Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
“Faith tells us only that God is. Love tells us that God is good. But hope tells us that God will work God’s will. And hope has two lovely daughters: anger and courage. Anger so that what cannot be, may not be. And courage, so that what must be will be.”
Hierdie aanhaling, wat toegeskryf word aan die kerkvader Augustinus, herinner aan die rykdom van teologiese nadenke oor woede. Dit is dalk besonder gepas, want dit is daardie tyd van die jaar. Almal se humeure is kort. Almal is moeg. Ons geduld met mekaar is min, en dit wat nog vanjaar moet klaarkom, lê soos ’n berg voor ons. Dit is nie moeilik om woedend te raak nie. Oor die kerk (dalk selfs oor die pasafgelope Algemene Sinode), oor mede-padgebruikers se bestuurvermoëns, oor die politiek, oor die toekoms. Ons woede lê vlak.
In sy boek Kookpunt! Nadenke oor woede (2015) skryf Cas Wepener dat Suid-Afrikaners woedend is – ons is ’n nasie wat ’n kookpunt bereik het. In die kerk, en in ons geloofslewe, probeer ons dit egter onderdruk omdat ons woede veel eerder assosieer met sonde – soos by die sewe Katolieke doodsondes, waarby woede ingesluit is – as met die maak van ’n heilsame en lewegewende verskil. Tog vra hy ’n belangrike vraag in sy boek: “Sou woede nie ’n gawe van God kon wees nie?”
Die bekende School of Life, wat in 2008 onder leiding van die bekende filosoof Alain de Botton gestig is, skryf juis oor woede in hulle versameling lewenswyshede met die titel The School of Life: An emotional education (2019). Die hoofstuk oor ander – met die titel ‘Others’ – wys daarop dat ’n woedende reaksie (“fury”, “anger”, “rage”) op iets dieperliggend dui as net blote irritasie of frustrasie. Die logika agter ons woede is teleurstelling – ons word kwaad omdat ons hoopvol is. Wanneer die sekuriteit van ons verwagtinge verraai word, is ons woedend – maar ons raak woedend omdat ons omgee. Woede is ’n uitdrukking van hoop.
Ons durf egter slégs van hoop praat, meen Allan Boesak, indien ons bereid is om van haar twee lieflike dogters – woede en waagmoed – te praat. Die Augustinus wat hier aan die woord is, soos by die aanhaling bo, is ’n profeet – meen Boesak – wat diep besorgd en diep verstoord is deur die onreg en geweld wat oral rondom ons gesien en gehoor kan word. Hierdie soort woede – profetiese woede of heilige woede, noem Boesak dit elders – is nie onvanpas nie, maar juis gepas wanneer geweld en geweldenaars ons oorweldig.
Tog is hierdie woede nie gebore uit weerwraak of bitterheid nie, maar vanuit diepe besorgdheid en liefde. Christelike woede behels die teenoorgestelde van ongetraakdheid of onaangeraaktheid. Dit is liewer ’n uitdrukking van liefde – dié soort liefde, in die woorde van die Amerikaanse teoloog Serene Jones, “that is fierce in its capacity to hate what harms”. Dit behels om, in die woorde van Russel Botman, “te leef asof nie” (met verwysing na 1 Korintiërs 7:29-31). God se toekoms noop ons om te leef vir wat behoort te wees, al is dit nog nie.
Lees ook: Die huwelik – geheime sakrament?
In die Bybel is daar talle verwysings na God se woede – dikwels teenoor die verbondsvolk, Israel, wat ook die ontvangers van God se beloftes van liefde en trou is. Maar God se woede is nie beperk tot die Ou Testament nie. Ook in die Nuwe Testament, en ook by Jesus, kom woede ter sprake. Dink byvoorbeeld aan Jesus wat tafels omgooi en mense uittrap en uitjaag uit die tempel (Matt 21:13-14)! God se woede word nie verswyg nie – ook nie in ons geloofsbelydenisse nie, waarin ons bely dat Christus die Regter is wat sal kom om te oordeel.

Hoe ons dink oor woede is egter belangrik. God se woede is veel meer as net ’n bangmaaktaktiek; veel meer as net die wraak van God op die dag van wraak en woede (dies irae). God se woede staan nie los van God se genade nie. Eerder is God se woede die woede van “die God wat geregtigheid herstel” (Hervormingsdaggetuienis 2017) en wat nie ongetraak en onaangeraak is deur onreg, geweld en lyding nie. God sê wel nee, skryf Karl Barth, maar God sê nee vir ons ter wille van God se ja aan ons. Ons is nie oorgelewer aan ’n onbetrokke en oppervlakkige heil nie. Die verlossing wat ons ontvang kweek in ons hoop – en woede.
Woede kan ’n geskenk wees wat ons aan mekaar gee, want ons woede is ’n uitdrukking van ons hoop. Ook ons woede is welkom by God – dink aan Jona, of Job. Woede, die dogter van hoop en die suster van waagmoed, is ’n uitdrukking van lewe. Dalk sou ons daarom nie noodwendig méér woedend moes word nie, maar eerder béter woedend – sodat selfs ons woede ’n lewegewende verskil kan maak.
▶ Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.