Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

In pas met die (lewende) God: Hoe kwaad is jy? En vir wie?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die mense is kwaad. Taxibestuurders is openbare vyand nommer 1. Dan kom die munisipaliteit oor die slaggate en Eskom oor beurtkrag. Daarna die korruptes. Hier is darem ’n bietjie verligting omdat ons begin sien dat party in die hof verskyn. Verder is mense sommer net kwaad oor alles wat verkeerd is in die land. ’n Mens kan sien hoe hierdie pruttende aggressie op allerhande plekke oorkook.

Langenhoven het glo gesê: “Moenie terugslaan nie, slaan eerste.” Ons lag daaroor omdat goeie mense nie eerste slaan nie. Maar terugslaan is nie snaaks nie, dit is ’n saak van pynlike erns.

Lees ook: Kerk se versoeningsboodskap in die gedrang?

Christene is meestal meer geneig om te sondig in ons reaksies as in ons aksies. Goeie gelowiges doen normaalweg nie bewustelik iemand anders kwaad aan nie. Maar as jy kwaad aangedoen word, is dit ’n ander saak.

Daar is min dinge wat ’n mens so kwaad laat word, en kwaad laat bly, as wanneer jy voel jy word onregverdig behandel en benadeel. Of dit nou ’n taxi is wat in jou baan stilhou of iemand wat ’n skinderstorie oor jou versprei, die gevoel wat by jou opkom, is een van geregverdigde verontwaardiging of selfs woede.

Dit lyk my ’n paar dinge is baie belangrik as ons ons integriteit as volgelinge van Jesus wil behou.

Ons lees in die Bybel dat God ook kwaad geword het. Dit het veral gegaan oor groot sake: die misbruik van mag, die verontregting van mense sonder posisie of mag en afgodsdiens (in die Bybel was dit Baäldiens, vandag is dit Mammon, gierigheid). Dit is reg dat ons kwaad word as ons sien dat hierdie patrone in ons land herhaal word.

Ons moeilikheid is dat ons gewoonlik kwaad word as ons self verontrief of benadeel word. As ons deur God se oë kyk, is dit meestal kleinighede, dinge waarvan ons eintlik net moet wegstap. Paulus vra: “Waarom ly julle nie liewer onreg nie?” Dit is nie maklik nie, maar dit is die voorbeeld van Jesus.

Lees ook: Nadia Marais | Die geskenk van woede

Ons móét egter kwaad word en protesteer as die armes, die swakkes, mense sonder ’n stem of staanplek, benadeel word. Dit is dinge waaroor God ook kwaad word. Dit is heilige woede.

Ek wonder verder wat dit beteken dat die Bybel sê: “Word kwaad, maar moenie sondig nie.” Daar is ’n manier van kwaad word wat saamgaan met uitbarstings, vloek, skel, kwaadpraat en handgebare. Dit pas nie by mense wat in pas leef met die lewende God nie. Selfbeheersing is ’n vrug van die Gees, en met rede.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top