Die geskenk van verwondering

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In die fliek Gifted (2017), wat handel oor die hoogs begaafde sewejarige Mary Adler, vra sy haar oom Frank – wat na haar omsien, en wat in sy vroeëre lewe ’n filosofieprofessor was – na sy siening oor Jesus. Is Jesus God? Hy antwoord haar deur te sê dat hy ’n mening het, maar dat hy verkeerd mag wees. Sy raad aan haar is dat sy altyd vir haarself moet dink, maar terselfdertyd ook nie bang moet wees om te glo nie.

Frank se raad aan Mary is raad wat binne die gereformeerde tradisie – wat oor die wêreld heen ’n reputasie as ’n denkende tradisie, as ’n tradisie wat teologiese navorsing en akademiese deeglikheid hoog op prys stel, ontvang het – ge-eggo word. ’n Vraende, ondersoekende – selfs worstelende! – houding is juis ’n uitdrukking van geloof, argumenteer (byvoorbeeld) die gereformeerde teoloog van Princeton, Daniel Migliore.

LEES OOK: Nuwe afdeling vir teologiese studente

Ondersoekende geloof, ’n geloof wat altyd op soek is na begrip of verstaan, is die teenpool van wat hy noem fideïsme. Fideïsme is daardie verstaan van geloof wat slegs antwoorde (kan) bied, en niks meer nie; ’n geloof sonder vrae, sonder verwondering, sonder nederigheid, sonder ‘soul’. Dit herinner aan die bekende gesegde: “Hulle wat min weet, en selde dink, betwyfel niks nie.”

In sy dogmatiek, Faith seeking understanding (2014), beroep Migliore hom op teoloë soos die kerkvader Augustinus en die Duitse teoloog Karl Barth, maar dit is in die besonder die twaalfde eeuse Katolieke teoloog, Anselmus, by wie Migliore hierdie begrip van geloof (fides quarens intellectum) leen.

Hiermee maak Migliore ’n belangrike punt: dat ’n ondersoekende, vraende ingesteldheid jeens die teologie nie ’n moderne, sogenaamd ‘liberale’ aanpak is nie; maar juis ingebed in die DNS van die Christelike geloofstradisie. Deur hom te beroep op die teoloog en kerkleier Anselmus, is die punt heel duidelik dat teologiese ondersoek lank vóór die moderne tyd, die Verligting, of selfs die Reformasie reeds aankom.

LEES OOK: Teologiese opleiding: Besorgdes wil dosente uitvra en daarna inligting deel

Maar juis ook in en met die Reformasie, sou geykte antwoorde en netjies uitgewerkte analises van Godswil en Godsweë in die spervuur kom.

Dink aan Martin Luther, wat as ’n jong man in ’n donderstorm vasgevang sou word en in daardie oomblik sou besluit om teologie te studeer; maar wat later ontnugter sou voel oor die kerk, en selfs as ’n teologiedosent hom nie kon tuisvind binne die skolastieke teologie van sy dag nie. Vir Luther is geloof ’n geskenk van God, en die teologie gebore uit ondersoek en verwondering.

Dink aan Johannes Calvyn, die predikant in ’n vlugtelinggemeente, wat hom oor die sterre in die hemelruim sou verwonder, en vir wie daardie ervaring van grootsheid – om op te kyk na die sterre, en te besef hoe klein ons is – soveel ’n bron van Godservaring kon wees as om die Bybel te lees. Calvyn sou sterrekykery as ‘die alfabet van die teologie’ beskryf.

Om vrae te vra, te dink, en te worstel met die implikasies van geloof is dus hoegenaamd nie uniek tot ons of ons (moderne) tyd nie. Ons is nie spesiaal nie; want ondersoek, kritiese refleksie, en die aanhoor van verskillende perspektiewe oor geloof, God, en die kerk is nie ’n nuwe ding nie.

LEES OOK: Ses redes waarom jou jong dominee dalk wil skuif … en wat jy kan doen dat dit nie gebeur nie

In sy boek To understand God truly (1992), skryf die gereformeerde teoloog van Yale, David Kelsey, oor wat teologies is aan ’n teologiese skool. Hy oorweeg verskillende opsies (en is veral gekant teen ’n eenogige beskouing van ’n teologiese skool as ’n plek waar kerkleiers opgelei word, omdat dit na sy mening die teologie verdraai en uiteindelik verwoes), maar kies uiteindelik vir die beskrywing dat ’n teologiese skool ’n groep mense is wat God beter – ‘more truly’ – probeer verstaan.

Maar indien ons onsself besig sou hou met vrae, indien ons vir onsself sou dink, en indien maklike, oppervlakkige antwoorde vir ons min sou bied, is ons ook in die goeie geselskap van talle Bybelse figure – soos Job en Jeremia en Jona, Tomas en Petrus, die Etiopiese eunug en die Samaritaanse vrou – wat deur hulle vrae en worsteling God ‘more truly’ wou verstaan.

’n Teologiese skool is so ’n geselskap; ’n ruimte waarin vrae, ondersoek en verskillende perspektiewe ontvang en bespreek kan en moet word. Dit is nie ’n plek vir maklike antwoorde en denksisteme nie.

Dit beteken dat ’n teologiese skool as sulks geen enkele standpunt of mening het – soos wat ’n sinode of ’n kerkraad ’n mening kan hê – oor byvoorbeeld selfdegeslagverhoudings of reproduktiewe gesondheid nie. Dit beteken egter ook dat dit nie die taak van teoloë – selfs kerklike teoloë – is om ’n kerk se standpunte te doseer nie.

Veel eerder is dit die geskenk van verwondering – die geskenk om te mág wonder – wat aan die hart van die teologie lê. En daarmee saam geseënd is die nuuskieriges en leergieriges, want vir hulle sal die teologie nooit ophou om ’n bron van verryking, verdieping, en verwondering te wees nie.

  • Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is as predikant gekoppel aan Stellenbosch-Welgelegen.

2 thoughts on “Die geskenk van verwondering

  1. Stefaan de Jager says:

    As oom Frank werklik vir Jesus ontmoet het, sou hy helder en duidelik vir Mary gesê het dat Jesus God en Here is. Hyself is onseker en nou gee hy `n filosofiese antwoord wat nog kant nog wal raak.

    As Mary vir Thomas sou vra of Jesus God is, sou hy waarskynlik kon antwoord: “My kind, ek het ook getwyfel of Jesus God is, maar toe ek die gate in sy hande sien kon ek maar net met verwondering uitroep: My Here en my God!” Thomas sou daarna dalk nog oor baie dinge in sy lewe onseker kon wees, maar nie oor Jesus wat God is nie.

    Ons sal duidelik moet onderskei tussen wonder en verwonder. Oom Frank twyfel self of Jesus God is en hierdie twyfel moet nie met verwondering verwar word nie. Thomas was seker dat Jesus sy Here en sy God was, wat beteken dat hy nie meer oor Jesus gewonder het nie, maar hom oor Jesus verwonder het.

    Laat die wêreld maar wonder of Jesus God is, die kerk van die Here sal hom in aanbidding daaroor ver-wonder. Die teologie kan nooit `n bron van verryking, verdieping en verwondering wees as daar oor die Godheid van Jesus getwyfel word nie. Johannes verwoord dit so: “Hierdie brief skryf ek aan julle sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo (1 Joh 5:13).”

  2. chris saayman says:

    Kernleerstukke – waaroor die kerk van alle eeue rotsvaste sekerheid vanuit die Skrif gehad het – soos die Godheid van Christus – is nou sake waaroor daar gewonder mag word in twyfel en onsekerheid. Ons moenie te gou wees om vanuit die Skrif sekerheid te wil hê nie. Dit is veel vromer en nederiger om liewer aan te hou wonder en ander in dieselfde valstrik te lei. Vir die kerk was die Godheid van Christus nog altyd ‘n saak van fundamentele sekerheid – soveel so dat dit in belydenisskrifte bely word – onder andere NGB Art 10. Dit is opvallend dat Dr Marais geen poging aanwend om die Skrif te raadpleeg nie. Sou sy haar skrywe gevul het met Skrifgetuienis, sou die vraagteken in ‘n uitroepteken verander het. Maar helaas gebeur dit nie. En voornemende NG leraars moet onder haar onderrig toegerus word vir die bediening?

Comments are closed.