Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die kruis: vír ons en mét ons

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Tydens Paasfees het ons weer nagedink oor die betekenis van Jesus se kruis en opstanding. Vir baie het dit beteken ’n verdieping van die besef wat Jesus vír ons gedoen het, van die omvang van God se liefde en genade toe Hy sy eniggebore Seun gegee het. Sonder die kruis was dit onmoontlik om in pas te kom met die lewende God, dan was daar geen dans nie. Sonder die kruis het ons vér van God gebly.

Die kruis en opstanding gee ook vorm aan die dans. Die opstanding maak dat dit nooit ’n treurige dans kan wees nie. Jesus leef en ons leef met Hom! Dit is nie ’n doodsdans nie, dit is ’n dans van lewe en lig.

LEES OOK: Podsending: ‘Ek vind ’n geestelike familie in Rusland’

En tog, hierdie Jesus met wie ons in pas kom, is ook die Een met die merke van die kruis aan sy hande. Die Een wat jou innooi om die dans van die lewe te leer, het Homself oorgegee om gekruisig te word.

Die kruis is nie net iets wat God vír ons doen nie. Die krag van die kruis beteken dat dit mense se lewe omkeer. Die kruis gebeur ook mét jou.

Louis Brittz het hieroor ’n baie mooi lied geskryf. Hy sing: “Gee my ge­kruisigde hande wat gee. Gekruisigde voete wat loop waar Hy sou loop, van myself gestroop.”

LEES OOK: Inbreker byt en pot dominee wat via Zoom om hulp roep

Ek dink die laaste tyd baie hieroor: Wat beteken dit om van myself gestroop te wees? Om nie eerstens aan my eie belange te dink nie, maar aan die belange van ander. En ook, hoe kom jy daar? Hoe gebeur dit dat ’n gewone mens ’n lewensritme ontwikkel waarin jy jouself prysgee? Waar jy, soos Jesus, eers aan ander dink voor jy aan jouself dink.

In die week voor Paasfees het ons in die kantoor elke oggend die gedeelte uit 1 Korintiërs gelees waar Paulus skryf oor die krag van die kruis. Die kruis is dwaasheid en swakheid vir baie mense. Maar vir dié wat gered is, is dit die krag en wysheid van God. Dit is God self wat mense se lewe omkeer, en Hy doen dit deur die kruis (1 Kor 1:18-23).

En so is dit dan met hierdie dans. Selfgesentreerde mense leer die lewens­ritmes van Jesus, ons word nabootsers van die gekruisigde. Pase herinner ons: In die dans met die lewende God kom ons in pas met die gekruisigde God.

  • Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top