Inkeer en verandering is kos vir span wat met haweloses werk

Loaves and Fishes in die Kaapse voorstad Observatory vier sy 25ste jaar. Le Roux Schoeman het hierdie plek van vernuwing se storie gaan uitvis.

’n Man kry stry met sy vriendin, die woede werk in hom en ’n dwelmlus pak hom beet. Hy kort geld. Hy gaan breek alleen by die kerkgebou in. In die middel van die nag. Ongesiens in Observatory. Hy plunder: musiekinstrumente, luidsprekers, bokse nagmaalwyn en uit die saalkombuis, ’n groot ketel en ’n vleissnymasjien. Na drie die oggend karwei hy als na Soutrivier. Met dagbreek verkoop hy alles. “I smoked drugs for days,” vertel Nathan Kaplan onlangs op ’n rusbank in die sitkamer van die einste dominee wie se gemeente hy twee dekades gelede so besteel het.

Nathan Kaplan oor sy kindertyd: “A lot of violence. My stepfather, that man brutalised me. He would pick me up when I was seven and he would hit me with his head, like this, unconscious. My head used to be like a rugby ball …” Foto: Le Roux Schoeman

Netjies geklee in ’n beige broek, blokkieshemp en plakkies, is Kaplan, dalk meer as die meeste van ons, vele dinge vir vele mense: afgetredene, geesdriftige skaakspeler, kranige kitaarspeler, diaken, misdadiger wat onder meer in dieselfde gevangenis as die bankrower André Stander sy tronkstraf uitgedien het, iemand wat as bendelid en koppelaar (pimp) prostitute se lewens en loopbane in die strate van Brooklyn bestuur het. Iemand wat op nege sy eerste tattoe gekry het en op 10 sy eerste zol gerook het en uiteindelik vir 38 jaar dwelms gebruik het. En iemand wat sedert 2001 “skoon” is. Hy’t selfs ophou rook, vertel Kaplan. “I still smoked tobacco for a while. That held me down. Now I’m anti-tobacco. But I do understand smokers. I move away from them, I don’t tell them, don’t smoke.” Sy aksent en vlot en innemende manier van praat herinner aan die tergmanier waarop David Kramer van die verhoog sou praat tussen sy liedjies wat die eros en patos van plekke soos Voortrekker Street en die suburbs besing.

Kaplan oor sy kindertyd: “A lot of violence. My stepfather, that man brutalised me. He would pick me up when I was seven and he would hit me with his head, like this, unconscious. My head used to be like a rugby ball …”

’n Lewe van geweld en misdaad het gevolg op ’n kindertyd van geweld en misdaad. Die wending het later gekom. Sy liggaam het begin oppak. Sy longe het gelol. “From smoking cocaine, which we called rocks.” Kaplan onthou die dag wat vir hom ’n soort inkeerdatum sou word. Die dag toe hy terneergedruk eenkant staan teen ’n lamppaal in Observatory. Sy oog het ’n plek gevang wat hy dag ’n sopkombuis is. Hy vra toe uit en hoor dis ’n rehab. Vir ’n groot deel van sy lewe wou hy uit plekke kom: tronke en tight spots. Maar hier wou hy in.

’n Plek van vernuwing

’n Lang ry palms versier die sypaadjie voor Loaves and Fishes in Observatory. Die baksteengebou staan al ’n kwarteeu. ’n Rits tydelike strukture oorkant die straat, in Chathamweg, gee met Kerkbode se onlangse besoek ’n ekstra grafiese gesig aan die uitdaging wat binne die mure van hierdie “plek van vernuwing” aangespreek word, naamlik Kaapstad se reuseprobleem met haweloosheid en die ingewikkelde kombinasie van trek- en stootkragte wat mense op straat laat beland en daar hou.

Esterhuyse se fokus is helder. Dat elke mens wat instap op “’n program” is en die geleentheid kry om individueel te ontwikkel en hierdie lewensveranderende pad te stap.

“Ons is geregistreer as ’n tweede fase skuiling vir hawelose volwassenes,” vertel Riana Esterhuyse, die maatskaplike werker wat al nege jaar hier dien. “Die eerste fase is ’n nagskuiling. (Kliënte) kry sop en ’n broodjie en hy is uit … Deur die dag moet hulle uitgaan,” verduidelik Esterhuyse die onderskeid tussen hulle werk hier, wat fokus op haweloses tussen 25 en 63 jaar wat tussen ses een twaalf maande kan inwoon en individuele aandag ontvang. “By die tweede fase shelters kan ouens werk of in programme betrokke wees. Ons ouens betaal … As hy nie self kan betaal nie, help sy borge (kerke, gemeentes),” verduidelik sy. Verblyf kos R1 500 per maand en sluit alles in van bedspasie en etes tot terapeutiese sessies en groepwerk. Kapasiteit is 10 vroue en 30 mans, aldus Esterhuyse (55), maar geld is ’n ewige remskoen vir hierdie laeprofiel donasiegedrewe operasie.

Verblyf by Loaves and Fishes kos R1 500 per maand en sluit alles in van bedspasie en etes tot terapeutiese sessies en groepwerk. Foto: Le Roux Schoeman

By haar in die kantoor sit Alfredo Januarie (26), wat vanjaar as die maatskaplike span se tweede lid aangesluit het. Januarie, oorspronklik van Graafwater, woon tans in Delft en na ’n maatskaplike hulpwerkkwalifikasie deur Hugenote Kollege is hy nou in sy tweede jaar van ’n Maatskaplike Werk-graad deur Unisa. “Ek sê altyd, if change needs to be, it starts with me,” laat hoor hy wanneer ’n mens hom uitvra oor wat hom toerus vir hierdie emosioneel veeleisende werk. “Ek is nog in die leerfase, ek het die teoretiese agtergrond om met drug addicts te werk, maar dit kan challenging wees.”

Esterhuyse se fokus is helder. Dat elke mens wat instap op “’n program” is en die geleentheid kry om individueel te ontwikkel en hierdie lewensveranderende pad te stap.

Individuele terapie, life skills, werk aan sy verslawing, werk aan sy gesondheid.

“Maar ons werk met die ou wat regtig wil verander. Wat regtig sê ek wil my lewe omdraai. Dis ons kriteria, jy moet ’n gewilligheid hê om te verander. ’n Willingness to change. Assessering is deel van ons keuringsproses. Ons praat met hulle referente. Ons vra pertinent: Wil hierdie ou verander? Het hy rock bottom geslaan? En hy moet bereid wees om op te hou met alkohol, dwelms, pornografie, dobbel … Ons help en ondersteun hom,” vertel Esterhuyse.

Oor sy bediening en pad met die NG Kerk vertel dr Ben Kotzé: “Die kerk is nie net eentalig en kom slegs uit een teologiese agtergrondgroep nie. Ons is nou 35 jaar besig met LCAG, Liesbeek Christian Action Group. Uit LCAG het die Loaves and Fishes-projek ontwikkel. Dit was 12 mainline kerke wat gesê het ons moet iets doen vir die behoeftiges en straatmense van hierdie area.” Hier word ’n stiller tyd deur die dag deur ’n inwoner benut om die stel trappe na die slaapkamers te mop. Foto: Le Roux Schoeman

Sy het maatskaplike werk geswot in die 1980’s en by gesinsorgorganisasies gewerk tot sy nie meer kon nie. “Ek het baie gewerk met kindermolestering en ek het uitgebrand,” vertel sy. “Ek dink ek het al die tekens gesien en ek het geweet hoe om dit te vermy, maar dit het nog steeds gebeur.”

’n Breuk van sowat 10 jaar het gevolg (“ek het ander goed gedoen. Corporate training ensovoorts”). Maar haar hele persoonlikheid is mensgerig. Wat het haar laat terugkom? “My absolute behoefte om te werk met destitute mense. Ek het vir die Here gevra ek wil teruggaan in die bedryf maar ek weet nie hoe nie. Ek het die storie van die broodjies en die vissies gelees een oggend in Bybelstudie,” vertel sy. In die teksvers wat vir haar uitgestaan het, vra die Here vir die mense wat hulle het (“Hoeveel brode het julle?”). “En ek het (vir die Here) gesê ek het dit en dit en dit,” onthou Esterhuyse. ’n Uur later het sy ’n oproep gekry van Loaves and Fishes. ’n Vriendin van haar het haar naam ingegee en die uitvoerende beampte, dr Ben Kotzé, het haar gebel en gevra of sy wil aansoek doen vir hierdie pos.

Alles is genade

Kotzé word in Julie 70. Sy pa was ’n dominee in Bellville. Kotzé wou aanvanklik die beroep vermy. Maar ’n roeping het hom gevind, vertel hy. “Ek het nog altyd geglo the need is the call.” Hy sit in die pastorie wat hy oorgekoop het by die gemeente waar hy as NG dominee begin werk het en binnekort sal aftree. Hy is ook reeds dekades verbonde aan VGK Ebenezer in Woodstock. En by Loaves and Fishes, waar hy die span lei. “As daar ’n nood is, dan roep die Here ons,” vertel Kotzé oor die ontstaan van sy drieluikbediening. “Ons het ’n sopkombuis (in Observatory) begin. Ons het net besef, jy kan nie net vir ouens kos gee nie. Jy moet vir hulle onder jou sorg kry. Onder jou dak kry. Jy moet ’n hospitality house oopmaak om te wys daar is iets meer in die lewe. En natuurlik, as jy in iemand belangstel kom dit uit: ‘ja, om die pyn te verdof, drink ek’. ‘Om die pyn te verdof, gebruik ek dwelms’. ‘My pa het my verkrag’. Daai soort van stories hoor jy oor en oor en oor. En ‘niemand wou na my luister nie’,” verduidelik Kotzé op sy rustige manier wat hom stellig ook ’n soort vaderfiguur vir vele by Loaves and Fishes gemaak het. “Ek het nooit maatskaplik gedoen nie, maar ek weet, die Here skrywe reguit op ons krom en skewe lyne,” praat hy verder.

Dr Ben Kotzé, op die toneel.

Hierdie NG dominee wat nooit “vir die galery wou speel” of in kerkpolitiek betrokke wou raak nie, se oë verhelder wanneer hy meteens wil weet of die onderhoudvoerder al ooit Dorothy Day se verhaal gelees het? Day, die charismatiese stigter van die Catholic Worker Movement in Amerika, is een van ’n paar inspirasiebronne vir Kotzé. “Exploring the slums of Chicago was Dorothy’s first experience of finding beauty in the midst of desolation,” lui ’n sin uit Jim Forest se boeiende boek oor haar lewe, getiteld All is grace – A biography of Dorothy Day.

Day was aangetrokke tot gemeenskappe op die kantlyne asook tot mense van ekstreme oortuiging. “Giving is the essence of religious life: giving time and attention, giving prayer, giving possessions and money, giving space in one’s life and home, giving a welcome, giving forgiveness, giving love, even giving one’s life. Don’t save. Don’t store up treasure which moth and rust attack,” is ’n aanhaling deur Peter Maurin wat die jong Day begeester het, leer haar biografie ons.

’n Studie van die werk en lewe van Day, wat in 1980 oorlede is, is “absoluut die moeite werd,” sê hierdie pa van drie en spring op om die biografie uit sy studeerkamer te gaan haal. Rondom hom is varings en huisplante, kunswerke en die klanke van klassieke musiek.

Oor sy bediening en pad met die NG Kerk vertel hy: “Die kerk is nie net eentalig en kom slegs uit een teologiese agtergrondgroep nie. Ons is nou 35 jaar besig met LCAG, Liesbeek Christian Action Group. Uit LCAG het die Loaves and Fishes-projek ontwikkel. Dit was 12 mainline kerke wat gesê het ons moet iets doen vir die behoeftiges en straatmense van hierdie area.”

Daar was vele lesse, onthou Kotzé oor die begindae. “Ons is vanjaar 25 jaar oop. Ons het die plot van die stadsraad gekoop. Ou tannies het R2 bydrae gemaak. Ons het self fondamente gegrawe. Regtig ou mense gehad wat kom help het en steeds die projek steun. Daar’s ’n ou tannie wat nog altyd R100 gee. Sy is 90 jaar oud. Sy dien op die raad. Sy doen haar deel.”

Dr Kotzé en Nathan Kaplan. Dié twee stap ’n pad saam.

Kotzé glo dat mense kan verander. Uit Loaves and Fishes se klein personeelgroep tel twee werknemers wat self uit verslawing losgewoel is. Een is uit die Vloot geskop; die ander uit Bahrein. Vandag is hulle staatmakers wat ander dien.

Sy pad met Nathan Kaplan – die kerkboef – tipeer hierdie geloof in verandering soos g’n ander storie nie. Dekades later onthou Kotzé nog die voorval. “(Kaplan) het tot bekering gekom en kom skuldbelydenis doen by my. En ek het gesê, ‘Boeta, jy’t nie by my gesteel nie, jy’t van die gemeente gesteel. Jy sal maar Sondag vir hulle moet kom vertel.’ En weet jy hy het dit gedoen. Hulle oë was net so groot, dat die ou nou bereid was …” vertel Kotze met ’n glimlag. “En hy’t gevra, gaan julle my vergewe, toe sê die mense ja. En vandag is hy een van ons staatmakerdiakens. En dit is so wonderlik om te weet ons kon so ’n ou help”.

“Ons het ’n sopkombuis (in Observatory) begin. Ons het net besef, jy kan nie net vir ouens kos gee nie. Jy moet vir hulle onder jou sorg kry. Onder jou dak kry.” – Dr Ben Kotzé. By die opwasstasie langs die kombuis pryk die woord: Nederigheid.

Deesdae is Kaplan boonop ook daardie oënskynlik ononderhandelbare “spesie” in die NRO-wêreld: Die impakstorie. Die lewende bewys van sukses. ’n Praktyk waaroor Kotzé, as iets van ’n ewige outsider, self ’n bietjie skepties klink. “Don’t ask us about our success rates, we only have success stories!!!!” lui ’n inskrywing op hulle webwerf se raak-betrokke-blad.

Op die vooraand van Kotzé se aftrede, na al die verandering wat ’n 43 jaar-bediening in ’n Suid-Afrikaanse voorstad meebring, wonder ’n mens oor sy vreugde en frustrasie binne die NG Kerk. Binne ’n gemeente wat beweeg het van oorwegend Afrikaans (Freek Burger, wat die groot skeidsregter daai jare was, was leierdiaken!) met ’n kerkraad van 24 lede en oor die 400 lidmate, tot vandag se gemeente: 40 siele, en ’n volledig geïntegreerde gemeenskap. Hy haal ’n gedig aan om te sê die kerk is sy beste vriend en grootste vyand. “Ek het twee kante aan my, ten minste. Dis wat die ouderdom my geleer het. Ek het my kinders grootgemaak, maar my kleinkinders maak my groot. Hulle laat my met sagter oë sien.”


Lees HIER hoe jy Loaves and Fishes kan ondersteun.

Word 'n vriend van Kerkbode