‘Dans is anders as marsjeer’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

“Jy moet hier voor links draai,” sê ek.

Ons is op pad, my seun bestuur en ek navigeer.

“Is jy seker dis links, Pa?”

Hy vra dit nie omdat hy vermoed ek ken nie die pad nie. Hy vra omdat hy weet my links en regs raak deurmekaar. Ek hoor dit gebeur wanneer jy as ’n kleuter nie genoeg gekruip het nie.

LEES OOK: Om reg te bid

In my diensplig was dit moeilik. Ek moes hard konsentreer om in pas te bly. En in ons getroude lewe het my vrou moed opgegee om met my te dans. My voete raak deurmekaar. Ek dink dit het alles met mekaar te doen – dit kom nie vir my natuurlik om in pas te wees nie.

Die naam van hierdie rubriek is: “In pas met die lewende God”. Dit kom van ’n handleiding wat gemeentes help om getrou te wees aan God se roeping. Dr Gert Cordier is die hoofskrywer en redakteur en dr Nico Simpson, hoof van Bybel-Media, het hierdie briljante naam vir ons gegee.

Die naam sê eintlik alles: Om getrou te wees aan jou roeping, moet jy in pas wees met God. Dit gaan egter nie oor marsjeer nie, dit gaan oor dans. In pas-wees met God beteken om deel te word van die dans van die Vader, Seun en Gees.

Dans is anders as marsjeer. Orals waar ek marsjeer het, het iemand bevele geskree. Dans is nie so nie. God dwing jou nie om saam te dans nie, Hy nooi jou uit.

Dans is wel uitdagend. Daar is altyd nuwe style, nuwe ritmes en nuwe passies. Baie ballroom dansers sê die wals is die moeilikste. Ek sou dit nooit kon raai nie. Dit lyk so eenvoudig: één-twee-drie, één-twee-drie. Maar om dit regtig goed te doen, vra blykbaar baie oefe­ning. ’n Mens kan jou hele lewe lank dans en daar sal altyd iets nuuts wees. Die dans met die lewende God is nog meer so: Dit bly jou lewe lank nuut en uitdagend. Dit het ons in die tyd van Covid-19 gesien: In hierdie tye moes ons allerhande nuwe passies leer.

Die dans saam met God vra ook nabyheid. Hierdie is nie van daardie soort danse waar elkeen maar op sy eie aangaan nie. God nooi ons in, Hy wil ons naby Hom hê om sy dans te leer.

’n Mens kan alleen dans, maar dit is ook iets om saam met ander te doen. Om in pas te wees met God gaan oor jou privaatlewe, maar dit is ook sosiaal. Ons leer saam die beste met ander en ons dans ook die lekkerste saam met ander. Die dans waarheen God ons nooi, is privaat én publiek, op jou eie én saam met ander gelowiges.

God nooi jou in om saam te dans. Of dit vir jou natuurlik kom of nie, dit maak nie saak nie. Kom dans net!

  • Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.
Word 'n vriend van Kerkbode