Pastorale brief van NGK en VGKSA oor kerkhereniging

Die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk se Algemene Sinodes het albei ’n tussenorde goedgekeur wat dit moontlik maak vir gemeentes, ringe en sinodes van die twee kerke om te verenig. Hieroor skryf ds Nelis Janse van Rensburg van die NG kerk en prof Leepo Modise van die VGK die volgende gesamentlike brief aan die twee kerke:


PASTORALE BRIEF VAN DIE MODERATURE VAN DIE VGKSA EN NG KERK
AAN ALLE LIDMATE VAN DIE HELE KERK

Liewe broer/suster

Inleiding

Die moderature van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider Afrika (VGKSA) en die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) het op 25 en 26 April 2017 by Le Chateau in Kempton Park vergader om oor die stand van sake in die kerk en die samelewing na te dink. Die spiritualiteit van die vergadering het gefokus op Joh 20:19-23 en Joh 17:10 ev. Die klem het geval op vrede en eenheid. Daarom groet ons u met die woorde: “Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Ons word deur Christus gestuur om boodskappers van versoening en vrede te wees. Die vergadering het ook nagedink oor die geskiedenis van die proses rondom kerkeenheid vanuit beide die VGKSA en die NG Kerk se oogpunte. Die onderskeie besluite van die kerke oor kerkeenheid en die Belydenis van Belhar is ook hersien. Die aanvaarding van ’n Tussenorde deur die algemene sinodes van beide kerke (2015 & 2016) was ’n historiese mylpaal. Die twee moderature is geïnspireer deur die woorde van die Tussenorde se inleiding:

“Ons as die vier kerke het besluit om saam te reis, geroep deur die drie-enige God om deel te hê aan sy opdrag aan die wêreld, sodat die wêreld kan glo dat God Jesus as Redder na die wêreld gestuur het. Ons visualiseer gevolglik ’n nuwe verenigde kerk in die Nederduitse Gereformeerde Kerk-familie, wat missionaal is, verbind aan die Bybelse eise van liefde, versoening, geregtigheid en vrede. Ons besef dat hierdie proses heelwat uitdagings sal bied, sowel as sake om mee rekening te hou, maar ons aanvaar die uitdagings in gehoorsaamheid aan ons Here en sy Woord. Ons word geroep tot ’n lewe en ekklesiologie van gehoorsaamheid en opoffering. Met die wete dat hierdie pad van ons gaan vereis om alle selfsugtige ambisie tersyde te stel en dat ons onsself gee soos Christus het, doen ons dit in doelbewuste reaksie op die evangelie wat Christus in sy genade aan ons uitgestort het. Ons reageer op Christus se liefde en Gees wat ons in ’n diep en ewige verbond met Hom verenig. Ons erken dat Christus reeds die oorwinning oor alle opponerende magte behaal het sodat ons hoopvol vorentoe kan kyk na daardie dag wanneer elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Jesus Christus die Here is (Fil 1:27 – 2:18). Ons verbind ons daartoe om alle gawes te aanvaar wat deur die vier kerke gebring word vir die versoenings-, herstel- en herenigingsproses.”

Die twee kerke se moderature het besef dat ’n behoefte bestaan om die energievlakke vir kerkeenheid in die onderskeie kerke onderling te toets. Ons het ook oor die pad vorentoe en die huidige politieke en sosio-ekonomiese klimaat in Suidelike Afrika nagedink.

Die pad vorentoe

Die gesamentlike vergadering het besluit om die Tussenorde as wettige dokument vir die eenheidsproses te implementeer. Ons het ook aanvaar dat punt 3.3 van die Memorandum van Ooreenkoms (MVO) tussen die twee kerke as vertrekpunt vir die praktiese eenheidsproses op plaaslike gemeentevlak sal dien. Die ooreenkoms van beide kerke in 2012 in die MVO bepaal dat:

“As Gereformeerde kerke glo ons dat die plaaslike gemeente die uitdrukking van die kerk van Christus in ’n plaaslike gemeenskap is, maar ons glo ook dat plaaslike gemeentes in verbondenheid met mekaar lewe en dat hierdie verbondenheid uitdrukking vind op verskeie wyses, bv ringe, sinodes. Die twee kerke onderneem om maniere te identifiseer waarop die plaaslike kerke se eenheid met mekaar tot uitdrukking kan kom deur onder andere die vorm van verenigende gemeentes, deur leraars oor kultuurgrense heen te ontvang, kommissies en projekte te begin en gemeentes met hul volle instemming te herbelyn om wyke van ander kulture te inkorporeer.”

Daar sal uitdagings wees in die implementering van hierdie proses, maar die twee kerke het reeds hierdie uitdagings soos volg in punt 5.2.2 van die MVO uitgelig:

“Ons aanvaar die werklikheid dat konflik, bitterheid, haat, rassisme, etnisiteit, klassediskriminasie, seksisme en heelwat emosionele pyn ongetwyfeld steeds deel van die samelewing is. Ons moet sommige van die kernkwessies wat tot konflik lei, aanspreek, bv: misverstande en swak kommunikasie, swak en korrupte leierskap, taal, kultuur en geloof, ideologieë en politieke magsug, onregverdigheid, persoonlikhede, skaars hulpbronne en wanbalanse in die samelewing.”

Die vergadering het die Seisoen van Menswaardigheid (http://menswaardigheid.co.za/) geïdentifiseer as die voertuig wat ons kan bystaan om hierdie uitdagings aan te spreek wanneer ons die reis vanaf plaaslike gemeentes (ringe en sinodes ingesluit) begin as die vertrekpunt vir praktiese kerkhereniging.

Hiermee die stappe wat deur die moderature gevolg moet word om al die doelwitte en oogmerke om die kerk te verenig, te verwesenlik.

  1. Die pastorale brief geskryf en versprei na al die gemeentes om hulle in te lig oor die reis na praktiese kerkeenheid vanaf plaaslike gemeentevlak.
  2. Die moderature sal ’n groter vergadering van die kerkleierskap van beide die VGKSA en die NG Kerk belê. Die vergadering sal saamgestel word deur die voorsitters van al die deelnemende sinodes van die NG Kerk en die moderators van streeksinodes van die VGKSA as implementerende sinodes, om deel te wees van die reis na praktiese kerkeenheid en om mekaar aan te moedig om die proses in plaaslike gemeentes, ringe en sinodes te fasiliteer.
  3. Beide kerke moet aan hul onderskeie algemene sinodale kommissies en streeks- (deelnemende) sinodale kommissies terugvoer gee oor die vordering rakende kerkeenheid.
  4. Gemeentes, ringe en sinodes wat gereed is om met die proses te begin, sal dien as loods- (proef)studie vir die breër kerkeenheid van die twee kerke.
  5. Die moderature van beide kerke bly steeds in gesprek met die ander lidkerke van die NG Kerk-familie om saam te reis na hierdie praktiese kerkeenheid.

Die moderature van beide kerke erken dat hulle groter passie en wilskrag sal moet ontwikkel om werklik ’n verskil te maak. Ons sal die konflikareas moet identifiseer, dit aanspreek en betrokke raak. Ons kan dit egter nie alleen regkry nie. Ons het die ondersteuning en direkte betrokkenheid van elke lidmaat van die twee kerke nodig in die proses na volkome eenheid.

Huidige sosio-ekonomiese en politieke situasie in Suidelike Afrika

Dit sou onverantwoordelik van die leierskap van die twee kerke wees om nie na te dink oor die politieke situasie in die land en Suidelike Afrika nie. Die moderature het erkenning gegee daaraan dat ons lede van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) is en dat alle uitsprake wat deur die SARK gemaak word, die inklusiewe stem van die lidkerke is. Ons het onsself gesamentlik daartoe verbind om deeglik met plaaslike en internasionale politieke kwessies bemoeienis te maak alvorens ons voortaan in staat sal wees om ingeligte profetiese leiding te bied. Ons doen desnieteenstaande op hierdie stadium ’n beroep op al ons lede vanuit die uithoeke van Suidelike Afrika om te bid vir die sosio-ekonomiese en politieke situasie in beide lande en om deel te neem aan die aktiwiteite wat stabiliteit en vrede aan ons almal sal besorg.

Ons glo dat die almagtige God (die God van Jesus van Nasaret, en nie die vals god wat slawerny, apartheid, korrupsie, nepotisme, volksmoord, uitsluiting, sowel as geïnternaliseerde oorheersing en onderdrukking seën nie), ’n God van geregtigheid is, en daardie God roep die kerk om geregtigheid vir al sy mense na te streef.

Ds. Prof. Dr. Leepo J Modise (VGKSA Moderator)
Ds. Nelis Janse van Rensburg (NG Kerk Voorsitter van die moderamen)

Word 'n vriend van Kerkbode