Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die blydskap op die gesigte vertel hulle eie storie van blydskap oor die verligting wat deur die NG Kerk in KZN se Help KZN-hulpfonds moontlik gemaak word. Foto: Verskaf

Help KZN-hulpfonds meer as miljoen redes vir dankie sê

Honderde kospakkies is reeds uitgedeel en nou, met die Help KZN-hulpfonds oor ’n R1 miljoen sterk, sal die NG Kerk in KwaZulu-Natal meer aansoeke om hulp kan uitbetaal.

“Dit is vir my lekker om julle in te lig dat ons vanoggend die R1 000 000 (miljoen) merk verby gesteek het. Daarmee saam is dit vir ons ’n voorreg om al meer aansoeke vir verligting te begin oorweeg en uit te betaal,” skryf ds Francois Maritz verlede week per WhatsApp.

LEES OOK: ‘KZN-gebeure bied kairos-oomblik om ereskuld te betaal’

Die Algemene Sinode, gemeentes, ander instansies en individue van regoor die land het bydraes tot die Help KZN-hulpfonds gemaak. Gemeentes in George-omgewing het ’n 8-ton vragmotor met kos en noodvoorraad opgestuur. Gemeentes het afsetgebiede geword vir kospakkies en selfs bevrore hoender berig Die Posduif, nuusblad van die NG Kerk in KZN.

In Pietermaritzburg het Susan Kruger en haar span by die Christelike Maatskaplike Dienste-kantoor te hore gekom dat die McLaren Sirkus in die nood is. Al hulle optredes is gekanselleer, maar die werkers het uit hulle eie sak steeds vir die diere wortels en appels gekoop selfs al het hulle nie hulle volle salarisse ontvang nie.

Die werknemers en die diere, soos dié kamele by die McLaren Sirkus, was baie bly oor die kospakkies en voer wat hulle gekry het. Foto: Verskaf

Dr Jamie Rheeder van NG Kerk Hayfields het gehelp met kospakkies en daar is ook voer vir die diere aangekoop. By hulle aankoms by die sirkusterrein, het die een kameel met die ruik van die hooi, dadelik een van die bale hooi oopgeskeur en begin vreet terwyl die ander een bo-op van die bale gaan lê het, berig Die Posduif.

“Dit was wonderlik om te kon help en die waardering van die personeel was wat dit die moeite werd maak. Alle eer aan ons Vader wat alles moontlik maak,” sê Kruger.

LEES OOK: KYK: Hoe gemeentes en lidmate KZN en Gauteng weer herbou

Dit gaan tyd vat om die skade van miljarde rande aan plaaslike nywerhede en besighede te herstel. Marais skryf in die groter voorstedelike gebiede kan mense weer soos normaalweg kos koop, maar op meer afgeleë gebiede is kos peperduur of baie skaars. “Op die oppervlak sal dit lyk asof alles weer terug is na pandemie-normaal. Vra ’n mens ’n bietjie uit sal daar vinnig agtergekom word dat die angs en spanning vlak lê in almal se gemoed.”

Dit is egter die ervaring van hoe mense oor grense heen na mekaar uitreik wat hoop gee vir baie plaaslike gelowiges. “Waarop die lig moet skyn en wat raakgesien moet word, is hoe die meerderheid mense hande vat en nader aan mekaar staan. Juis as gevolg van die krisis word dieper verhoudings gebou en word daar intensioneel nader aan mekaar geleef,” skryf Marais.

Vorms om aansoek te doen om hulp uit die fonds kan afgelaai word deur te klik op hierdie skakel. E-pos dit aan ds Nola Malan by nolamalan@gmail.com.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top