Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Ek kan baie goed onthou toe ek die eerste keer die Ons Vader-gebed regtig gebid het. Dit was een Sondag terwyl ek ’n erediens afgesluit het. Ons gewoonte was om ná die offergawes dankie te sê daarvoor en te bid vir die werk waarvoor ons dit wil gebruik. Die gemeente was reeds ’n paar jaar op reis met ons gestuurde roeping en die werk het vinniger gegroei as die gemeente se geld of mannekrag.
Ek begin om my gebed af te sluit: “Ons Vader wat in die hemel is. Laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil op aarde geskied soos in die hemel.”
Terwyl ek die woorde sê, besef ek skielik: Ek bedoel wat ek bid. Ek verstaan skielik waarvoor ek vra.
Tevore het die eerste drie bedes van die Ons Vader nie regtig vir my sin gemaak nie. Die regtig belangrike deel van die gebed kom waar ’n mens vra vir jou daaglikse brood, die vergifnis van jou sonde en die beskerming van jou siel, wanneer dit oor jou sake en behoeftes begin gaan. Eers toe ek gekonfronteer is met ’n roeping wat groter is as ekself of die gemeente, het ek die eerste drie bedes ernstig begin opneem.
Wanneer Jesus sy volgelinge leer bid, wil Hy hê ons moet leer om reg te bid: Dit gaan nie in die eerste plek oor mense se agenda en behoeftes nie. God se agenda is die belangrikste van alles.
Hierdie drie bedes vra eintlik vir een ding: dat God se heerskappy aanbreek. As dit gebeur, geskied sy wil op aarde en kry Hy die eer wat Hom toekom. Dan begin dinge op aarde lyk soos in die hemel. Die Koning se agenda is dat die wêreld heel word.
Hoe meer ’n mens jou roeping as gestuurde ernstig opneem, hoe meer besef jy dat mense nie hierdie werk kan klaarmaak nie. Dit is te groot en te veel. Ons sien dit in hierdie tyd: Daar is te veel korrupsie, te veel swaarkry, te veel armoede, te veel ongeloof en pessimisme, te veel rassisme, te veel onreg, te veel mense wat siek word en doodgaan.
God stuur ons na die wêreld en ons doen wat ons moet, maar ons weet: Ons mense kan dit nie regmaak nie, die stukkendgeit is te veel en te groot. Ons het God nodig en Jesus leer ons om daarvoor te bid. Ons gestuurde roeping leer ons om reg te bid.
- Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode van die NG Kerk.
