Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

In 2019 het die Taakspan Navorsing ’n omvattende vraelys aan NG dominees onder 40 jaar gestuur. “Ons wou toets of die aannames rondom jong dominees korrek is,” sê dr Cobus van Wyngaard, ’n dosent by Unisa wat as predikant aan die NG gemeente Pretoria gekoppel is en ook dien op die Taakspan Navorsing.

Ses redes waarom jou jong dominee dalk wil skuif … en wat jy kan doen dat dit nie gebeur nie


Die uitdaging rondom jonger dominees wat ’n skuif na ’n ander gemeente oorweeg, het ’n plaaslike dinamika, maar is ook gekoppel aan internasionale tendense in ander beroepe, skryf Gerrit Visser. Hy bekyk die navorsing en waag ’n paar wenke.

Loopbaangeleenthede is oraloor op die internet gewilde leesstof en ook by www.kerkbode.co.za is Vakatures, waar NG gemeentes poste adverteer, die mees gewilde afdeling, volgens Le Roux Schoeman, Kerkbode-redakteur.

Die vraag oor waarom jong dominees wil skuif, is nie net deel van die NG Kerk nie. Pastoor Daniël Prinsloo van Upside Down Church in Roodepoort het op Facebook genoem dat jong pastore nie langer as ses jaar in ’n gemeente wil bly nie.

Is jong dominees bloot net ontevrede, of is daar ’n ander verklaring?

In 2019 het die Taakspan Navorsing ’n omvattende vraelys aan NG dominees onder 40 jaar gestuur. “Ons wou toets of die aannames rondom jong dominees korrek is,” sê dr Cobus van Wyngaard, ’n dosent by Unisa wat as predikant aan die NG gemeente Pretoria gekoppel is en ook dien op die Taakspan Navorsing.

Van Wyngaard en ’n aantal van sy kollegas was mede-aanbieders van ’n Slypskool vir skrywers wat van 1-3 Junie 2021 in samewerking met Kerkbode op Wellington aangebied is met die doel om die insigte uit navorsing soos dié wyer bekend te maak.

LEES OOK: Marileen Steyn gesels met Cobus van Wyngaard

Een van die vrae in die peiling was waarom jong dominees aansoek doen vir ander poste. Die studie het gevra dat drie bepalende faktore gegee word. Meer as 70% van die 150 respondente het drie faktore by hierdie vraag gelys. Jong dominees wil dus gehoor word oor hierdie saak.

Die antwoorde wys op ses onderliggende temas wat lei tot waarom jou jong dominee moontlik ’n skuif wil maak.

  1. Roeping: Meer as 35% van respondente het hierdie as hulle eerste antwoord gegee. Antwoorde soos “roepingsbewussyn”, maar ook “gemeente se kultuur” of “missionaliteit” wys daarop.

Van die antwoorde het te make gehad met die posbeskrywing wat aantreklik lyk, of “met my praat”. Dit kan ook gekoppel word aan die respondent wat ’n sterk emosionele konneksie met die gemeente voel, wat aansluit by roeping.

Een Facebook-skrywer het die vraag so beantwoord: “of ons bymekaar pas”.

Wenk: Jong dominees wil graag die koninkryk en kerk so goed as moontlik dien, en vra dus gereeld vrae oor hulle roeping. Maak seker jou gemeente skep ’n kultuur dat die jong dominee gereeld kan nadink daaroor sonder om bekommerd te wees oor die toekoms.

  1. Geld / Kontrak: Die soeke na ’n ander betrekking kan help om beter vergoed te word. Verdere navorsing wys dat al minder dominees in onbepaalde poste aangestel word. Jong dominees soek finansiële sekuriteit, en dit word verseker deur ’n onbepaalde pos eerder as ’n kontrakpos.

Wenk: Skep ’n kultuur waar jong dominees verstaan hoe dit gaan met die gemeente se finansies, maar help ook om in spanverband planne te maak vir die gemeente se finansiële voortbestaan. Lidmate se finansiële bydraes mag nie gesien word as resultaat van die jong dominee wat nie hulle werk “goed genoeg” doen nie. Daardie konneksie kan jong dominees verhoed om hulle roeping uit te leef.

  1. Kollegas / Spanne: ’n Soeke na ’n ander span kollegas, of dalk onbevredigende kollega-wees in die gemeente waar die respondent tans is, kan lei tot hierdie rede, maar jong dominees soek soms ’n kollega om hulle aan te vul met dele van hulle eie bediening waarmee hulle sukkel.

Wenk: Fokus op spanwerk as ’n manier om die gemeente se eenheid te versterk. Soos een ouer dominee gesê het: “Ons grootste geskenk as kollegas aan die gemeente is om vir mekaar om te gee”. Gesels met jou jong dominee oor leemtes in sy eie bediening, en hoe dit verbeter kan word. Dit kan die soeke na ’n kollega verminder. Een Facebook skrywer het gesê dat ringe hierdie behoefte kan vervul, maar dat daar nie altyd die politieke wil is nie. Moet dus nie aanneem as kerkraad dat jou jong dominee ondersteun word deur die ring waarbinne die gemeente val nie.

  1. Geleenthede: Dit sluit dominees in wat soek na ’n beter geleentheid, maar ook dominees wat getroud is wie se eggenoot ’n betrekking in ’n ander stad of dorp aanvaar, en wat dan moet skuif. Dit kan ook gaan oor geleenthede vir hulle kinders.

Wenk: Gesels met jou jong dominee oor of die gemeente se konteks voldoen aan hulle hele gesin se geleenthede, en maak planne om te help om die behoefte daarna te bevredig.

  1. Demografiese veranderinge: Hier is ’n onderliggende vrees dat jong dominees nie opgewasse is teenoor hoe die demografie van die gemeenskap verander nie, en daarom ’n skuif na ’n ander gemeente oorweeg. ’n Deel van die navorsing wys dat respondente vra “sal ek in die gemeenskap inpas” en ook “volhoubaarheid in die gemeente”.

Wenk: Wees eerlik met jou jong dominee. Praat oor hoe die demografie verander, en kyk na maniere om hulle te bemagtig om dit moontlik aan te spreek.

  1. Familie / Gesin: Respondente het genoem dat hulle bereid is om te skuif ter wille van beter gesinstyd. Die een respondent het dit beskryf as “werk-familie-balans”.

Wenk: Jong dominees wat wil skuif as gevolg van ’n beter balans tussen werk en gesin, sukkel dalk met grense. Herinner jou jong dominee om genoeg verlof te neem, en doen gereelde besoeke om seker te maak dat daardie balans gehandhaaf word.

LEES OOK: Teologiese opleiding: Gesprek tussen dominee en voorsitter van algemene kuratorium

Beter samewerking tussen jong dominees, kerkrade en leierskapstrukture kan ’n kultuur van omgee en doeltreffendheid skep, eerder as ’n kultuur waar jong dominees konstant wonder of hulle nog moet dien in hulle onderskeie gemeentes.

  • Ds Gerrit Visser is leraar by NG gemeente Horison aan die Wes-Rand en was een van die 2021 Slypskoolgangers.

    Hierdie artikel is gelewer as deel van ’n Slypskool vir skrywers wat van 1-3 Junie 2021 in samewerking met Kerkbode op Wellington aangebied is.

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.