Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die goeie in die slegte nuus

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dit is asof die stroom slegte nuus net nie ophou nie. Sodra die een korrupsiestorie vervaag, verskyn ’n volgende. Die rooi ligte oor klimaatsverandering brand al helderder. Die misdaadstatistiek lyk elke jaar slegter. Dit is genoeg om enige positiewe mens mismoedig te maak.

Daar is egter ook ’n ander perspektief. Die feit dat hierdie dinge slegte nuus bly, beteken dat ons tog iets beters verwag. In ons leef die verlange dat die wêreld ’n beter plek sal wees. Die slegte nuus bly abnormaal. Wanneer die korrupsie en leuens, die geweld of die vernietiging van die aarde vir ons normaal word, dan het ons probleme.

LEES OOK: Rings- en sinodale grense: Is dit tyd dat NG Kerk hierdie kleed afgooi?

Jesus preek en tree op in ’n wêreld waar dit normaal was vir leiers om te vat wat hulle kan, om te lieg en te bedrieg. Die mag van die leiers gee aan hulle die reg om uit te buit. Jesus leer ons egter van leierskap wat gaan oor ­diens. Oor die eeue het dit die “nuwe normaal” geword dat leiers die volk moet dien. Dit was egter nie altyd so nie.

Die goeie in die slegte nuus is dat ons nog steeds van ons leiers verwag om te dien en met integriteit op te tree. Dit is goed dat korrupte hooggeplaastes nog steeds voorbladnuus is.

Jesus leer ons dat geweld, veral teen­oor vroue en kinders, afstootlik is. Dit was egter nie vanselfsprekend nie. In die wêreld waarin Jesus leef, het mans al die mag gehad, vroue en kinders was besittings. Dit is eers waar God se wil begin geskied dat vroue en kinders hoog geag word.

LEES OOK: In pas met God in die voortslepende krisis

Dit is goed dat ons geskok is en woedend word oor geweld teen vroue en kinders. Dit beteken dat dit nie vir ons normaal is nie.

Die Bybel leer dat mense rentmeesters van die skepping is. Die aarde behoort aan die Here, nie aan mense nie. Ons is net aangestel om dit goed te bestuur. Dit is nie mense se reg om met die aarde te maak soos hulle lus het nie.

Dit is goed dat ons nog kwaad word as mense argeloos die aarde verwoes en besoedel. Wanneer Jesus ons leer om te bid, leer Hy ons om te begin met die bedes dat God se Naam geheilig sal word, dat sy koninkryk sal kom en dat sy wil op aarde sal geskied. Hy rig ons oë op ’n wêreld wat lyk soos God dit wil hê. As jy ontsteld en kwaad word as dinge nie so is nie, is dit goed. Dit beteken jy kyk met God se oë na die wêreld.

  • Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top