef dat lewe én sterwe verborge is in die groot Misterie wat ons God noem.

Die dood is nie mooi nie, die dood is ’n vyand. Dood se refleksie lyk in doopwater wel anders, morfologies steeds palindroom, maar sintakties ondermyn tot die vreemde estetika van God. Tydens een begrafnisdiens word “I did it my way” én “Amazing grace” gespeel wanneer foto’s van die oorledene vertoon word (soos Tom Long ook daarop wys), maar wanneer die diens van gelowiges by die vont begin, is dit die draaiboek van God wat die draaiboek van die lewe van die oorledene omvou en spoel “Amazing grace” oor alles en almal.

In die ou dae is dooprokkies wat heeltemal te groot vir die babas was dikwels gebruik. Hulle het “verdrink” in die materiaal. Dit het gevaarlike water wat red gesimboliseer. “In die ark is net ’n paar mense, altesaam agt, deur die vloedwaters heen gered” lees ons in 1 Petrus. En Luther se “Sondvloedgebed” lui onder meer: “… Ons dink ook aan die doop van Jesus, ons Here. Daar is die water ’n teken gemaak van die heilsame vloed …”. Genadewater wat verswelg. ’n Vloed wat red. Dood wat oorstroom word deur doop.

LEES OOK: Daardie paar bladsye wat min mense lees

Dít is troos. In die doop lê troos oor die dood. Lewe én sterwe in God. En die troos van die begrafnisdiens, skryf Long in sy boek Accompany them with singing, lê nie in die eerste instansie of primêr in (bekerings)pre­di­king nie. Die langtermyn en dieper troos, lê dood­gewoon in die ­diens self, in die teologie wat die drama van die begrafnis verbeeld. Daarom merk hy op ons sal nie ’n troue sonder ’n bruid, of ’n doop sonder ’n dopeling hou nie, en vra hoekom ons dan begrafnisse sonder oorledenes hou? Sy mening: “The dead should be welcomed once again to their own funerals”. Hoekom? Want hoe begrafnisgangers met die oorledene ’n pad in ’n liturgie stap, vertel ’n storie wat langtermyn troos bied.

Ek is nie daarvan oortuig dat ons in die NG Kerk gaan begin om doopvonte in die vorm van doodkiste te bou of selfs doodkiste by die vont gaan plaas nie. Tog kan eenvoudige liturgiese simbole, soos om dood en doop te verbind, Willie Jonker se “Dit is my troos dat ek gedoop is” soos ’n lang nagalm by begrafnisgangers laat bly.

  • Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Word 'n vriend van Kerkbode