Die erediens is nie vir toeskouers nie, dit is vir deelnemers

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Uiteindelik lyk dit of dinge nou begin om na normaliteit terug te keer. Die skole is weer oop, jy hoef nie te isoleer as jy asimptomaties is nie, ons begin weer sosiaal verkeer. Van die begin van die pandemie af het epidemioloë gesê die tyd sal kom dat die gevaarlikheid van die virus sal afneem, en dit lyk of dit nou gebeur.

Die kundiges het ook gesê dat ons wêreld ná Covid-19 anders sal lyk. Dat normaal nie presies sal lyk soos voor 2020 nie, en dat ons almal sal moet aanpas by ’n nuwe normaal.

In die kerk het ons ook ’n klomp nuwe dinge begin doen wat ons beter in pas bring met God se bedoelings en waarmee ons kan aanhou. Maar daar is ook ’n klompie wat ons liewers moet ophou doen.

Dominees sê hulle het geleer om minder vergaderings te hou en wil aanhou om soveel moontlik steeds aanlyn te doen. Ons het geleer dat aanlyn vergaderings nie goed werk as ons moeilike besluite moet neem en waar daar uiteenlopende sienings is nie. Daarvoor moet ons mekaar in die oë kyk. Maar as ’n span mekaar goed ken en daar is hoë vlakke van vertroue, kan ons baie besigheid aanlyn hanteer. As dit maak dat ons minder ry en vlieg, sal dit goed wees vir God se aarde.

Ons moet ook aanhou om hande te vat en dieper vennootskappe met medegelowiges en medelandsburgers aan te knoop. Die inperkings het dwarsoor die land nuwe netwerke laat ontstaan. In die verlede het ons egter gesien dat die meeste netwerke weer tot niet gaan as die krisis verby is. Dit sal jammer wees as dit nou weer gebeur. Die gelowiges van hierdie land het mekaar nodig en God gebruik ons baie beter as daar eenheid is.

’n Groot klomp dominees het gesê hulle het baie meer bewus geword van die nood in die gemeenskap. Dit sal regtig jammer wees as ons hierdie sensitiwiteit post-Covid verloor. God gebruik krisisse om ons oë oop en ons hart sag te maak. Mag dit so bly.

Ons het ontdek dat ons aanpasbaar is en nogal vinnig kan leer om dinge op ’n nuwe manier te doen. Aanpasbaarheid is belangrik as ons in pas wil bly met die lewende God. Wanneer jy vir Jesus volg, lei Hy jou na nuwe en ongewone plekke. In ’n post-Covid wêreld gaan aanpasbaarheid belangrik bly.

Ons het ook geleer dat ons almal broos en kwesbaar is en om vir mekaar om te gee. Dit het my tydens die inperkings baie keer opgeval hoe mense vir mekaar omgee, opreg belangstel en vir mekaar bid. Ons moet dit nie verloor nie.

Dan is daar ook ’n paar goed wat ons waarskynlik moet ophou doen.

Ons moet dalk maar ophou om op die TV of selfoon kerk toe te gaan. Die erediens is nie bedoel vir toeskouers nie, dit is vir deelnemers. Die erediens gaan nie net oor die preek nie, ons moet die Here saam loof en die gemeenskap van gelowiges beleef. Saamwees is in die wese van ons geloof en godsdiens.

Ons moet ook ophou om onsself te isoleer. Baie mense vertel hoe hulle na die grendeltyd nog steeds byna soos kluisenaars leef. Ons moet ophou daarmee. Ons moet mekaar sien en hoor en mekaar se hande vat en drukkies gee.

  • Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode van die NG Kerk.
Word 'n vriend van Kerkbode

One thought on “Die erediens is nie vir toeskouers nie, dit is vir deelnemers

  1. Pieter Steyn says:

    1 Kor14:26, die vele tekste wat die geloofs gemeenskap as funksionerende liggaam beskryf en die voorbeeld van die Nuwe Testamentiese kerk veronderstel ʼn veel groter deelname as die skraps voorbeelde in die artikel hierbo. Elkeen wat teenwoordig is met ‘n aktiewe bediening aan mekaar tydens die byeenkoms? Ja, presies. En dit is moontlik sodat alles tot opbou van die gemeente sal gebeur.

Comments are closed.