Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Die huwelik – geheime sakrament?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


“Hoe sien ek nie op daarteen om oor die huwelik te preek nie!”

So begin die Hervormer Martin Luther sy traktaat oor die huwelik (1522). Dit is merkwaardige woorde omdat dit uit die pen van die 39-jarige ongetroude Luther kom, wat nog nie eens sy aanstaande, Katharina von Bora, ontmoet het nie. Sy is nog ’n non, en sou Luther eers ’n jaar later (1523) ontmoet nadat sy vlug van haar klooster. Hulle is twee jaar later getroud (1525). Dit alles lê egter nog in die vooruitsig. Hier is Luther nog ’n ongetroude jong teoloog.

Maar daar is ’n verdere rede waarom hierdie woorde van Martin Luther merk­waardig is. In 1519 preek Luther oor die huwelik as ’n sakrament: “’n heilige teken van iets geestelik, heilig, hemels en ewig”. In sy beskrywing behoort ons die kerkvader Augustinus te hoor, wie se bekende beskrywing van die sakramente lui dat dit sigbare tekens van God se onsigbare genade is. En Mar­tin Luther was immers ’n monnik in die Augustiniaanse orde.

Drie jaar later is die huwelik vir Luther beslis nie meer ’n sakrament nie. Dán argumenteer hy deurgaans daartéén dat die huwelik as ’n sakrament beskou en behandel behoort te word. Binne drie jaar – vanaf 1519 tot 1522, so ver as wat die Algemene Sinode van 2016 en die Algemene Sinode van 2019 van mekaar weg is! – verander Martin Luther radikaal van mening oor die huwelik. Dit alles voordat hy trou en terwyl hy nog aan kerklike selibaatsvereis­tes on­derworpe is. Maar hóé kom Luther tot hierdie meningsverandering?

Dit is die Bybel wat hom tot ander insigte bring. Terwyl hy besig is om die Nuwe Testament te vertaal en lesings oor Romeine aan te bied merk hy op dat die basis van die ganse skolastieke teo­lo­gie en Katolieke kerkreg se ver­tolking van die huwelik as sakrament berus op die misverstaan van ’n enkele Bybelvers: Efesiërs 5:32. Daarin word die Griekse woord mysterion dan ook inderdaad gebruik (sacramentum in Latyn) – maar Katolieke teoloë vanaf die Konsilie van Trent (13de eeu) het hierdie vers op twee maniere misgelees en misverstaan: dat die huwelik ’n sakrament is, en dat die verhou­ding tussen Christus en sy kerk ’n blou­druk vir die huwelik is.

Luther self lees hierdie teksgedeelte egter nou anders. In Efesiërs 5:32 word die huwelik as ’n beeld ingespan vir die verhouding tussen Christus en sy kerk, argumenteer Luther, en nie andersom nie. Die verhouding tussen Christus en sy kerk is nie ’n maatstaf vir die huwelik, of selfs ’n bevestiging van die huwelik as tussen een man en een vrou nie. Dit is juis teen hierdie interpretasie wat Luther beswaar maak. Eerder beteken dit, verduidelik Luther, dat Paulus ’n be­staande, gegewe voorbeeld uit sy om­ge­wing – die huwelik – gebruik, iets waarmee lesers welvertroud sou wees, om iets wat nog vir hulle onbekend is – die verhouding tussen Christus en die kerk – te verduidelik. Nie andersom nie.

In Gereformeerde kerke is die huwelik al sedert die Reformasie nie ’n sakrament nie. Tog is sakramentele taal, soos “heilig” en “deur God ingestel”, telkens in ons eie kerklike besluite gebruik vir die huwelik. Dit is verder opvallend dat ons huweliksformuliere ook op Efesiërs 5:32 berus – presies die tekskeuse en teks­interpretasie waarteen Luther be­swaar gemaak het in sy eie (her)besinning oor die huwelik.

Dalk is dit tyd dat ons oop en eerlik vir mekaar vra: Het die huwelik nie maar in sowel ons taalgebruik as ons gebruike ’n geheime sakrament in die NG Kerk geword nie? Indien nie, waarom ontlok kerklike debatte oor die huwelik soveel konflik? Indien wel, behoort ons die huwelik so te hanteer? Kortom, waar­voor is ons so ontsettend bang? Dat te veel mense trou? Dat te min mense trou? Dat die verkeerde mense met mekaar trou? Dat mense skei? Gebeur dit alles nie alreeds nie?

Suid-Afrika gaan binnekort – teen 2021, volgens beraming – nuwe huwelikswetgewing verkry, waarin die drie huwelikswette wat tans geld (die Wet op Huwelike van 1961, die Wet op die Er­kenning van Gebruiklike Huwelike van 1998, en die Wet op Burgerlike Verbintenisse van 2006) binne een huweliks­wetgewing saamgesnoer gaan word. Die motivering vir hierdie verandering het te make met diskriminasie – sommige wette diskrimineer teen sekere landsburgers – het dr Aaron Motsoaledi onlangs verduidelik. Hy het die (twy­fel­agtige) bydrae van die Christelike geloof se huweliksbeskouing, en die Calvinis­me spesifiek, daarin genoem.

Tog is dit nie Christene, of die dissipels, wat die huwelik uitvind nie – dit is die strekking van Luther se argument. Ons het nie patentreg op die huwelik nie. Ook is die huwelik nie die hoek­steen van die kerk nie. Ons diepste troos lê nie daarin dat ons getroud of ongetroud is nie.

So wat lê dan versteek – watter vrese, watter angstighede, watter verliese – ag­ter hoe fel ons debatte rondom die huwelik woed? Kan ons dit verwoord? Kan ons dit durf waag verswyg?

Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

4 thoughts on “Die huwelik – geheime sakrament?”

  1. dr Floris Knouwds

    Teologie kan jou kop lekker deurmekaar maak. Soos dit duidelik in hierdie skrywe blyk.

    Nadia beroep haar op Luther (‘n groot kanon in die kerkgeskiedenis) en Motsoaledi (‘n groot kanon in die politieke landskap) om haar eie interpretasie van die teks te regverdig/onderstreep. Deur net die teks te lees, kan jy egter agterkom hoe ongegrond haar argument regtig is.

    Daar staan immers duidelik: Soos Christus die gemeente liefhet…. só moet die man sy vrou liefhê. En soos die gemeente Christus respekteer… só moet die vrou die man respekteer. Presies hoe hierdie dans tussen respek en liefde in die praktyk lyk of gebeur, kan net voortvloei uit ‘n verstaan van die verhouding tussen Christus en sy kerk. Om dit nou (gerieflikheidsonthalwe) te probeer omdraai, rym net doodgewoon nie met die Bybelse teks nie. En ook nie met die praktyk nie. Hoe kan huwelike (waarvan die grote meerderheid misluk!) gebruik word om Christus se verhouding met sy kerk te verstaan?

    Gelukkig het Nadia ‘n ander redenasie wat sy kan oprakel (om watter rede ook al): die spook van saktramentalisme! Maar sakramentalisme in nêrens in die teks ter sprake nie (Daaroor stem ons saam!). DIt gaan oor Christenwees in die praktyk van ‘n verhouding tussen man en vrou. (Dis nou as jy die teks lees binne die konteks van die struktuur van Paulus se brief. En die konteks van ander riglyne om Christus as model te gebruik). Binne die konteks sê die teks net dat die eenheid tussen man en vrou (geskoei op ‘n verhoudingspraktyk in ooreenstemming met die voorbeeld van die verhouding tussen Christus en sy kerk) ‘n misterie is wat ontrafel moet word. Heel moontlik in die praktyk van die verhouding. En in die praktisering (of as die effek ) van ‘n verhouding wat dieselfde kenmerke dra as die verhouding tussen Christus en sy kerk.

    Wanneer man en vrou dit ontrafel en leef, word hulle huweliksverhouding dan weer ‘n refleksie van Christus se verhouding met sy kerk. Omdat dit gebou is op die model wat hulle by Christus sien!

    Maar nouja, teologie, PLUS jou eie agendas, kan jou kop regtig deurmekaar maak. En kan jou vrae laat vra…. selfs op antwoorde laat aandring…. wat niks met die teks te make het nie.

    Maak nie saak of dit Luther of Motsoaledi of Nadia se teologie/standpunt is nie.

  2. Wat presies is die bedoeling met hierdie skryfstuk? Is dit om ‘n Skriftuurlike en eksegetiese of dogma-historiese perspektief op die huwelik deur te gee? Of is dit ‘n poging om die huwelik verder te probeer aftakel? Ek wonder maar net….

  3. Waarom is my baie neutrale vraag oor die kwessie of die normale en gesonde huwelik onder verdenking geplaas word, hier verwyder. Of word Nadia Marais as beskermde “wild” beskou. My afleiding is dat daar hoegenaamd geen oop gesprek hier en in die NGK meer moontlik is nie, en dat bepaalde eensydige agendas gedryf word. Laat weet my asb dringend wie dit verwyder het, oor die redes hiervoor en of bepaalde agendas gedryf word. Ek verwag ‘n antwoord voor Vr 20 Sept om 11.00 vm. Indien ek nie bevredigende antwoorde, kry nie sal ek dit Saterdag met die hele ASM moet deel. Met dank. Prof JW(Hoffie) Hofmeyr(Tel 0824527778)

    1. Geagte leser,
      Hierdie kommentaarafdeling is só opgestel dat kommentaar onderaan enige berigte op ons webwerf vóór publikasie deurgelees en goedgekeur moet word. Dit gebeur nie outomaties nie. As ’n span van twee, beman ons dié nuwe funksie nie 24 uur per dag en sewe dae per week nie. Ons bring dit by as deel van ons daaglikse nuus- en inhoudsbestuurstake. En ons doen dit wel na die beste van ons vermoëns met die hulpbronne tot ons beskikking. – Red.

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.