Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dit het te maklik geword om liefdeloos te wees, sê ek byna elke dag vir myself. - Dana Snyman

Sosiale media: Word vrees en bedreigings aangeblaas?

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Word in die oggend wakker. Tel selfoon van die bedkassie af op en kyk of iemand nie in die nag gebel of ’n WhatsApp-boodskap gestuur het nie. Loer gou op Netwerk24 wat is die hoofnuus op die oomblik. Kyk dan wat op Facebook aangaan.

Baie van my dae begin só, en eindig wanneer ek weer my selfoon op my bedkassie neersit. WhatsApp. Facebook. Netwerk24. Van Twitter het ek my gespeen.

LEES OOK: Bring my woorde warmte? 

Dit is verslawend. Soms betrap ek myself dat ek vir ’n lang ruk Facebook-plasing ná Facebook-plasing oor my foon se skermpie laat rol en rol. Hierdie een se kind verjaar, daardie een poseer by ’n nuwe motor, ’n ander ou gaan galaf oor die diens wat hy by hierdie of daardie winkel gekry het … Zombie-agtig sit ek daarna en staar, sonder dat ek mooi weet hoekom ek dit doen.

En die sterftes. Een van jou Facebook-vriende se man is oorlede. Sy vertel hoe gelukkig hulle huwelik was, hoe ’n goeie pa hy vir hulle kinders was en van sy swaar stryd teen kanker. Daar sit hy op die hospitaalbed, uitgeteer. Die ander foto is 43 jaar tevore op Durban se strand op hulle wittebrood geneem. Jy laat gly jou oë oor haar plasing, skaars 20 sekondes later kliek jy met jou pyltjie op die omgee-ikoontjie. Asof jou omgee vir die vrou, o, so eg is. Julle is wel Facebook-vriende, maar jy ken haar van g’n kant af nie. Het haar oorlede man ook nie geken nie.

Dit pla my, maar ek sukkel om op te hou. Ek het wel besluit om nie meer in enige debatte of in ’n getwis op Facebook of op mediagroepe se webwerwe betrokke te raak nie. Maar soms stel ek myself teleur.

Meestal is dit oor dieselfde onderwerpe of ’n variasie daarvan wat geredekawel word: die politiek, die agteruitgang in die land, die Covid-pandemie en twispunte rondom ras- en gay- en gendersake. En dikwels word godsdiens daarby ingesleep.

LEES OOK: Grondhervorming | ‘Ons dra almal iemand se wonderwerk in ons’

Op Netwerk24 sal, sê maar, ’n berig wees oor die vyfde Covid-vlaag wat die land getref het. Gou sal een daarop reageer. “Gelukkig het ek pas my tweede inspuiting gehad,” sal een dalk in die kommentaarkolom skryf. ’n Ander een sal dalk daarop reageer: “Covid is net griep. Besef jy dit nie.”

En dan kom dit van nóg een, ’n vrou. “Ek sal ni die jab vat ni. Gaan lees Openbaring 13 ek sal nooit my Here verraai ni wat my elke dag genade skenk ek vrees ni ek vrees God.”

Wat sê ’n mens vir die vrou? Behoort ’n mens iets te sê? Of is sy dalk reg?

Of ’n predikant plaas ’n foto op sy Facebook-blad waarop hy iemand se baba doop. Nie lank nie, toe is daar ’n debat oor groot- of kleindoop. “Bekeer jou laat jou doop en jy sal gered word en jy en jou huis gesin sal gered word. Lees Rom 6 geen baba kan aan die eise van doop voldoen nie.” Daarop reageer ’n ander een: “Ek dank die Here dat ek opgevoed is in die Gereformeerde leer.”

By ’n berig oor ’n transgender-kind sal iemand verklaar: “God het jou as man of vrou geskape nie as jy ’n man of vrou wil wees nie dit kom van die duiwel af.” En dan brand die vuur. Gou sal een terugkap: “Bid net dat jy nie so ’n kind kry nie.” Ensovoorts. Ensovoorts.

LEES OOK: Nadia Marais | Die geskenk van verwondering

Ek het al gewonder of ek myself net ’n gelowige moet noem, eerder as ’n Christen. Maar dan kraai ’n duisend hoenderhane in my gemoed, ek is lief vir Jesus en die verhale rondom hom en die Kerk is in die wêreld nodig.

Uiteraard behoort ’n Christen standpunt in te neem oor belangrike sake, maar ek voel afgesny van party Christene wat nie respek het vir die wetenskap se ontdekkings en uitvindings nie en wat oor God praat asof Hy ’n mens is wie se diepste wense en gedagtes hulle ken – ’n God wat byna altyd hulle eie standpunt ondersteun. En altyd is daar ’n Bybelvers wat dit bekragtig.

Dit is nie ’n nuwe ding nie. Vir ’n leeftyd het baie van ons van tyd tot tyd oor fundamentele dinge in ons huis of by die kerk of waar ookal geredekawel. Jy het die een van wie jy verskil in die oë gekyk terwyl julle sit en kwaad word vir mekaar. Maar ná die tyd het jy meestal daardie een se hand geskud, al was dit soms teësinnig.

Nou kan jy op ’n weeksoggend vóór ontbyt met iemand stry oor gaywees terwyl jy nog in jou nagklere in jou bed sit. Jy kan die ander een beledig en veroordeel en niks sal gebeur nie. Geen hand wat jy ná alles hoef te skud nie. Rol net na ’n volgende Facebook-plasing toe.

My foon word al hoe meer ’n bedreiging vir my kontak met die werklikheid: die mense rondom my en dié wat ek ken, die natuur, die aarde.

Elke keer wanneer ek die omgee-ikoontjie laat verskyn by iemand wat ek nie ken nie se verdrietige Facebook-plasing, wonder ek oor myself. As iemand oorlede is wat ek nie geken het nie, gaan ek deesdae eers na die persoon se Facebook-blad. Kyk, hier staan hy op Loftus in sy Blou Bul-ondersteunerstrui. Hier het hy ’n mooi sonsondergang buite Witbank afgeneem.

Dikwels gaan kyk ek ook na iemand van wie ek oor iets verskil se blad. Die vrou wat pas verklaar het God is haar Covid-inenting bak die mooiste troukoek. Kyk hoe lief is sy vir haar kleinkinders. Hier help sy kos by ’n sopkombuis uitdeel.

Dit het te maklik geword om liefdeloos te wees, sê ek byna elke dag vir myself.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Sosiale media: Word vrees en bedreigings aangeblaas?”

  1. Chris Brits

    Die hartseer deel is, die tegnologie het ons apaties gemaak, afgestomp, ietwat koud, onsimpatiek , onmenslik en vreemd vir mekaar, maar gemaklik en gerieflik. En ons stadig maar seker slawe gemaak in ‘n web vasgespin. Ons selfone het soos ‘n ysterlong geraak waarsonder niemand meer gewoonweg kan asemhaal of funksioneer nie. Ons lewe soos robotte, sentreer en speel af op ‘n klein 7 cm x15 cm skermpie wat ons werklikheid geraak het.

  2. A really excellent well written article about a serious modern day problem which I fear will get worse and worse.

  3. Jacques Pieterse

    Dana…dis waar…ons kan dit nie stop nie. Man cannot live on bread alone. 😣

Comments are closed.

Scroll to Top