As die kerk nie help met heling van dienspligtrauma nie, wie sal?

Mense vind heling wanneer hulle ’n veilige ruimte kry waar hulle oor traumatiese ervarings soos byvoorbeeld militêre konflik tydens diensplig kan praat, selfs al is dit dekades later. Die kerk kan, sommige sal selfs sê móét, help met die skep van sulke ruimtes.

Dit is tyd dat openhartig gepraat moet word oor die impak wat die dienspligbelewenis vandag nog op mense het, het meer as 50* deelnemers gehoor tydens ’n onlangse aanlyn simposium wat die Oos-Kaapse streeksinode rondom die tema “Diensplig: die bagasie van ’n generasie” as voortgesette bedieningsopleiding (VBO) vir predikante op die Zoom-platform aangebied het.

“As ons in Suid-Afrika oor kollektiewe trauma wil praat, hoe trauma van een geslag na ’n volgende oorgedra word, moet ons oor diensplig en die impak daarvan praat,” verduidelik ds Danie Mouton, direkteur van die Oos-Kaapse streeksinode en die organiseerder van hierdie simposium, later aan Kerkbode.

“Meer as 600 000 jong, wit Suid-Afrikaanse mans het diensplig gedoen. Hier het hulle uiteenlopende ervarings gehad, baie daarvan meer of minder traumaties. Later is hulle getroud, het pa’s en nog later oupas geword. Feitlik geen van die families van hierdie dienspligtiges is onaangeraak gelaat deur diensplig nie,” skryf Mouton in die bemarkingsbrosjure vir die simposium.

Dit is egter dikwels moeilik vir mense wat in militêre konfliksituasies was om later daaroor te praat. Soos die 31-jarige sosiale entrepreneur Anelia Heese, een van die sprekers, dit stel, as sy haar pa oor sy dienspligtyd sou uitvra, sou hy net sê “dit was dom”.

Een manier om enige belewenis van trauma te help ontlont is om gespreksgeleenthede te skep.

Professor Robert Meagher, die Amerikaanse teoloog, kapelaan en akademikus, is genooi as hoofspreker by die simposium oor sy wye ervaring met die seer en innerlike stryd waarmee baie oorlogsveterane worstel na hulle terugkeer van militêre opleiding en oorlogsituasies af. Só het sy jarelange vriend, die Stellenbosse akademikus dr Wilhelm Verwoerd, wat die bespreking by die Diensplig-simposium gefasiliteer het, hom as spreker bekend gestel.

Verwoerd het gesê die doel met hierdie “verkennende gesprek” by die simposium is om te kyk of “ons in … spesifiek die Nederduitse Gereformeerde konteks … ’n taal kan vind wat sin maak, diep sin maak en betekenis gee (aan die dienspligjare) … en ons hoop is dat die taal wat Robert (Meagher) oor tyd ontwikkel het ons kan help”.

Sy ervaring met oorlogsveterane dateer terug na sy grootwordjare omring deur mense wat fisies en psigies in die Tweede Wêreldoorlog gewond is. Jare later toe sy eie broer nie kon praat oor sy tyd in die Viëtnam-oorlog nie, het hy begin om te luister, diep te luister wanneer oorlogsveterane praat, in die hoop dat as hy lank en diep genoeg luister hy iets kan begin verstaan en hulle kan bystaan, het Meagher die redes vir sy belangstelling in hierdie veld verduidelik.

Hy het die konsep “morele verwonding” – ’n “verwonding van die gewete” wat hy meen in oorlog onvermydelik is, na die tafel gebring om met sulke gesprekke te help.

Die term “morele verwonding” is deur sy vriend, die sielkundige dr Jonathan Shay “wat nie ’n godsdienstige man is nie,” sê hy, ontwikkel as ’n konsep om sin te probeer maak van die hoë selfdoodsyfer wat voorkom onder mense wat selfs net militêre opleiding ondergaan het sonder dat hulle in oorlogskonfliksituasies was.

“Want ‘oorlog’ is na alles ’n eufemisme … Oorlog gaan oor doodmaak,” sê Meagher wat meen dat dit selde erken word dat diegene wat opgelei is om dood te maak ook morele verwonding opdoen. Hy het vertel van ’n kleuterskooljuffrou wat in haar opleiding as konvooidrywer vir die Amerikaanse weermag in Irak haarself en haar toesighouers moes oortuig sy is bereid om selfs kinders om te ry sou dit nodig wees. Hoewel sy nie werklik in só ’n situasie gekom het nie, het sy gevoel sy kon nie met haar terugkeer weer met klein kinders werk nie, het sy hom agterna vertel.

Dit is sy ervaring dat oorlogsveterane gehelp word deur mense soos medeveterane wat diep en empaties na hierdie stories kan luister, sê Meagher.

Sy is dankbaar vir hierdie veilige spasie wat oorlogsveterane by mekaar vind, maar dit is haar ervaring dat dit ouddienspligtiges ook help as dit jonger mense is wat oop is vir sulke gesprekke, sê Heese, die jongste spreker in haar spreekbeurt. Haar onderhoude wat sy met 55 ouddienspligtiges aanlyn in grendeltyd gevoer het bied ’n voorbeeld van hoe so ’n spasie geskep kan word. Dit kan as poduitsending geluister word by https://www.diensplig.org/.

“Ek het hulle vertel ek verstaan dat dit vir hulle moeilik is en dat ek jammer is dat hulle deur dit (grensoorlog/diensplig) moes gaan en ek is nie hier om te oordeel nie,” het Heese gesels vanuit Duitsland waar sy die laaste paar jaar woon.

Gebore in 1991 in Namibië, het sy apartheid nog altyd as moreel onverdedigbaar gesien het, maar hierdie gesprekke met ouddienspligtiges het haar gehelp om die redes agter die rassisme wat sy by haar pa en oupa se generasie mans teenoor swart mense ervaar, beter te verstaan.

“Deur nie te praat oor die verlede nie, raak die hede al meer pynlik,” sê Heese wat in hierdie gesprekke ook agtergekom het vir baie van hierdie oorlogsveterane is die ANC steeds net ’n terroriste-organisasie. Die vyand van destyds. “Dít maak dit vir hulle moeilik om vandag gewillige en bydraende deelnemers te wees in die opbou van ons samelewing. Hulle voel gefrustreerd en irrelevant,” het Heese verduidelik.

Vanuit sy huis in Pretoria waar hy tans gemeenteleraar is, het die 59-jarige dr Willem Boshoff vertel dit was vir hom ’n “wake-up call” om in sy voorbereiding vir hierdie Zoom-gesprek met tydgenote te gesels wat diensplig gedoen het en te besef dat daar soveel dinge is wat nog nie uitgesorteer is nie.

Hy het gesê alles was nie sleg met diensplig nie. Baie lewenslange vriendskappe is daar gesmee, maar ook is “daar baie mense wat seer het, my generasie en jonger, wat by hierdie gesprekke gaan baat vind,” meen die oudkapelaan wat 30 jaar gelede op die Mosambiekse grens sy diensplig gedoen het.

Dit is teen hierdie tyd ook al meermale deur sy mede-oudkapelane gesê die grensoorlog en diensplig het geskied met die ondersteuning van die NG Kerk, so dit is reg dat die kerk ook help heel maak, is die algemene konsensus op die simposium.

“En eerlik, as die kerk (NG) nie iets aan die dilemma doen nie, gaan niemand nie. Ek moet byvoeg, ek dink nie aan die kerk met sy sinodes en ander belangrike vergaderings nie, maar aan die kerk as plaaslike gemeentes,” het Boshoff gesê, wat ’n wetenskaplike artikel agter sy naam het wat handel oor gemeentes as fasiliteerders van kollektiewe rouprosesse.

Boshoff het die volgende ses maniere voorgestel waarop gemeentes mense met seer in hulle gemeenskappe kan help om heling te vind:

  •     Neem leiding om hierdie gesprekke te heropen en die gemeente te lei in kollektiewe rouprosesse.
  •     Gebruik eredienste om ’n veilige ruimte te skep vir mense om hulle skuld voor God te bely en sy vergifnis te ontvang.
  •     Benut musiek en liedere wat ontnugtering, rou en hartseer kan oordra.
  •     Benut Bybelboeke soos Klaagliedere en sekere Psalms wat kan help om rou emosies eerlik te verwoord.
  •     Pastorale sorg waar die hele gemeente oop is om “lank en hard” na mekaar se stories te luister.
  •     Herbesoek nagmaal om nuwe maniere te vind wat die verbintenis tussen ons wonde en die wonde van Jesus meer werklik maak.

Meagher se slotvoorstel is dat na nuwe rituele gekyk word waaraan almal in die gemeenskap kan deelneem. Vir sommige mag dit godsdienstige rituele wees en vir ander sal dit iets anders wees.

Die video wat van die aanlyn simposium gemaak is en die geskrewe notas van die hoofsprekers sowel as bykomende literatuur en videos is aanlyn beskikbaar op die webblad van die Oos-Kaapse streeksinode.

*Die getal deelnemers is aangepas nadat die artikel gepubliseer is. Red.

Word 'n vriend van Kerkbode

2 thoughts on “As die kerk nie help met heling van dienspligtrauma nie, wie sal?

  1. Kobus Van den Berg says:

    Ek is n Veteraan. Ek het nie diensplig gedoen nie, maar na matriek in Jan 1978 by die Staandemag van die SAW aangesluit. Ek was 17 Jaar oud.
    Ek was 42 jaar en 3 maande in uniform as infanteris (Mot en Meg) Ek het baie operasioneel ontplooi, ekstern en intern, ter verdediging van my Vaderland Suid-Afrika en het baie aksie beleef en oorlog gemaak. Ek is trots op my en my makkers se bydrae. Ek is ‘n Christen en alle eer en dank aan ons God wat my behoed en bewaar het deur al die jare en gevare. Ek het in 2020 op 60 jarige ouderdom as kolonel afgetree of liewer uitgetree sonder enige skuldgevoel of post-traumatiese stres. Ek sê baie vir my vrou en kinders ek is seker ‘n gebore soldaat en baie gelukkig om ongeskonde met pensioen te gaan! Ek het baie respek vir elke een van die 600 000 dienspligtiges wat as jong seuns ons land moes help verdedig en sommiges steeds letsels daarvan saamdra. Mag almal wat die hoogste prys moes betaal rus in vrede en hulle geliefdes troos en berusting vind.
    Respek. Saluut. BRAVO JULIET VAN DEN BERG

  2. Lt.J.J.Burger says:

    Puik idee?
    Rehabilitasie is oor die hoof gesien! Reggestel moes daar 600 000 kerkbanke gewees het voordat die soldaat die verlatenheid ingestuur is. Met bykans eerstehandse kennis doen Departement Militere Veterane onwillig nasorg soos wat die Wet voorskryf gedoen moet word. Egskeiding, alkoholisme en selfdood sou waarskynlik ieder en elk se lewensmetrum bepaal op nugtere sukses in die “samelewing” …
    Ek weet van EEN soldaat wat Askari ken en Mosambiekse oorlog geveg het; (wat) vandag ly aan postraumatiese stress, biopolar en depressie met rugprobleme gebrandmerk as ‘n alkoholis.
    As bogenoemde nie ‘n resep vir mislukking is nie, moet kapelane my die teendeel op teoretiese sowel praktiese vlak bewys en genees.
    By die kerk stap jy leeg uit.
    Bruin SAKK en Wit soldate het dan saam geveg. Vandag moet daardie soldaat die Weermag en regering smeek om hulp en medikasie!
    Eenvoudig geestelike en sielkundige skade onherstelbaar …
    ‘n Slotvereffening: Daar’s te min herders vir so ‘n projek. Letterlik duisende lé daar buite haweloos met net die klein Bybeltjie in sy hand en al wat hy ken is sy magsnommer…
    My verhaal dominee wil jy liewer nie hoor nie …
    (Brief verkort. Red.)

Comments are closed.