Toe die vierde deel van die Zondo-verslag op Vrydag 29 April bekend word, was dit amptelik: Daar is onbetwisbare bewyse gelewer dat die regering en die ANC hulle skuldig gemaak het aan uitgebreide korrupsie.
Tot op hierdie Vrydag was dit nog beweringe, of straat- of koerantstories. Maar hier het ’n regter dit nou bevind na afloop van ’n uitgebreide ondersoek. En die bevinding dui aan dat dit nie op ’n klein skaal gedoen is nie, maar omvangryk. Eintlik het ons dit lankal geweet, maar nou staan dit daar geskryf, bevind in ’n regterlike verslag. Die mense wat verkies is om na ons bates en belange om te sien, het ons uitgebuit.
LEES OOK | Verstaan die Bybel: Bybelse vloed gee moed
Die astronomiese bedrae geld wat verkwis is en spandeer moes word aan die opbou van die infrastruktuur van die land, die ontwikkeling van die ekonomie en die welsyn van die burgers van die staat, dui op diepgaande morele verrotting in die geledere van die regering en die regerende party.
Dat die parlement ook sy morele gesag verloor het, was maar net die logiese uitkoms nadat soveel mense as gevolg van skelmstreke gekompromiteer was. Hoofregter Zondo se verslag laat ook dan geen twyfel nie dat die parlement ernstig gefaal het om sy toesighoudende verantwoordelikhede na te kom.
Oor die gemeenheid en eerlose onderduimsheid waarmee die stroping van die staat se bates plaasgevind het, sou ’n mens lank kon uitwy. Die ongebreidelde arrogansie waarmee politici en amptenare hulleself en ander verryk het ten koste van die armstes van Suid-Afrika en vir so lank daarmee weggekom het, is nog ’n skandvlek op die geskiedenis van ons nasie. Dat daar op die hoogste politieke vlak in Suid-Afrika met bedenklike strategiese visie verseker is dat die vervolgingsgesag ontmagtig is, die veiligheidsdienste ontkrag is en die toesighouers se monde gesnoer is, bewys dat bedrog sistemiese afmetings aangeneem het en meer en meer mense begin insuig het in ’n morele moeras.
Uiteindelik was dit die weerstand vanuit die burgerlike samelewing wat die alarms laat afgaan het en die regering, staatsdiens, parlement en die regerende party tot verantwoording geroep het.
LEES OOK: In pas met die (lewende) God : Daaglikse brood
Bedrewe joernaliste het met die een publikasie na die ander die bedrog oopgevlek. Uit hierdie verhale tree daar gelukkig ook ’n aantal eerbare helde uit die amptenary en politieke geledere na vore. Daar was inderdaad manne en vroue wat hulle persoonlike welstand en dié van hulle families op die spel geplaas het in verset teen die ontspoorde magte en kragte waarteen hulle moes opstaan. Daar het ook leiers na vore getree wat sterk weerstand gebied het en die waarheid erken en ontbloot het. Vryheid van spraak, ’n hoeksteen van ons demokrasie, het die ontbloting van duisende leuens moontlik gemaak.
Die onbehoorlike regering in ons land behoort elke Bybelleser te herinner aan die tyd voor die ballingskap in die geskiedenis van Israel en Juda in die Ou Testament. Het die profete van destyds dit dan nie juis teen die ekonomiese gevolge van die uitbuiting van armes, weduwees en vreemdelinge gehad nie? Was die vals weegskale en mates waarmee gemeet is dan nie lynreg in stryd met die oeroue waardesisteem van die volk van God nie? En het die profete van destyds dan nie hulle lewe gewaag om as God se rigtinggewers op te staan teen onreg in die land nie?
Daar is in die geskiedenis van ons land hartseer voorbeelde van onkritiese solidariteit tussen die kerk en die staat. Te midde van groot magsmisbruik was die kerk se profetiese stem by te veel geleenthede stil. Gelukkig het die ekumeniese kerk dikwels wel ernstig protes aangeteken teen magsvergrype. Die SA Raad van Kerke het so tydens apartheid en die afgelope jare in die korrupsietyd ernstige morele weerstand gebied teen regeringslui en amptenare wat die staatskoffers geplunder het.
LEES OOK | Sosiale media: Word vrees en bedreigings aangeblaas?
Die NG Kerk was deel van hierdie gesamentlike protesstem wat gewaarsku het, gepleit het, weerstand gebied het, morele advies gegee het en opgestaan het teen die tirannie van korrupsie. Dat ook hierdie protes dikwels soos ’n stem roepende in die woestyn was, is nie te betwyfel nie. Dat daar ook geleenthede was waar die kerk sentrale protesfigure staande help hou het, lyk ook nou na ’n klein bydrae teen die omvang van korrupsie.
Wat ook al die gewig van die kerk se bydrae in die nasionale verset was, nou is die tyd om daaraan verdere momentum te gee. Korrupsie gaan nie sommer verdwyn nie.
Magshonger word nie sommer net gestil nie. Die feit dat president Cyril Rhamaphosa en die vervolgingsgesag en die beleidmakers die regte stappe doen en die regte geluide maak, gaan nie die gesteel en uitbuiting beëindig nie. Korrupsie gaan nie deur meer polisielede en meer wette en selfs nie deur suksesvolle vervolgings beëindig word nie. Die siel van die nasie moet genees. Ons het ’n nasionale bekering nodig. Ons het ’n nuwe kultuur nodig, nuwe gewoontes wat van diefstal en bedrog ’n bose vyand maak.
In ons skole en kerke, trouens in elke plek van opvoeding, sal waarheid en eerbaarheid verkondig en ingeoefen moet word. ’n Heilige onverdraagsaamheid teen diefstal en oneerlikheid sal bevorder moet word, selfs teen die oënskynlik onskuldigste vorme daarvan. Lede van die polisiediens sal weer simbole van selfrespek en integriteit moet word. Leiers sal hierdie hergevonde waardes moet modelleer en regeringsinstellings sal nuwe bedelings sonder bedrog moet ontwerp en bedryf. Gelowiges in regerings sal moet, onderwysers en verpleegkundiges sal moet. Die gewone mense van die land sal moet. Elkeen sal moet vra: Watter bydrae kan ek maak om eerlikheid te bevorder? Elkeen sal moet bepaal hoe hy of sy hulle stem kan gebruik teen korrupsie, Want só, soos nou, kan dit nie aangaan nie.
- Ds Nelis Janse van Rensburg is predikant van die NG Gemeente Welgemoed en voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.
Die siel van die NG Kerk moet ook gesond word. Hopelik sal daar leiers, joernaliste en mense uit die kerklike/burgerlike samelewing opstaan wat die stryd teen die Christelik-etiese verval en magshonger van te veel mense in die NG Kerk sal lei. Sterkte.