‘Johnny du Plessis must fall’

Histerie en historie klink amper dieselfde. Maar die gebruik van twee afsonderlike klinkers, tien letters van die alfabet van mekaar, sê tog dat daar ’n wesenlike verskil is, skryf Johann Ernst.

Daar het nou weer in die pers ’n histerie losgebars oor die Du-Plessisstryd van destyds na analogie van vandag se teologiese stryd in die NG Kerk oor Skrifgesag en Skrifgebruik. Dieselfde stemme word weer gehoor.

Dit wat so angstig en teikengerig oor professor Johnny (so was hy bekend) du Plessis van Stellenbosch, alias Pienk Piet, geskryf word, laat ’n mens dink aan die aanmerking wat die dominee op ’n spesifieke plek van sy preek in die kantlyn geskryf het: “Argument weak, shout here.” In Bryan Griffin se boek Panic among the Philistines skryf hy in ’n effens ander konteks: “They had become an interest group battling for a share of influence, seeking to preserve their sense of self-importance by bullying an increasingly disgusted public into extending their mandate for another decade or two. The more they were called to account, the louder did they howl.”

Die Engelse het ’n woord vir hierdie gebruik van ’n naam om ’n argument te probeer wen en verwerping of veroordeling te bewerk, sonder om na alle kante van ’n saak te kyk en die feite objektief te beoordeel. Hulle noem dit “name dropping”. Volgens sielkundiges kom “name dropping” gewoonlik van iemand wat met ongemak, angs en twyfel oor ’n eie bydrae tot die situasie sit. Dit word ook gedoen om beheer oor ’n saak te kry of om beheer daaroor te behou. In die logika word gewoonlik negatief daarna verwys, omdat dit dikwels ’n beroep op valse gesag is.

Dit is verstommend (“mind boggling”) dat dit juis teoloë is wat aandring dat daar histories-krities met tekste omgegaan word, wat so a-histories en a-krities met hulle eie verlede omgaan. Soms is dit so dat ander beskuldig word van die dinge wat jy self doen, veral as jou eie vooropgestelde sienings ter sprake kom en jy jou daarteen moet verdedig.

Wie Johnny du Plessis was en waarvoor hy gestaan het, kan nie hier in ’n paar sinne saamgevat word nie. Maar dat hy ook maar net ’n man van sy tyd was met sienings wat vandag krities en met onderskeiding beoordeel moet word, is waar. Ongelukkig was sy teologie nie so Bybelgetrou as wat sy naamgebruikers wil voorgee nie, maar hy het verseker ook ’n bydrae gemaak tot ’n beter verstaan van die Bybel. Natuurlik het die Du Plessisstryd ’n demper geplaas op die onderrig en prediking van omvattender Bybelteksvertolking, maar die eksegetiese “vakuum” wat daarna ontstaan het, was meer omdat daar in die NG Kerk ’n demper geplaas is op die vrysinnige, rasionele, mensgerigte en ervaringgedrewe omgaan met die Bybel, wat die Bybel sy gesag wil ontneem, op die lewe ten koste van die leer wil fokus, die kerk kredietwaardig, voordelig en relevant wil maak, taal belangriker as die waarheid wil ag, oor Jesus vir ons en nie soseer óns vir Jesus wil praat en skryf nie, meer weë tot God wil baan en God die Vader (of Moeder) van almal wil maak.

Na Johnny du Plessis se afsterwe is sy tydskrif Het Zoeklicht, wat hy met geld uit Amerika bedryf het, in 1933 vir die eerste keer in Afrikaans uitgegee. Daarin het ds DJ Malan opgemerk: “Geen ‘reguit’ mens sal hom vandag met godsdiens, waaraan ’n slaafmoraliteit kleef, tevrede stel nie. Die kerkistiese, dogmatiese godsdiens met forserende formules en voorskrifte is nie meer godsdiens wat die intelligensie, die gemoed en gewete van die mens beetpak nie.” Hierop het prof EE van Rooyen van die Teologiese Fakulteit in die Gereformeerde Vaandel geantwoord: “Die ‘ander standpunt’ is blykens die onmiddellike verband, en wat met reg daaruit afgelei kan word, die nie-dogmatiese, nie-konfessionele, dit wil sê, die vrysinnige, liberalistiese, modernistiese …”

Elke mens het seker ook sy donker kant, waaroor jy later skaam sal kry as iemand daaroor moet skryf. So is ons maar elkeen mens van ons tyd. Sou die protesteerders, wat in 2015 daarin geslaag het om Cecil John Rhodes se standbeeld van die kampus van die Universiteit van Kaapstad verwyder te kry, hier verder lees, kan Johnny du Plessis se standbeeld in die winderige Kaap moontlik spoedig op Stellenbosch ook waai. As aktiewe ondersteuner van generaal Smuts se Sap-party (Smuts het ook sy grafrede gehou), het Johnny du Plessis na die stembusoorwinning van die Nattes in 1924 hom gereeld in die openbaar oor die “rassepolitiek” uitgelaat. Hierin het hy sy bondgenote voor- en nagepraat. Die Du Plessisstryd het duidelike politieke ondertone gehad. Johnny du Plessis se ma was ’n dogter van ’n sendeling van die Londense Sendinggenootskap en hy het hom tuis gevoel in die Kaaps-liberale en die Brits-imperiale politiek van toe. Stellenbosch het intussen met Jan Marais se Rhodes-diamantgeld die bastion van Afrikanerdom en die broeiplek van Apartheid geword. Generaal Hertzog se swaer het die behoudende teenskrif De Oude Paden befonds.

Gegewe die feit dat daar nou amptelik te Stellenbosch vanuit ’n liberale, post-koloniale, woke en queer perspektief teologie beoefen word, wonder ’n mens net wat vorentoe met “Pienk Piet” gaan gebeur. Of gaan die naamvallers dit bly verswyg en voortgaan om met halwe waarhede die stryd verder te voer? In Het Zoeklicht van 1925 skryf Du Plessis: “Wij hebben te veel vertrouwen in de kundigheid en zedelike kracht van het gekerstende blanke ras, te veel vertrouwen in de deugden en vermogens die de Kaukasiërs in de loop van velen eeuwen van opvoeding en oefening opgegaard, te veel vertrouwen in de uitspraak van de geschiedenis (de openbaring van Gods Voorzienigheid), dan dat wij geloven dat de blanken in Zuid-Afrika door een ras dat zij tot kennis van ’t Evangelie hebben geleid … opgevoed, opgeheven, en met nieuwe idealen bezield, zullen worden oorweldigd en uitgestoten …” In 1926 in die International Review of Missions sê Du Plessis: “So then, the Natives within the Union of South Africa have no reasonable claim to equal rights and equal privileges … Holding as we do the doctrine of inequality, we cannot admit that there [are] any such thing as equal rights. The demand for equal rights can claim no support from the New Testament, which recognizes the existence of ranks and classes in the social order …”

Wat gemaak met Johnny du Plessis se rassemeerderwaardigheid, rassistiese opmerkings teenoor laerklas swartmense en sy fundamentalistiese Skrifgebruik wat voortgesette klasse-apartheid tussen die “haves” en die “have-nots” verdedig het? Sal die ware Johnny du Plessis asseblief opstaan?!

Miskien moet diegene wat vir Pienk Piet by die Fakulteit Teologie in Stellenbosch ingedra het, hom vinnig weer uitdra, voordat die wekroep die nuwe generasie studente bereik en die protes begin: Johnny du Plessis must fall!

  • Dr Johann Ernst is ’n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode van die NG Kerk.
Word 'n vriend van Kerkbode