Só kan jy KwaZulu-Natal help

’n Rampfonds waartoe enigeen kan bydra en om enige hulpbehoewende te help, is namens die KwaZulu-Natal Sinode begin om hulpverlening te help koördineer aan van die verpletterde gemeenskappe in hulle provinsie.

In die nadraai van die plundery stroom mense uit geplunderde areas vroegoggend na naburige dorpe waar kos nog gekoop kan word. “Dit lyk erger as die tyd voor die 21 dae inperking aangekondig is,” vertel ds Marlize Malherbe uit Richardsbaai. Daar was gister winkels waar basiese voedselsoorte soos melk en brood uitverkoop was.

Intussen het mense op verskillende maniere begin hulp aanbied. Groepe vrywilligers het in verskeie dorpe begin om die strate skoon te maak. Op Amanzimtoti het die NG Suidkus-gemeente begin om brood te bak omdat alle winkels toe of gestroop is.

“Ek hoef vir niemand te sê hoe ons hier in KZN voel en wat ons beleef nie. Selfs waar besighede nie afgebrand is nie, is daar ook alreeds ’n tekort aan die basiese – kos, mediese toeganklikheid en brandstof. Daarom is ons dankbaar dat daar mense na ons wil uitreik en hulp wil verleen,” skryf ds Petrus Botha van Pongola.

LEES OOK: ‘Kerke moet nou vredemaker wees’

Daarom het hy saam met ds Francois Maritz van Hayfields-gemeente in Pietermaritzburg die fonds namens die Sinode van die NG Kerk in KZN begin. “Ons beplan om sekere strategies geleë gemeentes te gebruik om as afsetpunte te dien vir verligting van nood en om besighede wat vernietig is te probeer bystaan,” verduidelik Botha.

“Almal, nie net NG kerke nie, kan tot die fonds bydra of skenkings maak. Die hulpverlening is ook beskikbaar vir enigeen in nood,” voeg Maritz by.

Mense kan help deur elektronies finansiële bydraes te maak tot die hulpfonds of deur produkte af te gee by die volgende vier gemeentes wat hulle kerkgeboue as afsetpunte beskikbaar gestel het. Enige produkte is welkom, en veral nie-bederfbare produkte wat sanitêre doekies, formulemelk en doeke insluit.

  • NGK Bergsig in Newcastle, dr Heinrich Theunissen: 084 607 5448.
  • NGK Pongola in Pongola, ds Petrus Botha: 082 340 6600.
  • NGK Suidkus in Amanzimtoti, ds Marius Schoombie: 083 635 1523.
  • NGK Hayfields in Pietermaritzburg, ds Francois Maritz: 074 559 2243.

Hulpfonds se besonderhede: Naam: NGK IN KZN; Bank: ABSA; Rek no: 114 000 00 82; Takkode: 632 005; Verwysing: HELPKZN

“Dit is so wonderlik. Verskeie mense het my gebel uit verskeie oorde. Dit is wonderlik om deel te wees van die NG Kerk en van die breë kerk. Dankie vir julle hulp en gebede,” sê Maritz.

Word 'n vriend van Kerkbode