In pas met God in ’n voortslepende krisis

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die derde vlaag van die Covid-19-pandemie het ons harder getref as wat die meeste van ons verwag het. Van oral hoor ons berigte van mense wat getraumatiseerd is deur die omvang van siekte en dood in hulle familie en vriendekringe. Daarbenewens kom die skrikwekkende beelde van die geweld en plundery in KZN en Gauteng, die internasionale verslag oor klimaatsverandering en die negatiewe berigte oor die kerk. Dit is seker te verwagte dat baie gelowiges oorweldig en verlam voel.

Die Brenthurst-opname, wat in die laaste week van Julie gedoen is, toon dat 37% Suid-Afrikaners bang is oor die toekoms en 21% wanhopig voel. Net 36% is hoopvol oor die toekoms van Suid-Afrika.

LEES OOK: Inenting: Jou siening het implikasies vir ander en jou spiritualiteit

Hoe leef ons in pas met die lewende God in so ’n tyd?

Daar is ’n tyd is vir elke ding

Die Bybel leer ons daar is ’n tyd om te lag, en ’n tyd om te huil. Miskien het hier­die krisis jou persoonlik getref. Dan is dit nou die tyd om te huil, om troos en sorg en liefde te ontvang. Die lewende God met wie ons in pas leef, is die barmhartige God.

“Hoe kan ek jou help?”

Nie alle mense beleef ’n krisis op dieselfde manier nie. In elke krisis is daar gelowiges wat die vraag vra: “Hoe kan ek in hierdie tyd God se liefde aan mense wys?”

Anton Rupert het gesê dat as jy sien daar is iemand nodig om leiding te neem in ’n situasie, is jy waarskynlik self daardie “iemand”. As die Here mense of ’n situasie op jou hart lê, moet dit nie ignoreer nie.

Vra Godsvrae

Ons is ten diepste oortuig dat God lewend en aktief betrokke is by die kerk, die gemeenskap en in die skepping. Daarom vra ons in krisisse vrae oor WIE God is en WAARMEE God besig is. Godsvrae fokus ons denke, gebede en gesprekke op die aktiewe teenwoordigheid van God in ons midde. Dit help ons om nie so maklik vas te val in negatiwiteit of wanhopig te raak nie.

Hier is ’n paar voorbeelde van Godsvrae:

  • Wie is God werklik? Dit help om God opnuut te ontdek in die situasie waarin jy nou is.
  • Wat is God nou besig om te doen? Hierdie vraag help juis in tye wanneer mense dink dit gaan baie sleg.
    Wat is God besig om herhaaldelik vir my te sê? Luister byvoorbeeld na getuienisse – van medegelowiges en mense uit die gemeenskap.
  • Aan wie behoort ek, en … watter implikasies het my antwoord hierop? Dit help om te onthou dat jyself en die wêreld nie aan mense behoort nie, maar aan God.
  • Wat is God se wil vir my? Dit is altyd groter en anders as wat ons dink.

Moenie deel wees van polarisasie nie

Hierdie tyd is een van geweldige polarisasie. Dit is so maklik om deel te word van gesprekke wat gelaai is met stereotipes en vooroordele, veral ten opsigte van ras.

Die Brenthurst-opname wys dat die swartmense méér as wit, bruin of Indiërs vrees of wanhoop oor die toekoms van die land. Indiërs en swartmense is ook baie swaarder as witmense getref deur voedseltekorte en verlies aan werk.

Om die onluste en plundery bloot deur die bril van ras te verstaan, pleeg ’n onreg teenoor die mense wat die swaarste getref word.

Bou en versterk die netwerke

Elke krisis gee die geleentheid dat gelowiges oor ras-, taal- en kerkgrense nader aan mekaar kan kom. Diens ver­enig ons. Ons het seker almal die video­clips daarvan gesien in die op­ruimingswerk na die onluste. Ons uitdagings is dat daar iets blywend daaruit sal voortvloei.

LEES OOK: Help KZN-hulpfonds meer as miljoen redes vir dankie sê

In ’n paneelbespreking in Kerkbode sê die historikus Lindie Koorts (UV) dat die rede waarom die onrus so vinnig in KZN en Gauteng kon versprei, was omdat daar dormante netwerke van insurreksie bestaan wat weer opgeroep is. Sy wys uit dat daar ook spontane netwerke ontstaan het van goeie mense wat betrokke raak by herstel en opbou.

Die vraag is: Waarom funksioneer die netwerke wat wil opbou en versoen nie altyd nie, waarom net ná krisisse? Hierin lê dalk van die belangrikste werk wat gelowiges kan doen in hierdie tyd. Maak en behou kontak met medegelowiges. Ons is die meerderheid in hierdie land. Saam is ons beter.

Vat ’n pas wat jy kan volhou

Verlede jaar het kundiges al gewaarsku dat hierdie pandemie nie gou oor gaan wees nie. Ons sien nou dat hulle reg was. Maar ons het nie regtig geweet hoe uitgewas die meeste van ons teen hierdie tyd gaan voel nie!

Wysheid beteken dat jy geleenthede aangryp, maar nie te veel hooi op jou vurk laai nie. Die belangrikste is om aan te hou vra: “Waarvoor roep God my in hierdie tyd?” Maak seker dat jy in hierdie krisistyd in die regte rigting bly beweeg. Gee klein treetjies, maar hou aan.

  • Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.
Word 'n vriend van Kerkbode