Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hoe sê ons ‘God is goed én almagtig’ te midde van lyding?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

“God is goed. God is almag­tig. Lyding bestaan. Kies twee.” So klink ’n bekende meem wanneer mense praat oor onreg, rampe, epidemies, siekte en dood.

Oor die bestaan van die lyding en negatiewe magte redeneer niemand. As jy hoegenaamd oplet, sal jy dit sien. Die vraag is dus eintlik: Hoe kan ons gelyktydig sê dat God goed én almagtig is?

Ek dink dit is betekenisvol dat die Joods-Christelike tradisie nie maklik torring met die idee dat God goed is nie. En dit is nie asof die Bybelse skrywers nie die probleem ken nie. In nood en gevaar het baie van hulle gewonder oor waar God is terwyl hulle swaarkry. Lees maar die Psalms, of Job. Maar deur die wanhoop en onbegrip kom hulle elke keer hiernatoe terug: “Here, ons onthou u goedheid en liefde, betoon dit tog weer aan ons.”

LEES OOK: Covid-19: Tyd vir meeloop is verby

Ons moenie dink dit is vanselfsprekend dat mense só oor God dink nie. In baie ander godsdienste is die gode nie goed of goedgesind teenoor die mense nie. Die Grieks-Romeinse gode, byvoorbeeld, is immoreel, heeltyd besig met stryery en willekeurig wanneer hulle die noodlot van mense bepaal. Die Griekse siening was dat die gode almagtig is maar hulle is nie goed of betroubaar nie. Die gode bring die slegte oor die mense. As jy gebede uit daardie tyd lees, sien jy die mense verlang na gode op wie hulle kan reken. Zeus en die ander gode is dit egter nie. Iemand het van die Grieks-Romeinse gode gesê: “The gods are frivolous.”

Só dink ons nooit oor die drie-enige God nie. ’n Vorige Kerkbode-peiling het gewys dat NG lidmate nie dink die epidemie en swaarkry is God se straf nie. Ons sal eerder verstellings maak aan ons sienings oor God se almag en waar die slegte vandaan kom, as om God se goedheid te bevraagteken. Die God wat ons aanbid, is nie kwaad vir ons nie. Inteendeel, sy grootste kenmerk is troue liefde.

In hierdie tyd van siekte en dood is dit belangrik dat ons nadink oor wie God is en hoe God betrokke is in die wêreld.

LEES OOK: 10 Lesse ná ’n jaar van Covid-19

Miskien is die grootste gevaar dat ons begin dink God is afwesig of afsydig. Dat Hy sy gesig wegdraai van ons, soos Psalm 13 sê. Maar hoe is ’n mens in pas met ’n afwesige God? Raak jyself ook afwesig wanneer die donkerte opdaag?

Dit is egter ook moontlik om te sê dat God by ons is ín die donker dieptes, dat Hy ons nooit verlaat of in die steek laat nie. Dat ons selfs in die dood en daarna op sy troue liefde kan reken. Die groot kwessie is nie God se almag nie, maar sy aanwesigheid.

Om in hierdie tyd in pas met die lewende God te wees, beteken dan om saam met Hom te gaan na waar mense bang is, of hartseer, of moedeloos. Om die moeilike oproep te maak. Om na die wanhopige stem te luister. Om aanwesig te wees in lyding. Sy troue liefde is die polsslag vir ons lewe.

  • Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top