Rings- en sinodale grense: Is dit tyd dat NG Kerk hierdie kleed afgooi?­

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Daar is nie een vierkante senti­meter van Suid-Afrika wat nie deel van ’n NG gemeente nie. Net so is die hele land in ringe en streeksinodes verdeel. Vir ’n groot deel van die NG Kerk se geskiedenis was die grense van gemeentes, ringe en sinodes vas. Lidmate moes gewoon inskakel by die gemeente binne wie se grense hulle gewoon het. Dit het egter wat gemeentes aan betref in 1994 radikaal verander.

In die verslag van die Kommissie vir Gemeentebediening wat voor die Algemene Sinode van 1994 gedien het, is die historiese herkoms van vaste grense beskryf voordat aangedui is dat verskillende gemeentes verskillende profiele het. Hierdie gemeenteprofiele word onder meer deur identiteite soos geografie, demografie, geloof, geskiedenis, spiritualiteit en kultuur bepaal. “Gemeentes is daarom soos mense nie stokke in blokke nie.” Die verslag het verder gemeld dat daar ten spyte van voordele van vaste gemeentegrense ook besliste nadele was. Op grond van bogenoemde het die vergadering die volgende waterskeidende besluit geneem: “Die Sinode erken dat daar bona fide redes kan wees waarom lidmate verkies om by ’n ander gemeente as die geografiese gemeente in te skakel en bepaal dat sulke uitsonde­ringsmaatreëls op ’n ordelike wyse moet geskied.” Hierdie besluit het gemeente­grense in beginsel oopgemaak. Lidmate kon nou kies by watter gemeente hulle wou inskakel. Alhoewel die besluit spe­sifiek na gemeentes verwys het, het hier­die inskakeling dikwels oor rings- en sinodale grense heen geskied.

LEES OOK: Praat eers met die ‘ander’ en dán oor kerkwees

In die huidige debat oor kerkverband moet hierdie besluit deeglik verreken word. In beginsel is die grense wat lidmate betref reeds oop. As die beginsel in die NG Kerk oop grense is, behoort dit ook vir gemeentes ten opsigte van ringe en vir ringe ten opsigte van sinodes te geld. Alhoewel daar bepaalde voordele is om gemeentes in dieselfde geografiese gebied in ringe en ringe in dieselfde geografiese gebied in sinodes saam te groepeer, behoort dit nie die alfa en die omega te wees nie. Tegnologie het afstand laat krimp. Eenheid in die kerk sal nie verder met grense en afstand afgedwing kan word nie.

Die gesprek in die kerk beteken dat dit nou tyd is om buite die boks te dink en om rings- en sinodale grense ook oop te maak sodat gemeentes by ringe en sinodes kan inskakel waar hulle ’n teologiese tuiste vind. Miskien is dit tyd om die parogiale kleed in die NG Kerk vir eens en vir altyd af te gooi.

  • Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
Word 'n vriend van Kerkbode